Vra vir Faffa

Vrae oor Slenkdalkoors

Vraag

'n Leser vra of Slenkdalkoors net in sekere gebiede voorkom en of dit aansteeklik is.

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet of Slenkdalkoors net in sekere gebiede voorkom en of dit aansteeklik is? – De Klerk Vermaak (boervm@webmail.co.za)

Antwoord:
Inleiding:
Slenkdalkoors is ‘n erge (akute) insekgedraagde (muskiete) virussiekte van skape, bokke en beeste (hoefdiere). Slenkdalkoors hou ook ‘n groot gesondheidsgevaar vir die mens in. Die naam "Slenkdalkoors" kom van die Slenkdalgebied in Kenia, waar die siekte die eerste keer beskryf is. Die virus wat Slenkdalkoors veroorsaak, is die eerste keer in 1930 geïsoleer tydens ‘n epidemie onder skape in die Slenkdalgebied in Afrika. Tydens die epidemie het die siekte ook mense in daardie gebied aangetas.

Van 1950 tot 1956 was daar verskeie epidemies van Slenkdalkoors onder skape en beeste in Suid-Afrika, waartydens mense ook die siekte opgedoen het. In 1951 het 20 000 mense siek geword en 100 000 beeste en skape het gevrek.
Gedokumenteerde gebiede waar die siekte al voorgekom het, is Wes-Vrystaat, Suidelike Gauteng, aangrensende Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap. Ook in Namibië was daar uitbreke, veral in skape.

‘n Tabel toon aan watter diere vatbaar is vir Slendalkoors:
Uiters vatbaar (70 tot 100%)
Lammers, bokkies, hondjies, katte, muise en wolmuise.

Hoogs vatbaar (20% tot 70% vrektes)
Skape en kalwers.

Vatbaar (Minder as 10% vrektes)
Beeste, bokke, buffels (Afrika en Asiatiese), mense.

Weerstandig (Nie sigbare besmetting)
Kamele, perde,varke, honde, katte, ape en bobbejane, hase, marmotte.

Nie vatbaar
Voëls, reptiele, amfibieë

In 1953 is die virus wat Slenkdalkoors veroorsaak, uit muskiete (Culex theileri en Aedes caballus) gekweek nadat die siekte onder skape uitgebreek het. Van 1969 tot 1976 het verskeie wydverspreide uitbreke van Slenkdalkoors onder skape en beeste in Suider-Afrika voorgekom en uiteraard groot geldelike verliese vir boere tot gevolg gehad. Met ‘n Slenkdalkoors uitbreek in 1975 onder skape en beeste in Suid-Afrika, was daar ook sterfgevalle onder mense wat die siekte opgedoen het. Dit wil voorkom of Slenkdalkoors in 7-10 jaar of langer siklusse voorkom. Hierdie siklusse word bepaal deur reënneerslae. Dit wil voorkom of die reënvalpatrone in Suid-Afrika siklusse van 18 jaar volg: 9 jaar met bo gemiddelde reënval , gevolg deur 9 jaar met laer reënval. Slenkdalkoors kom in natter jare voor.

Hoe diere besmet word
Aanvanklik word die diere besmet as hulle deur muskiete, wat die virus dra, gebyt word. Hierna word die diere direk besmet deurdat hulle blootgestel word aan geaborteerde fetusse en besmette materiaal.

Siektetekens
Lammers en bokkies onder die ouderdom van 2 weke is baie vatbaar. Hulle word baie gou siek, gewoonlik binne 24-72 uur na besmetting. ‘n Hoë koors tussen 41 en 42°C ontwikkel, hulle is lusteloos en verloor eetlus. Die koors daal kort voordat hulle vrek. Tot 95% lammers kan vrek. Skape is lusteloos met ‘n koors van tot 42°C, traag om te loop, het buikpyn, vinnige asemhaling, eet nie, gooi maaginhoud op, het bloed in die mis, slegruikende diarree en soms geelsug. Dragtige ooie aborteer en die geaborteerde fetus ontbind gou. Vrektes onder ouer skape is soms tot so hoog as 15-30% en tussen 40 en 60% van die ooie kan aborteer. Die kliniese tekens in bokke is gewoonlik minder erg as die in skape. By kalwers kom ligte kliniese tekens en 10-15% vrektes voor. By volwasse beeste is die voorkoms van aborsies (10-40%) soms die enigste siekteteken.

Wanneer Slenkdalkoors voorkom
Die siekte kom gewoonlik in die laat somer voor as dit warm is en die lugvogtigheid hoog is a.g.v. baie reën. Die muskiete wat Slenkdalkoors oordra, broei dan goed uit. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, loop die grootste risiko om Slenkdalkoors te kry, want muskiete is baie aktief in daardie gebiede.

Menslike besmettting
In Suid-Afrika raak mense gewoonlik besmet deur regstreekse aanraking met die Slenkdalkoorsvirus indien hulle nadoodse ondersoeke op besmetlike karkasse of geaborteerde fetusse doen of in laboratoriums met die virus werk. Slenkdalkoors is ‘n soönose (siekte oordraagbaar van die dier na die mens).

