Laer trekkerverkope in 2013 verwag

Deur Alani Janeke
8 Maart 2013
Die landboumasjineriebedryf verwag dat trekkerverkope dié jaar tot 15% laer kan wees as in 2012.

Trekkerverkope het verlede maand op ’n jaar-op-jaar grondslag toegeneem, maar die bedryf verwag dat die totale verkope vir die jaar laer sal wees as verlede jaar s’n.

Altesaam 827 eenhede is in Februarie vanjaar verkoop, terwyl verkope vir dié maand verlede jaar op 800 eenhede te staan gekom het.

In dieselfde tydperk het stroperverkope byna verdubbel, met 37 eenhede wat nou in Febraurie verkoop is teenoor die 20 eenhede van Februarie 2012. Luidens ’n verklaring van die SA Landbou Masjinerie-vereniging (Saama) is trekkerverkope vir die jaar tot dusver sowat 5% laer as verkope tydens die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Stroperverkope is egter baie hoër, 94%, as verkope vir die eerste twee maande van 2012.

Lewendige mark Die vereniging sê verkope van landboumasjinerie bly lewendig. Oor die korttermyn beteken dit boere koop masjinerie voordat die prysverhoging wat gaan volg op die onlangse waardevermindering van die rand, én voor hulle finansiële jaareindes.

“Baie van die ander fundamentele aspekte in die mark, soos rentekoerse, bankfinansiering, oespryse en vooruitsigte vir somergewasse, bly steeds gunstig, hoewel sekere gebiede binnekort reën nodig het om die volle oespotensiaal te verwesenlik,” sê die vereniging.

Die goeie vertoning van die bedryf tans ten spyt, verwag die vereniging dat trekkerverkope vir die jaar 10% tot 15% laer sal wees as 2012 se verkope.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.