Gebakte poedings is sinoniem met winterdae en lang, uitgerekte Sondagmiddagetes. Ryk en romerig of stroopsoet en kluitjierig met room of vla, dit sluit altyd ‘n ete op ‘n soet noot af.

Outydse asynpoeding

Sous
500 ml water
500 ml suiker
125 ml asyn

Deeg
30 ml botter
125 ml strooisuiker
2 eiers
375 ml koekmeelblom
5 ml koeksoda
10 ml gemmer
1 ml sout
2 ml neutmuskaat
30 ml appelkooskonfyt

Verhit die bestanddele vir die sous saam tot kookpunt. Laat prut vir 5 minute en laat afkoel. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ‘n oondbak van 26 cm met botter. Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Klits die eiers een vir een by. Sif die droë bestanddele saam en roer dit by. Roer die appelkooskonfyt by tot goed gemeng. Skep in die gesmeerde bak en giet die afgekoelde sous bo-oor. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin. Sit voor met vla of roomys.
Genoeg vir ses mense.

Lemoenpoeding

‘n Effense variasie op die bekende Japie-se-gunsteling. Dié poeding het ‘n fyn koeklagie bo-op en baie sous onder-in.

2 eiers, geskei
250 ml suiker
100 ml koekmeelblom
250 ml melk
180 ml lemoensap
15 ml fyn marmelade
Fyngerasperde skil van 1 lemoen
30 ml gesmelte botter of margarien

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ‘n oondbak van 20 cm met botter. Klits die eiergele en suiker baie goed tot lig en dik. Voeg die meel en melk by en roer tot gemeng. Voeg die lemoensap, marmelade, skil en gesmelte botter of margarien by. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou in. Skep in die gesmeerde bak en plaas in die groter oondbak. Vul met water tot driekwart vol. Bak vir 45 minute tot goudbruin. Laat effens afkoel en sit voor.
Genoeg vir 4-6 mense.

Pynappelpoeding

Dié poeding vorm ‘n romerige laag onder-in en koek bo-op. Ek maak graag ‘n dun vla van klappermelk hierby, dan het die poeding ‘n egte tropiese geur.

80 ml bruismeel
2 ml sout
125 ml strooisuiker
2 eiers, geskei
125 ml melk
15 ml suurlemoensap
100 ml fyn pynappel
80 ml pynappelsap

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ‘n oondbak van 22 cm met botter. Sif die meel, sout en strooisuiker saam. Klits die eiergele saam met die res van die bestanddele tot gemeng en voeg by die droë bestanddele. Klits tot gemeng. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en vou in. Giet in die gesmeerde bak en plaas in ‘n groter oondbak wat half vol water gemaak is. Bak vir 45 minute tot goudbruin.
Genoeg vir 4-6 mense.

Fluweelpoeding

Dié poeding herinner my aan winterdae in die skoolkoshuis. Daar het dit die naam "roomyspoeding" gehad en as ons dit na ete gekry het, het daar nooit iets oorgebly nie. Probeer ‘n slag (soos op die foto) vir elkeen ‘n individuele porsie in vuurvaste bakkies of koppies bak. Jy kan enige konfyt gebruik — aarbei-, vye- of frambooskonfyt is ewe lekker.

125 ml suiker
2 ml sout
180 ml koekmeelblom
1 liter volroommelk
4 eiers, geskei
60 ml botter
5 ml vanieljegeursel
45 ml louwarm appelkooskonfyt
60 ml strooisuiker

Meng die suiker, sout en koekmeelblom. Verhit die melk tot net onder kookpunt. Giet ‘n bietjie daarvan oor die meel-en-suikermengsel en meng goed. Giet terug by die warm melk en verhit stadig oor lae hitte terwyl geroer word tot verdik. Klits die eiergele en giet die warm melkmengsel daaroor. Meng goed en voeg die botter en vanieljegeursel by. Giet in die voorbereide oondbak en bak vir 40 minute teen 160 °C. Smeer die appelkooskonfyt oor. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepelsgewys by. Klits tot dik en blink. Skep op die poeding en smeer met agterkant van ‘n lepel tot die hele poeding bedek is. Bak vir ‘n verdere 10-15 minute tot die punte liggoudbruin is. Sit warm voor met dun vla.
Genoeg vir ses mense.

18 Junie 2004


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.