Sonder ‘n behoorlike motivering deur ‘n aansoeker reik die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie meer ‘n lisensie vir ‘n vuurwapen uit nie. Selfs dokumentêre bewyse mag nodig wees.

Onvolledige motiverings op aansoekvorms is verreweg die grootste rede vir die afkeur van vuurwapenlisensies kragtens die nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000).

‘n Ingeligte sê dit is byvoorbeeld onvoldoende vir ‘n boer om bloot te sê hy het ‘n vuurwapen vir selfverdediging op sy plaas nodig. Hy moet oor die behoefte uitbrei en byvoorbeeld aandui hoe ver hy van die naaste bure of polisiekantoor is, of hy gereeld groot bedrae geld aan lone op sy plaas uitdeel en wat die misdaadsyfer in die gebied is.

Aansoekers om jaggeweerlisensies moet byvoorbeeld aandui hoe gereeld, waar en wat gejag word.

Aansoekers behoort ook nie van polisie-beamptes te verwag om hulle met die skryf van motiverings by te staan nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is veronderstel om objektief te bly en nie by ‘n aansoek betrokke te raak nie, sê die ingeligte.

Lisensie-aansoeke moet in verskillende kategorieë gedoen word, verduidelik mnr. Frik Jordaan, ‘n Bloemfonteinse kenner van die nuwe wetgewing.

Die kategorieë is die volgende:

  • Vir selfverdediging: Die behoefte aan ‘n vuurwapen vir selfverdediging moet op die lisensie-aansoekvorm aangedui en bewys word, asook bewyse dat ‘n alternatiewe metode van selfverdediging (sonder ‘n vuurwapen) nie voldoende is nie. Een handwapen of haelgeweer, wat nie semi-outomaties is nie, mag hiervoor gelisensieer word. Dié lisensie moet ná vyf jaar hernu word. As die aansoeker kan bewys dat ‘n handwapen of haelgeweer nie voldoende vir selfverdediging is nie, kan hy ook om ‘n lisensie vir ‘n beperkte tipe wapen (‘n semi-outomatiese wapen) aansoek doen. Só ‘n lisensie geld net vir twee jaar.
  • Vir geleentheidsjag of sportskiet: Altesame vier vuurwapens, bestaande uit hoogstens een handwapen, asook gewere of haelgewere (nie semi- of ten volle outomaties nie), kan hiervoor gelisensieer word. Dit is mits die lisensiehouer die behoefte en gebruik daarvan kan bewys.
  • Vir toegewyde jagters of sportskiet: Die aansoeker kan om meer wapenlisensies as die normaalweg toegelate vier (vir enigeen sonder toegewyde status) aansoek doen. Hy moet egter lid wees van ‘n vereniging wat kragtens die nuwe wet geakkrediteer is. Dié vereniging moet opleiding in die vorm van ‘n bekwaamheidskursus aanbied en ‘n metode hê waarvolgens toegewyde status aan aktiewe lede toegeken word. (Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging én die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa), tel onder die geakkrediteerdes. Talle sportskietverenigings is ook reeds geakkrediteer.)
  • Vir private versamelings: Die lisensiehouer moet lid van ‘n geakkrediteerde versame-laarsvereniging wees. Dié vereniging moet prosedures hê om te verseker dat net bona fide-versamelaars meer as die normaalweg toegelate getal wapens besit.

    Lede van die vereniging met toegewyde status kan dit slegs behou solank hulle aktiewe en deelnemende lede bly. Alle lisensies in die laaste drie kategorieë is vir tien jaar geldig.

    Nog ‘n belangrike aspek van die nuwe regulasies is dat enigeen wat ‘n vuurwapen dra, deesdae ook die lisensie dadelik op versoek moet kan wys. (Vroeër was die reël dat die persoon die lisensie binne sewe dae by ‘n polisiekantoor moes gaan wys.) As die lisensiehouer nie die lisensie dadelik kan wys nie, kan die polisie-amptenaar nou sonder ‘n hofbevel op die wapen beslag lê. As die lisensiehouer nie binne sewe dae sy lisensie by ‘n polisiekantoor gaan wys nie, mag die wapen verbeurd verklaar of selfs vernietig word.

    Voorts maak die nuwe wet daarvoor voorsiening dat die Registrateur van Vuurwapens, en nie net ‘n hof nie, ‘n lisensiehouer op grond van ‘n beëdigde verklaring onbevoeg kan verklaar. Dit kan byvoorbeeld gebeur as ‘n finale beskermingsbevel kragtens die Wet op Huweliksgeweld teen die lisensiehouer toegestaan is, as hy gedreig het om homself of ander te beseer, ‘n neiging tot geweld toon, van alkohol of ander narkotiese middels afhanklik is, versuim om sy wapen volgens voorskrif op te berg, of vuurwapens hanteer terwyl hy onder die invloed van drank is.

    Só ‘n lisensiehouer mag by die Vuurwapen-appèlraad beswaar aanteken, of vra dat sy saak na ‘n hof verwys word.

    ‘n Lisensiehouer mag iemand anders met sy vuurwapen laat skiet mits dit in sy onmiddelike teenwoordigheid en onder direkte toesig plaasvind.

    Sodra ‘n lisensie teruggetrek word, of verstryk het en nie hernu is nie, moet die wapen binne 60 dae deur ‘n handelaar verkoop word, of aan die SAPD oorhandig word.

    Beskadigde of verlore lisensies moet binne 24 uur by die naaste polisiekantoor aangemeld word. Die lisensiehouer moet binne sewe dae om ‘n afskrif aansoek doen.

    Niemand mag ammunisie besit as hy nie ‘n lisensie vir die bepaalde kaliber vuurwapen het nie. Ammunisieversamelaars moet ook lede van geakkrediteerde verenigings wees en aansoek doen om as sulks geregistreer te word.

    Benewens toegewyde jagters en sportskuts, mag niemand meer as 200 patrone per lisensie besit nie. ‘n Lisensiehouer mag net vir sy eie wapen herlaai, maar nie meer as 2 400 slagdoppies per lisensie in sy besit hê nie. Toegewyde jagters en sportskuts kan toestemming kry om meer ammunisie te besit.

    Navrae: Bel die SAPD se aangewese vuurwapenbeampte in jou gebied; die 24-uur-hulplyn by tel. 012 353 6111; of mnr. Frik Jordaan by tel. 051 430 7472 of sel 082 939 5805. Sy e-posadres is frikjor@telkomsa.co.za. Jordaan is ‘n geakkrediteerde opleier, assessor en moderator.

    4 Maart 2005


  • Lewer Kommentaar

    Slegs in Afrikaans

    Los 'n antwoord

    Alle velde moet ingevul word.