Truffler – dalk nuwe honderas?

Deur Johan Coetsee
17 Oktober 2012
Truffelboere maak staat op 'n hond met 'n fyn neus om sukses te behaal. Trevor Norris teel nou die ideale hond as 'oesmasjien'.

Sonder ’n hond met ’n fyn neus – ’n “oesmasjien” – kan ’n truffelprodusent vergeet van ’n noemenswaardige truffeloes.

Só sê mnr. Trevor Norris, wat op mnr. Volker Miros se plaas besig is om ’n unieke honderas spesifiek vir dié doel te teel. In Europa word die Lagotte-honderas gebruik, maar hulle is onbekend in Suid-Afrika. Dit het die keuse gelaat: Voer Lagottes in, of teel ’n eie, aangepaste hond om die truffels uit te snuffel.

Norris is sy hele lewe besig met diere en teling, en het talle diere opgelei om in TV-advertensies en rolprente te verskyn. Dit is waar sy paaie met dié van mnr. Volker Miros gekruis het. Miros was lank betrokke by die maak van TV-advertensies.

Norris het Italië besoek om te kyk hoe die Italianers hul snuffelhonde oplei. Die metodes is sterk gebaseer op dissipline én liefde. Na oorweging is op ’n kombinasie van die Jack Russell en die Beagle besluit.

Perfekte kombinasie
Die Jack Russell se energie, langer bene en beweeglikheid word gekombineer met die Beagle se uitstekende reuksintuig en goeie jagvernuf.

Aanvanklike kruisteelwerk is deur ’n professionele hondeteler gedoen, en die eerste paar honde toon die eienskappe wat gesoek word. Die twee honde – ’n reun en teef, genaamd Clyde en Bonny – was bykans nege maande oud toe Landbouweekblad daar was, en albei sal binne ’n jaar puik snuffelhonde wees, meen Norris.

Dit is selfs moontlik dat hulle as ’n aparte honderas geregistreer kan word. Mev. Angela Miros, Miros se vrou, het reeds ’n naam in gedagte: Trufflerhonde.

Nadat hulle basiese gehoorsaamheidsopleiding ondergaan en ’n hegte band met die opleier gesmee het, word hulle geleer om goed te soek. As hulle dit vind, word hulle beloon met ’n lekkerny.

Op sowat 12?maande word opleiding uitgebrei deur ’n tennisbal met truffelolie te smeer en te versteek. So raak hulle gewoond aan die kenmerkende truffelreuk.Binne 18 maande kan hulle die ware Jakob uitsnuffel.

Honde word geleer om net truffels uit te snuffel, maar grawe dit nie uit nie.

 


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.