Vulsel
2,5 kg springbok-stowevleis (enige voorkwart-snitte en skenkelvleis)
6 dikgesnyde skaaptjops, uit die blad gesny
12 heel kruienaeltjies
10 ml gekneusde swartpeperkorrels
20 ml sout
500 ml bruinasyn
8 lourierblare
20 ml witpeper
750 ml witwyn
8 uie, fyn gekap
12 middelslag-aartappels, geskil en in klein blokkies gesny
1 x 400 g-rol skilferkorsdeeg
Was die vleis goed af onder ’n lopende, koue kraan. Sit die vleis in ’n pot en voeg die res van die bestanddele, behalwe die uie en die aartappels, by. Verhit tot kookpunt. Draai die hitte baie laag, bedek en laat prut die vleis saggies vir ’n paar uur tot dit so sag is dat dit van die been val. Skep die vleis uit, maar bewaar elke druppel van die aftreksel in die pot. Haal die vleis van die bene af en vlok die vleis fyn. Hou eenkant. Gooi die uie by die aftreksel in die pot en smoor tot sag. Voeg die fynvleis by. Skep die aartappels bo-op die vleismengsel (moet dit nie inroer nie). Bedek en prut tot die aartappels gaar is. Haal nou die deksel af en laat die mengsel vinnig kook, tot die sous effens afgekook is. Skep in ’n pasteibak(ke) van jou keuse en laat afkoel. Voorverhit die oond tot 180 °C. Haal die skilferkors uit die yskas en rol dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en bedek die pasteivulsel daarmee. Seël die kante goed en bak die pastei(e) vir ongeveer 35-40 minute tot die deeg goudbruin en opgepof en die vulsel borrelend is. Sit voor met gestoomde witrys en gestoofde kwepers. Lewer 16 porsies.

Probeer die een