Lone: 900 boere vra kwytskelding

Deur Joylene Van Wyk
7 Maart 2013
Altesaam 900 boere het om kwytskelding van die minimum loon van R105 per dag gevra, sê die Minister van Arbeid.

Altesaam 900 aansoeke is ontvang van boere wat kwytskelding van die minimum loon van R105 per dag vra, sê me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid.

Sy het aan media by die Parlement gesê dat 10% van die aansoeke wat ontvang is, teruggestuur is om meer inligting te kry. Die aansoeke het nie die nodige ondersteunende dokumentasie gehad nie.

Sy is ook van mening dat daar nie grootskaalse werksverliese weens die minimum loon-aanpassing sal wees nie.

Oliphant het uitgewys dat boere in sommige provinsies, veral Limpopo, aansoek by die Departement van Binnelandse Sake gedoen het om buitelandse werkers aan te stel. “In terme van die prosedure moet ons kyk of die vaardighede van die werkers wat hulle wil aanstel nie in die land reeds beskikbaar is, voordat die aansoeke goedgekeur word.”

Buitelandse werkers
Oliphant het egter klei getrap toe Landbouweekblad haar daarop wys dat reeds meer as 6 000 aansoeke vir buitelandse werkers onvang is en dat haar adjunk-direkteur-generaal vir arbeidsbeleid dit regstreeks met die loonverhoging verbind.

Landbouweekblad het vroeër berig dat in Januarie is 1 410 aansoeke in Limpopo en 1 428 in Mpumalanga ingedien is. Teen 20 Februarie is in die Wes-Kaap ook om 758 permitte aansoek gedoen. In dieselfde maand is in Limpopo om 950 en in Mpumalanga om 1 941 permitte aansoek gedoen. Die totale aansoeke in die maand tot 20 Februarie was 3 649.

Boere en plaaswerkers
Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het bygevoeg dat die werk wat adj.pres. Kgalema Motlanthe begin het om samesprekings met boere en plaaswerkers te hou in ‘n poging om hulle probleme op te los, voort sal duur. “Ons kyk na hoe ons kan saamwerk: Die Regering, arbeid en die landbousektor. Hoe die bedryf hom kan herposisioneer om ‘n inklusiewe begrip van die landbou te hê.”

Davies het benadruk dat pogings aangewend sal moet word om die behoud van inkomste te verseker van produkte wat in Suid-Afrika geproduseer en uitgevoer word. Altesaam 45% van die waardeketting van tafeldruiwe wat van Suid-Afrika kom, beland in die sakke van buitelanders. Hy glo die persentasie is selfs hoër as dit by die uitvoer van vrugte kom.


Kommentaar

Kommentaar (7) “Lone: 900 boere vra kwytskelding

  1. mkruger
    mkruger

    “Sy is ook van mening dat daar nie grootskaalse werksverliese weens die minimum loon-aanpassing sal wees nie”
    Hier begin die propaganda.
    Volgende gaan sy seker se “ons was reg die boere het die werkers uitgebuit hulle kan dit bekostig”
    Die vraag is nou: Gaan die Landbou-organisasies hulle laat wegkom hiermee of gaan hulle, hulle takke versoek om die regte syers te kry sodat dit gepubliseer kan word ?
    900 het aansoek gedoen. Baie meer het net nie die moeite gedoen nie. Die feit dat 900 aansoek gedoen get moet eintlik die gevaarligte vir hulle laat flikker.

  2. Albert Hansen
    Albert Hansen

    Ek weet nie of hulle besef hoe belngrik die landbou bedryf is vir die ekonomie nie. Die hele loon geskil gaan ‘n groot sneeubal effek he en hulle besef dit ook nie.Die boer moet maar vat wat hy kry en kan nie prys maak nie.

  3. butch
    butch

    Gister was arbeidsreg prokureur hele dag lank op ‘n plaas besig om personeel voor te berei vir afleggings – vanaf plaasbestuurder tot heel onder – eienaar in trane – ook die werkers – hy wil nie van sy werkers afdank – en hulle wil ook nie elders gaan werk – werkers bereid om vir die vorige loon of matige verhoging te werk, maar dis mos teen die wet – geluk min oliphant , tony , nosey – hoop julle slaap goed!

  4. Toby Cilliers
    Toby Cilliers

    Die LWO sal seker kan sê hoeveel van hul lede het aansoek gedoen. Ons is in die proses om 30% van ons arbeidsmag af te lê. Ons sal ook nie verder ongeskoolde personeel aanstel nie. Hulle is deur die regering gevonnis tot werkloosheid. Vir R105 kan jy ‘n trekkerdrywer huur.

  5. Lou
    Lou

    jy vra net vir vrystelling as jou arbeiders instem om teen n kliener loon te werk stel ooreenkoms op dat jou arbeid dit teken en dan heg jy dit by jou vrystelling aansoek aan.

  6. butch
    butch

    baie boere beskou dit as immoreel om minder as die voorgeskrewe tarief te betaal en wil nie aansoek doen – dikwels verkies hul die roete van aflegging en skeidingspakket – een boer seg dit sal sy gewete pla as hy minder moet betaal

  7. Piet
    Piet

    Is tans besig om te besluit of ons moet aangaan of nie met die groente boerdery. 20 Mense se werk in gedrang.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.