Meer as 800 000 poste vir kundiges in verskeie bedrywe is tans vakant in Suid-Afrika. Luidens ’n berig op die webwerf Engineering News Daily het die Adcorp-groep Dinsdag (10 Mei) bekend gemaak dat tot soveel as 829 800 poste vir hoogs vaardige persone tans vakant is.

Dié tekort bestaan in senior bestuursposte, aan medici, ingenieurs, rekeningkundiges en regslui. Dit kom ook voor in hoogs tegniese poste en in die landboubedryf. Die groep bereken die ekonomie het ’n tekort aan 432 100 tegnici, 216 200 bestuurders en 178 400 professionele mense.

Te veel huishulpe

In teenstelling met dié syfers het die land ’n oorskot aan elementêre werkers en huishulpe. Tans is daar sowat 967 600 elementêre werkers en 247 400 huishulpe, wat meer is as wat die land se behoefte is.

Luidens die berig dui die jongste statistiek aan dat die land se informele sektor steeds vinniger groei as die formele sektor. Sowat 6,2 miljoen mense werk tans in die land se informele sektor.

Hoë salarisaanpassings

Die studie bewys dat mense met skaars vaardighede se salarisse aansienlik ten opsigte van inflasie aangepas is, naamlik 286,4% sedert 2000. 

Suid-Afrika het een van die wêreld se hoogste werkloosheidsyfers, met slegs 40,6% van die bevolking tussen 15 en 64 wat wel werk het.

Bron: EngineeringNews

11 Mei 2011


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.