Uit ons toetskombuis kom ‘n paar lekker koue poedings wat jy vooraf, of
vinnig dieselfde dag, kan maak.


Aarbeikaaskoek

Dit kan ook met teetyd voorgesit word.

1 pakkie (200 g) brosbroodkoekies
30 ml botter

Vulsel
800 g vars aarbeie
gerasperde skil en sap van ‘n halwe suurlemoen
300 g roomkaas of gladde maaskaas
90 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
45 ml Bulgaarse jogurt
200 ml vars room
2 x 12 g elk pakkies gelatien
60 ml water
2 eierwitte
‘n knippie sout
ekstra aarbeie vir versiering

Stel die oond op 180 °C. Krummel die koekies of maak fyn in voedselverwerker. Smelt die botter en meng die koekiekrummels daarby in. Skep die gebotterde krummels in ‘n voorbereide veerknipkoekpan van sowat 23 cm in deursnee. Druk dit stewig op die bodem van die pan vas met die agterkant van ‘n lepel. Bak in voorverhitte oond vir sowat 8 – 10 minute. Haal uit en hou eenkant tot afgekoel.
Plaas die aarbeie in ‘n bak saam met sap en skil van suurlemoen en druk liggies met ‘n vurk stukkend. Dit moet growwe stukke wees en nie te fyn nie. Klits die roomkaas tot sag. Voeg die suiker, geursel en jogurt by. Klits die room styf en vou in by roomkaasmengsel. Vou die aarbeimengsel by die roomkaasmengsel in. Spons die gelatien oor die water. Laat staan en plaas dan oor kookwater of in mikrogolf om op te los. Skep ‘n bietjie van die aarbeimengsel uit en meng goed met gelatien. Skep gelatienmengsel by res van aarbeimengsel en roer tot goed gemeng. Klits die eierwitte en sout saam tot sagtepuntstadium en vou versigtig in aarbeimengsel in. Skep dan die aarbeimengsel bo-op die krummelkors in koekpan. Maak gelyk bo-op. Bedek met kleefplastiek en plaas in yskas om te stol.
Haal uit en versier met gehalveerde aarbeie.


Drywende eilande


Dié ou bekende resep bly maar ‘n gunsteling, hoewel dit ‘n bietjie meer moeite verg.

sowat 1 liter vla

Eilande

150 ml melk
3 eierwitte
200 ml strooisuiker
donker sjokolade

Vul die helfte van ‘n groot, diep pan met water. Voeg die melk hierby en verhit tot dit begin prut. Klits die eierwitte saam met sout tot styf. Klits die suiker geleidelik by tot ‘n gladde en blink meringue. Skep ‘n eetlepel hoogvol van die meringue uit en laat sak dit met behulp van ‘n tweede lepel in die pruttende melk-water-mengsel. Plaas nog sowat 3 lepelsvol van die meringue in die pan. Kook sowat 30 sekondes, draai die meringues om en kook ‘n verdere 30 sekondes. Meringues behoort dubbel in grootte te wees. Wees versigtig om dit nie te lank te kook nie. Lig uit met gaatjieslepel op ‘n draadrak om te dreineer. Kook res van meringues op dieselfde wyse. Rangskik die meringues op die vla (sien foto). Rasper sjokolade bo-oor.
Wenk: Maak seker dat dit groot lepelsvol meringue is wat gebruik word vir die eilande.


Koffie-en-Amarula-nagereg


So lig soos ‘n soufflé en absoluut heerlik!

20 ml koffiepoeier
125 ml kookwater
300 g malvalekkers
1 blik (410 g) verkilde, ingedampte melk
30 ml Amarula-room
125 ml gekapte neute

Los die koffie in die water op. Giet in groterige kastrol en plaas die malvas daarin. Laat eenkant tot die lekkers feitlik heeltemal gesmelt is. Klits intussen die koue melk tot styf. Roer die koffie-malvamengsel deur om seker te maak dat al die lekkers opgelos is. Roer die mengsel dan by die styfgeklitste melk in. Voeg Amarula en neute by en roer deur. Skep in individuele glase of in ‘n groot bak. Plaas in yskas om te stol. Dien op met room en enige vars vrugte na keuse.

17 Januarie 2003


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.