El Niño se lang droë somer . . .

Deur Marleen Smith
4 Januarie 2016
Die kans is goed dat die hitte en droogte nog ’n groot deel van vanjaar se eerste helfte gaan voortduur voor El Niño begin skiet gee.

Die wêreld se voorspellers is dit eens dat die El Niño-verskynsel, een van die drie kragtigste in sy soort sedert ten minste 1950, eers binne die volgende maand of wat sy hoogtepunt gaan bereik.

Dan behoort dit teen Suid-Afrika se herfs geleidelik te begin verswak, wat beteken die impak gaan nog ’n hele paar maande lank gevoel word.

Me. Emily Becker, ’n navorser-wetenskaplike van die Amerikaanse klimaat-agentskap NOAA, skryf in haar jongste maand-blog dat El Niño-verwante weerpatrone al maande lank oor die wêreld heen voorkom. Sy skryf dit sal nog etlike maande voortduur nadat die warmste temperature in die tropiese Stille Oseaan (waaraan die stand van El Niño gemeet word) bereik is.

Sy verwys na byvoorbeeld 1997-’98, toe El Niño in November sy hoogtepunt bereik het, maar die grootste afwyking van normale weerpatrone in Amerika dwarsdeur Amerika se lente van 1998 voorgekom het.

Die SA Weerdiens waarsku ook in sy jongste seisoen-vooruitskouing tot April vanjaar dat die meeste modelle wys El Niño gaan eers in Suid-Afrika se laat herfs en vroeë winter geleidelik begin afneem.

Mnr. Cobus Olivier, ’n senior klimatoloog van die weerdiens, sê voorspellings dui met groot vertroue daarop dat droë toestande regdeur die mid- en laatsomer oor die grootste deel van Suid-Afrika gaan voortduur.

Daarby wys die voorspellings vir Suid- Afrika se midsomer die waarskynlikheid van reënval wat baie ver onder die normale sal wees.

Dit is ook hoogs waarskynlik dat die bogemiddelde temperature deur die hele somer oor die grootste deel van Suid-Afrika gaan voortduur.

“Die droër en warmer toestande gaan na verwagting ekstreem wees, ten minste in die midsomer. Hierdie voortgesette droë toestande, saam met uiterste droë en warm toestande wat vir die hele somer verwag word, mag die heersende droogtetoestand vererger,” lui sy verslag.

Intussen waarsku mnr. Michel Jarraud, die sekretaris-generaal van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO), dat hierdie El Niño hom in onbekende toestande afspeel, weens die gepaardgaande vlak wat aardverwarming nou bereik het.

“Ons wetenskaplike begrip van El Niño het die laaste paar jaar drasties verbeter. Maar vanjaar se El Niño speel in onbekende toestande af. Weens klimaatsverandering het ons planeet drasties verander. Die algemene neiging is ’n warmer oseaan, die verlies van Arktiese see-ys en van meer as ’n miljoen vierkante kilometer se somer-sneeubedekking in die Noordelike Halfrond.

“Hierdie El Niño, wat ’n natuurlike verskynsel is, en klimaatsverandering, wat deur die mens veroorsaak is, mag dus met hul interaksie mekaar op maniere verander wat ons nog nooit voorheen ervaar het nie,” sê hy.


Kommentaar

Kommentaar (6) “El Niño se lang droë somer . . .

  1. sekelbos
    sekelbos

    Die geleerdes maak erge voorspellings. Ek wonder net of die regering hierop agslaan. Wat tot dusver gedoen is dui daarop dat hulle dink die droogte sal van korte duur wees. Fondse wat bewillig is vir boere en watervoorsiening aan gemeenskappe is n grap.
    Baie damme is nou reeds leeg, as ek lees wat hierbo geseg word kan geen aanvulling verwag word die somer nie. So waar gaan die watervlakke van die ander damme in September wees? Ons Minister van Waterwese behoort nou te beplan vir so n gebeurtenis.
    Voedsel tekorte is n gegewe. Wat word beplan deur die regering om dit te bestuur?
    Wat ek ook tussen die reels lees, ons wit boere gaan nie gehelp word nie, ons sal self moet plan maak.
    n Tawwe 2016 is ons voorland……

  2. Saaiboer
    Saaiboer

    Die Groot Baas stuur die reen, hy steur Hom nie aan Nino’s nie. Indien Hy wil, kan Hy binne ure oorstromings veroorsaak. Van ons natste jare was met El-Nino en van die droogstes met La-Nina. As ons dink wat in ons land aangaan, hoe kan ons reen verwag?? Eers het ons ons land wat met bloed en Geloof gekoop is met kruisies in 94 weg gegee, nou onderhandel landbouleiers om die res ook weg te gee. Kyk wat gaan aan in ons kerke en skole. Ons laat toe dat die verpestelike broederbond en vrymesselaars nog ons lewe regeer. Hoe kan ons reen verwag? Kom ons bid eerder vir genade en dat ons sondes ons nie toegereken word nie, maar dan moet ons ook dit wat verkeerd is regmaak. Is ons reg daarvoor?

  3. Dries Myburg
    Dries Myburg

    In Wie se hande en onder Wie se beheer is hierdie El Niño?Vra maar net en die mens in sy sogenaamde wysheid aanvaar maar net wat die wetenskaplikes en sterrekykers voorspel.So jammer dat ons nie die eenvoudige weg van Verootmoediging wil volg nie!!

  4. Adele
    Adele

    Hierdie natuurverskynsel is ‘n les aan die regering. Ons word meer en meer mense, maar daar word nie voorsiening gemaak om nog opgaardamme te bou nie, hoe werk dit?

  5. Nicoline van Niekerk
    Nicoline van Niekerk

    Stem saam met julle….maar ook:ons mense verwoes moeder aarde en God gaan nie altyd,alles net regstel nie……eindtyd en Sy weerkoms sal ons finale verlossing wees(glo ek)….hoe gouer,hoe beter…..

  6. Borrie
    Borrie

    Kommentaar
    Die Almagtige God skenk die mens wysheid en insig en dit moet tot Sy eer aangewend word.
    Soos navorsing wys sal dit n swak reenjaar wees . Ons moet ons dus daarop voorberei.
    Laat U Wil Geskied
    Amen


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels