Goeie reën kom Februarie, sê Peet Pienaar

Deur Jan Bezuidenhout
26 Januarie 2016
Prof. Peet Pienaar het goeie nuus oor reën in Februarie vir die somersaaigebied.

Goeie reën kan vanaf 6 tot 11 Februarie in die somersaaigebied val, sê prof. Peet Pienaar, wat homself as ʼn weerwaarnemer beskryf.

Opvolgreën kan vanaf 21 Februarie val. Dié neerslae gaan verseker ʼn “bondel” reën wees, voorspel hy. Die neerslae in Februarie gaan dieselfde patroon volg van reën wat in Januarie in dié droogtegeteisterde somersaaigebied voorgekom het, meen dié gewilde weer-ghoeroe.

Nóg goeie nuus vir die somersaaigebied is dat nóg reën in Maart, April en Mei gaan val, sê Pienaar.

Sy vorige voorspelling oor somerreën vir middel en einde Januarie, wat in Landbouweekblad van 8 Januarie gepubliseer is, het ongekende belangstelling op Landbou.com ontlok.

Ondanks die droogte meen hy daar is genoeg tyd oor om nog te plant. Boere kan kort groeiers, hawer en sorghum plant. “Hier is nog ‘n goeie drie maande van groei vóór die eerste ryp in Mei,” meen hy.

“My bekommernis is dat boere in die somersaaigebied nie genoeg kos vir hul diere sal hê nie. Boere moet hawer en graansorghum plant. Dis ʼn Josefsbeleid: Elke boer wat diere het, móét ʼn Josefsbeleid hê. Dit beteken jy moenie die graanstoppels wat langs jou lande lê, aan die brand steek nie. Baal, verpak en maal dit. Daar is baie kos in daardie oesreste. Al is die jaar hóé wonderlik.”

Hy is egter bekommerd oor neerslae in die winterreëngebied, wat laat reën gaan kry. “Dit sal wel van April tot Julie bietjie reën, maar ek verwag die goeie reën eers vanaf Augustus. Dit sal ook tot laat in die jaar reën. Die laat neerslae beteken skraps weiding vir die winterreënstreek.”

Pienaar berus sy voorspellings op die stand van die maan. Pienaar sê die volmaan het ‘n baie kragtige invloed op water. “Het jy al gesien as jy soms soggens vroeg op die plaaspad ry, is dit nat? Dit is die volmaan wat die vog uit die grond uit trek.”

Hy beskryf die nuwemaan as ‘n Blou Bul, en met dié maan naby aan die aarde, is die kanse baie goed vir reën in die somersaaigebied. (Dis noord van ‘n denkbeeldige lyn vanaf Garies, oor Beaufort-Wes na Port Elizabeth.)  Die volmaan is vir hom ʼn Stormer, wat weer dui op reën op sy tyd in die winterreënstreek.


Kommentaar

Kommentaar (12) “Goeie reën kom Februarie, sê Peet Pienaar

  1. theuns duvenhage
    theuns duvenhage

    HOe lyk die reenkanse oor die Kalahari streek,Vanzylsrus Blackrock area

  2. Miemie van Straaten
    Miemie van Straaten

    Waar laat dit Bloemfontein veral – ons mag nie tuinslang gebruik om nat te lei nie – is lief om eie groentes te plant en 2015 was ‘n misoes vir my gewees, ek woon in die stad maar het tog my beddings en kon nie nathou met gieter nie.

    • hoender hippie
      Jan Bezuidenhout

      Miemie, Hou moed, julle is in die somersaaigebied.
      Groete

  3. Johan
    Johan

    Hy kyk seker op accuweather se webblad. Ons wag nou nog vir al die reen wat hy verlede jaar vir ons voorspel het in noord wes.

  4. Lyndon Januarie
    Lyndon Januarie

    Wat is Prof. Pienaar se mening rondom reen vooruitsigte in Namibia?

  5. mkruger
    mkruger

    Het iemand al vir Haas Das gevra wat sy voorspelling is.
    Hy was altyd nog die naaste aan reg gewees….

  6. René Kriel
    René Kriel

    Sy voorspellings vir die reën in Januarie 2016 was 100% korrek

  7. Weerhaan
    Weerhaan

    Sy voorspelling vir Januarie 2016 was seker 100 persent reg ja – behalwe vir die 50 persent van die voorspelling wat minivloede vanaf die 24ste tot 31ste Januarie voorspel het. Die reën het basies opgehou teen die 25ste. (Januarie: Reën van 10-17 Januarie. Afwisselende buie van 24-31 Januarie. Sterk moontlikheid van mini-vloede.) Dit wil ook nou voorkom asof die sonvlekke nie meer ‘n rol speel nie. (“Sonvlekke gaan met heelwat reën gepaard, maar tans is daar nie vlekke nie.”)

  8. Anuniem
    Anuniem

    Peet voorspel baie reg maar net Ons Vader kan die Hemel se sluise oop en Peet doen sy in baie sterk diep geloof

  9. André van die Karoo
    André van die Karoo

    Genugtig, prof. Pienaar is n weerwaarnemer nie n reënmaker nie. Prof. Pienaar, baie dankie vir u weerwaarnemings ons heg groot waarde daaraan. En ja, u voorspelling van mini-vloede was in die kol – in ons omgewing het plase in dié tyd tot 7 duim reën ontvang, vir ons in die Karoo is dit baie reën.

  10. pieter
    pieter

    Prof wat van reen 17km suid wes van bloem sal dit genoeg wees dankie groete

  11. Collin Swart
    Collin Swart

    Wat is u voorspelling vir die Laeveld en suidelike Mosambiek?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels