Ná sowat 25 jaar se onderhandelinge tussen Suid-Afrika en Japan oor die uitvoer van tafeldruiwe na dié land, is die aankoms van die eerste vraghouer Barlinka-druiwe onlangs gevier.

Luidens ‘n verklaring het afgevaardigdes van Mooigezicht-landgoed en Freshworld-vrugte-uitvoere die Japanse konsulaat Woensdag (22 Junie) besoek om dié geleentheid te vier.

Tydens die besoek het die landgoed ook van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n bedrag van $10 000 van die inkomste wat uit die verskeping gemaak is, aan die Japanse ramphulpfonds te skenk. Mnr. Yumiko Fujiwara, verteenwoordiger vir die Japanse konsulaat, sê hulle is baie dankbaar vir dié gebaar.

“In Japan het die feit dat ‘n span van meer as 20 Suid-Afrikaanse brandweermanne gestuur is om die Japanese mense te help, hoofopskrifte gemaak en hierdie skenking is ‘n verdere teken van die omgee van Suid-Afrikaanse mense.”

Lees hier hoe mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, Japanse boere ná die aardbewing bemoedig het – in Japannees.

Ander variëteite
Volgens die verklaring is die Barlinka-variëteit uitgevoer, aangesien dít die druif van keuse was toe die onderhandelingsproses begin het. Dit word tans oorskadu deur verskeie nuwe variëteite en baie min produsente plant dit nog aan.

Freshworld sê hulle hoop die eerste verskeping van dié druiwe sal Suid-Afrika wyer toegang tot die Japanse mark bied.

Streng proses
Luidens die verklaring is aanvanklik aangeneem dat weens die lae produksie van die Barlinka en aardbewing in Maart die jaar in Japan, geen druiwe dié seisoen uitgevoer sou word nie.

Op die ou end kon een vraghouer wel kort voor die einde van die tafeldruifseisoen uitgevoer word. Die besending het na ‘n reis van 29 dae in Mei 2011 in Japan aangekom.

Ná die nodige aansoek aan die owerhede gestuur is, is die vrugte deur ‘n Japanse inspekteur en deur inspekteurs van die SA Nasionale Departement van Landbou (NDA) ondersoek.

Daarna moes die druiwe ‘n 12 dae lange sterilisasieproses ondergaan, voordat dit finaal geïnspekteer is en verskeep kon word. Freshmarket meen dat die proses volgende jaar makliker sal verloop omdat hulle nou eerstehandse ervaring opgedoen het en weet hoe streng die proses is.

27 Junie 2011
 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.