Die koningin van konserf… Wie kan nou nee dankie sê vir ‘n stroopsoet, blinklyf groenvy?

Groenvyekonserf

Dié resep kom uit Ina Paarman
se boek Tydlose Treffers.

1,5 kg groenvye
60 ml sout
2 liter water
2 handevol vyeblare

Stroop
2 kg suiker
3 liter water
2 stukkies vars gemmer, geskil
sap van 1 suurlemoen

Skraap die vye met ‘n skerp mes. Meng die sout en water en laat die vye oornag daarin lê. (Maak seker ál die vye is met die soutwater bedek.) Verhit ‘n groot pot skoon water tot kookpunt. Dreineer intussen die vye wat in die soutwater week en laat sak dit versigtig in die skoon kookwater. Bedek met ‘n dik laag vyeblare (dit dra by tot die geur en help behou die kleur). Prut vir ongeveer 15 minute of tot die vye nét sag is.

Berei intussen die stroop: Los die suiker in die water op en verhit stadig, terwyl geroer word, tot kookpunt. Voeg die gemmer by.

Dreineer die vye en spoel goed af onder koue water. Sny nou ‘n diep kruisie aan die onderkant van elke vy. Skep die sagte vye in die kokende stroop en laat prut vir ongeveer 11/2 tot 2 uur, of tot die vye glansend en vol stroop is. Skep in gesteriliseerde vlesse, voeg die suurlemoensap by die stroop en kook af tot dik. Giet in die vlesse en verseël.

Kors
125 ml koue botter, in blokkies gesny
375 ml bruismeel
35 ml suiker
5 ml sout
1 eier, geskei
45 – 60 ml yswater
45 – 60 ml gouestroop

Vulsel
250 ml gerasperde goudakaas
250 g roomkaas
30 ml botter
60 ml suiker
2 eiers, geskei
30 ml room
30 ml bruismeel
250 ml groenvyekonserf, gehalveer

Vir die kors: Verwerk die botter, meel, suiker en sout in ‘n voedselverwerker tot krummelrig en goed gemeng. Voeg die eiergeel by en, terwyl gepols word, die yswater bietjie vir bietjie tot ‘n deeg vorm. Rol uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en voer ‘n gesmeerde losboomtertbord van 300 mm daarmee uit. Prik met ‘n vurk en verkoel vir 30 minute. Smeer die hele tertkors met gouestroop en verkoel tot benodig. Voorverhit die oond tot 180 °C. Vir die vulsel: Roer die gouda- en roomkaas saam en hou eenkant. Verroom die botter, 30 ml van die suiker, eiergele en room saam en meng met die kaasmengsel. Sif die meel oor en roer by. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die orige 30 ml suiker by. Klits tot goed gemeng. Vou by die vulsel in. Skep in die voorbereide tertkors en pak die groenvye bo-op. Druk effens in die vulsel met jou vingers. Bak vir 20 minute, verlaag die temperatuur tot 160 °C en bak vir ‘n verdere 15 minute tot goudbruin en uitgerys. Verwyder uit die oond en laat afkoel. Sit voor teen kamertemperatuur met koffie. Lewer een groot tert.

Varkfilet met groenvye en feta

2 heel varkfilette van 500 g elk
varsgemaalde swartpeper en sout
olyfolie
2 wiele feta
4 heel groenvyekonserf

Sny die varkfilette in skywe van 40 mm, besprinkel dit met olyfolie en geur met swartpeper. Verhit ekstra olyf-olie in ‘n braaipan en braai die skywe vir ‘n paar minute aan elke kant. Geur met sout. Sny die fetakaas horisontaal in dun wiele. Sny die groenvyekonserf in dun skywe en hou eenkant. Plaas ‘n stuk filet op die bord en sit ‘n stukkie fetakaas bo-op, gevolg deur skywe groenvye. Plaas laastens nog ‘n stukkie filet bo-op die vye. Herhaal met die res van die bestanddele.

Genoeg vir vier mense.

Sjokoladesalami

Dié dekadente soetigheid kan na ete met koffie voorgesit word.

200 g donker sjokolade, gekap
60 ml botter
12 glanskersies, gekap
150 g pekanneute, gekap
300 ml groenvyekonserf, gekap
200 g Romany Creams, fyn gedruk
2 eiergele, geklits

Smelt die sjokolade en botter en meng die res van die bestanddele daarby. Skep op ‘n vel gesmeerde foelie, rol netjies op en plaas in yskas tot gestol. Rol in versiersuiker en sny in dun skyfies. Bêre in die yskas tot benodig.

Roomtert

Kors
1 pakkie (200 g) Tennisbeskuitjies, gekrummel
45 ml gesmelte botter
45 ml kondensmelk

Vulsel
1 groot blik nageregroom
3 eiers, geskei
190 ml strooisuiker
Res van die kondensmelk (wat oorbly uit 397 g blik na kors gemaak is)
20 ml gelatien
30 ml koue water
30 ml kookwater
250 ml pekanneute, grof gekap
250 ml groenvyekonserf, gesnipper

Meng al die bestanddele vir die kors saam en druk op die bodem van ‘n gesmeerde tertbord van 330 mm x 200 mm, vas. Verhit die nageregroom tot kookpunt en prut liggies vir 2 minute. Klits intussen die eiergele, 80 ml van die strooisuiker en die kondensmelk tot lig en dik. Voeg die warm room in ‘n dun straaltjie by die eiergeelmengsel en klits. Giet alles terug in die kastrol en verhit stadig oor lae hitte tot kookpunt en die mengsel verdik. Laat effens afkoel. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 5 minute om te spons. Giet die kookwater oor en roer om op te los. Roer by die eiervla. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepelsgewys by. Klits tot dik en blink. Roer die neute en vye by die eiervla in en vou dan die eierwitmengsel versigtig daarby in. Skep op die krummelkors en verkoel tot ferm. Bêre in yskas.

Lewer 1 groot yskastert.

Versnaperinge

Sny Brie of bloukaas in wiggies en sit voor met stukkies groenvyekonserf as happies.

Meng ‘n houer mascarpone met ‘n handvol gekapte okkerneute en 125 ml gesnipperde groenvyekonserf. Verkoel tot benodig en gebruik as smeer vir bruschetta of beskuitjies.

4 Februarie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.