Gesnoeide turksvyblaaie, ‘n afvalproduk wat vir vrugteprodusente allerhande probleme skep, kan goedkoop en maklik verwerk word om tot ‘n derde van skape se totale rantsoen te vervang.

Turksvye word al eeue lank in Suid-Afrika verbou en die blaaie is deur die jare heen af en toe as veevoer gebruik om droogtes in ekstensiewe veegebiede te oorbrug.

Dit bly egter ‘n "aspoestertjie"-gewas waarvan die volle voerpotensiaal nog nie naastenby ernstig ontgin is nie, sê prof. H.O. de Waal, dierevoedingkundige aan die Universiteit van die Vrystaat.

Nuwe navorsing onder sy leiding het nou getoon dat turksvyblaaie met groot sukses verwerk kan word om ‘n derde van ‘n skaapkudde se rantsoen te vervang. ‘n Nagraadse student, me. Desirée Zeeman, het die proewe gedoen.

De Waal sê die produksie van turksvye (Opuntia ficus-indica) vir die vrugtemark het die afgelope paar dekades in ‘n aansienlike bedryf in Suid-Afrika ontwikkel. Om vrugproduksie te stimuleer, moet die turksvyplante gereeld gesnoei word. Dit lewer ‘n groot volume van ‘n afvalproduk wat vir die turksvyboere in die vrugteproduserende gebiede ‘n groot beslommernis is – veral omdat hulle dikwels nie veeboere is nie, of te min vee het om die groot hoeveelhede vars blaaie te benut.

Die gesnoeide blaaie bestaan uit 90 % vog en 10 % droëmateriaal, wat beteken dit is ‘n lywige produk wat moeilik en net teen groot koste vervoer kan word. As dit op ‘n hoop gegooi en opgeberg word, vrot dit gou en dien as teelaarde vir besmetlike siektes wat na die boorde versprei.

Een moedelose Suid-Kaapse boer wat hom gebel het om raad te vra, moet telkens van sowat 300 ton gesnoeide blaaie ontslae raak, sê De Waal.

As die vars turksvyblaaie aan skape gevoer word, kla boere dat dit erge maagwerkings veroorsaak. Enkele boere maak turksvykuilvoer, maar dit is ‘n ingewikkelde proses en ‘n groot kuns. Die res kap die blaaie met ‘n bossiekapper en laat dit op die grond lê om droog te word en te ontbind, waar dit ongelukkig maklik in ‘n siektebron ontaard.

Zeeman se proewe het nou gewys hoe dié probleem in ‘n ekstra inkomste omgeskep kan word. Benewens die turksvyblaaie kan laegraadse vrugte dieselfde weg volg.

Zeeman het blaaie van die kultivar Algerian met ‘n kapmes wat op ‘n kapbord gemonteer is, in stroke van 15 mm breed gesny. Met die nodige aanpassing kan die blaaie ook met ‘n gewone outydse groenvoerkerwer in smal stroke gesny word.

Die stroke is op draadsiwwe uitgegooi en gedroog. Dit was in die middel van die winter, en die droogtyd was 10 dae tot 14 dae. In die somer behoort dié proses selfs korter te duur. Nadat die material gedroog is, is dit grof gemaal en weer gedroog. Daarna is dit ‘n tweede keer gemaal, voordat dit in verskillende verhoudings met lusern gemeng is om proefrantsoene saam te stel.

Die gedroogde blaaie weeg sowat ‘n agtste van die oorspronklike vars gewig, wat beteken sowat 37 ton gedroogde blaaie kan uit 300 ton van die vars produk herwin word.

De Waal sê proefnemings met droging op ‘n sementblad het die swakste resultate gelewer. Hy vermoed die winterkoue en swak sirkulasie van lug om die stroke het dit veroorsaak.

‘n Verteringsproef is oor 19 dae met 24 jong Dorperhamels gedoen. Dié diere is in vier groepe verdeel, waarvan die eerste ‘n rantsoen met net lusern as ruvoerbron gekry het. Die tweede groep het ‘n rantsoen met 12% turksvyblaaie gekry, die derde 24 % turksvyblaaie, en die vierde 36% turksvyblaaie. In die rantsoene waarby die gedroogde en grofgemaalde turksvye ingemeng is, is voergraad-ureum ook bygevoeg om vir die turksvyblaaie se laer ruproteïen-inhoud voorsiening te maak.

Die proefdiere se prestasie was vir alle praktiese doeleindes dieselfde. Hoe meer turksvyblaaie by die rantsoene ingesluit is, hoe hoër was die verteerbaarheid.

Die proewe het duidelik getoon dat gedroogde en grofgemaalde turksvyblaaie tot ‘n derde van die grofgemaalde lusernhooi in skaaprantsoene kan vervang, wat dit aansienlik goedkoper kan maak.

Die proefdiere se mis was wél al hoe natter hoe meer gedroogde turksvyblaaie by hul rantsoene ingesluit is. De Waal sê egter dit is ‘n misvatting onder boere dat dié nat mis ‘n teken van diarree is.

Dit is vanweë slymgom, ‘n komplekse koolhidraat en bestanddeel van turksvy-plante, wat nie in die skaap se spysverteringstelsel afgebreek word nie. Die slymgom bind met water sodat dit (die water) nie in die dermkanaal onttrek kan word om normale skaapkuttels te vorm nie. Dié nat mis stink egter nie soos diarree nie, en dui op geen wanfunksie van die spysverteringstelsel nie. Dit is bloot ‘n teken van die dermkanaal se onvermoë om water in die laaste deel van die dikderm uit die nat mis te onttrek.

De Waal meen verwerkte turksvyblaaie kan veral ‘n groot bydrae lewer as dit van die vrugteproduserende streke na die droër veegebiede, waar daar dikwels ruvoer-tekorte is, vervoer word.

"In die droër westelike dele kan dit selfs op ‘n groter skaal vir veevoer verbou word," sê hy.

Die gedroogde produk kan veel makliker en goedkoper opgeberg en vervoer word, en omdat die blaaie uit die vrugteboorde verwyder word, word boordgesondheid bevorder.

Hoewel die verwerking gemeganiseer kan word, kan stukwerkers ook met groot nut gebruik word om die turksvyblaaie te sny, te droog en te maal.

Die volgende stap in die navorsingprogram is om turksvyrantsoene vir verskillende doelwitte te formuleer en met skape te evalueer, byvoorbeeld vir lakterende ooie of vir afronding.

Zeeman sê meer navorsing is ook nodig om die moontlike invloed van verwerking en droging in die son op die blaaie se voedingwaarde te bepaal. Die rol van slymgom in die drogingsproses en in herkouers se spysverteringkanaal sal ook verder ondersoek word.

  • Navrae: E-pos: dewaalho.scimail.uovs.ac.za.

    17 Februarie 2006


  • Lewer kommentaar

    Slegs in Afrikaans

    Los 'n antwoord

    Alle velde moet ingevul word.