Namakwalandse skaapboere het duisende rande verloor nadat dikkop op plase in die Boesmanland uitgebreek het. Dit volg op ‘n uitmergelende droogte wat reeds die afgelope twee jaar in dié somerreëngebied heers.


Mnr. Koos Mostert van Avontuur, naby Kamieskroon, wat weigrond in die Boesmanland besit, het vroeg verlede week reeds 250 skape verloor; ‘n finansiële verlies van amper R100 000.


Daar is nie veel wat hy kan doen nie. "Ek ken skade en terugslae, maar om darem elke oggend in ‘n kamp op nóg ‘n klomp dooie skape af te kom en te sien hoe die siekes ly, is te erg. Dít is moeilik om te verwerk."


Mostert sê mnr. Jan Kennedy van Smorgenskadu in die Boesmanland het meer as 100 stuks vee verloor en mnr. Daantjie Esterhuizen van Kouberg omtrent 70.


Daar is geen suksesvolle behandeling teen dié siekte nie en die meeste van die skape wat dit opdoen, vrek, sê dr. Hennie Venter, ‘n veearts van Springbok. In die 15 jaar wat hy daar praktiseer, het dikkop reeds vier keer voorgekom.


Dikkop, oftewel fotosensitering, bring ‘n oorgevoeligheid vir sonlig mee en word deur gifstowwe in ‘n plant veroorsaak.


Skape doen gewoonlik die siekte op nadat hulle duifiedoring (Tribulus terrestris) gevreet het. Hoewel duifiedoring volgens boere gewoonlik ‘n goeie voedselbron is, kan dit in sekere klimaatstoestande — byvoorbeeld ná reën in Desember en vroeg Januarie — dikkop veroorsaak. ‘n Gifstof in die plant vorm kristalle wat die lewer se galbuise verstop en verhoed dat gal uitgeskei word. ‘n Oormaat gal maak diere gevoelig vir lig en laat hulle opswel.


Volgens Venter is die tradisionele simptome van dié siekte ‘n dik kop en dik bene. Vanweë Dorpers se swart koppe is daar minder swelling aan die koppe, en is dit hoofsaaklik die lippe, keel en dele waar ledemate aan die liggaam geheg is, wat swel. Boere sê in uiterste gevalle kan die ore en lippe afval.


Hoewel daar nie veel is wat boere kan doen nie, beveel Venter aan dat hulle die diere uit die kampe waar die duifiedoring is, verwyder en in die kraal voer. Siek skape moet in die skaduwee gehou word en kos gevoer word wat nie baie groen pigment bevat nie.


Om die dikkop-simptome te verlig, kan aangetaste diere met kortisoon, galdrywers of vitamien B-kompleks behandel word. Hoewel die mees onlangse navorsing toediening deur die bek van magnesiumsulfaat en -oksied aanbeveel, sê Venter dat dit nie resultate lewer nie.

2 April 2004


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.