Die virus dring die liggaam binne deur die slymvlies of krakies en seertjies in die vel. Dit is veral veeartse, veeboere en plaaswerkers wat gevaar staan om besmet te raak.
Teoreties kan ‘n mens ook Slenkdalkoors opdoen deur inname (bv die drink van besmette melk) of deur inaseming, maar hierdie twee roetes van besmetting is minder belangrik. Omdat Slenkdalkoors by diere soms sonder sigbare uiterlike tekens voorkom, kan abattoirwerkers die besmetting opdoen in die normale uitvoering van hulle pligte. ‘n Mens kan in uitsonderlike gevalle deur die byt van ‘n virusdraende muskiet besmetting van Slenkdalkoors opdoen, maar dit is baie raar.

Siektetekens by mense
Die broeityd (vanaf besmetting tot die verskyning van die eerste siektetekens) wissel van 3-7 dae. Die siektetekens is griepagtig en begin skielik. Van die aanvanklike simptome is spierpyn, koue koors, vomering, bloederige urine, donker stoelgang, ligsensitiwiteit, swak sig, rugpyn, gewrigspyn, hoofpyn en koors. Die meeste mense herstel ná ‘n week of twee.
In 1% tot 5% van gevalle word pasiënte se oë aangetas, maar dit is meesal tydelik. Die lewer en oë word gewoonlik later aangetas en die pasiënt toon ‘n geneigdheid tot bloeding. In ‘n klein persentasie van gevalle kan die retina van die oog loskom en tot blindheid lei. Die siekte kan ook verskeie ander simptome tot gevolg hê.
Slenkdalkoors is noodlottig in minder as 0,5% van gevalle weens ernstige hepatitis (lewerontsteking) en enkefalitis (harsingontsteking).

Diagnose by die mens
Waar ‘n mens Slenkdalkoors opdoen, is daar gewoonlik ‘n geskiedenis van noue kontak met siek diere, of met diere wat weens Slenkdalkoors gevrek of geaborteer het. Mense wat dus met sulke diere in aanraking was en daarna tekens van die siekte begin toon, moet onverwyld ‘n geneesheer raadpleeg.
Slenkdalkoors moet onderskei word van ‘n ander virussiekte wat as Wesselsbronsiekte bekend staan en waarvan die siektesimptome baie met die van Slenkdalkoors ooreenstem. Uitbreke van Slenkdalkoors by diere kom meesal in die reëntye gedurende die laat somer en herfs voor (Slenkdalkoorsseisoen) en dit is dan gewoonlik die tyd wanneer mense die siekte opdoen.

Diagnose by die dier
‘n Veearts moet ‘n nadoodse ondersoek doen en monsters neem vir bevestiging van die siekte. Kliniese tekens by diere en die geskiedenis van die vrektes sal die veearts help om ‘n diagnose te maak. Wanneer daar aborsies en vrektes van jong diere voorkom, moet Slenkdalkoors in gedagte gehou word. Boere moet onder geen omstandighede nadoodse ondersoeke probeer doen nie. Die siekte kan maklik met Wesselsbronsiekte verwar word!

Voorkoming en beheer
Sekere maatreëls behoort toegepas te word om Slenkdalkoors te voorkom en te beheer. Die volgende stappe is belangrik:
 

  • Dit is nie prakties moontlik om die vektore (muskiete) van die Slenkdalkoorsvirus uit te roei of effektief te beheer nie en daarom is immunisering van beeste, bokke en skape die enigste praktiese en werkbare beheermaatreël. Die periodes tussen Slenkdalkoors uitbreke is baie lank (jare) en daarom ent die meeste vee-eienaars nie hulle diere nie en is die oorgrote meerderheid vee in Suid-Afrika vatbaar vir Slenkdalkoors. Indien Slenkdalkoors sou voorkom, sal dit baie vinnig van plaas tot plaas versprei.
     
  • Lewende Slenkdalkoorsentstof. Die lewende entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte gemaak word, kan in alle nie-dragtige beeste, skape en bokke gebruik word en gee goeie beskerming in alle vee. Die lewende entstof is goedkoper as die dooie entstof en die dier hoef net eenkeer in sy lewe ingeënt te word. Dit is maklik om die lewende entstof te produseer. Moenie dragtige diere met die lewende entstof inent nie, want ‘n klein persentasie aborsies of fetale misvorming kan voorkom.
     
  • Dooie (geïnaktiveerde) Slenkdalkoorsentstof. Dragtige diere/vee kan met die dooie entstof ingeënt word. Die entstof is duur en tydrowend om te produseer en het ‘n kort rakleeftyd van ‘n jaar. Diere moet jaarliks gedurende die lente met die dooie entstof ingeënt word. Jong diere of diere wat nog nie voorheen met die dooie entstof ingeënt is nie, moet 3 weke na die aanvanklike inenting ‘n tweede of skraagdosis inenting kry. Diere ontwikkel eers ‘n goeie immuniteit 2-3 maande na inenting. Dit sal verseker dat hulle nie die siekte opdoen nie en so word mense wat met sulke diere werk of noue kontak het, onregstreeks beskerm. Raadpleeg die veearts aangaande immuniseringsprogramme.
     
  • Die dra van beskermende klere wanneer nadoodse ondersoeke gedoen word, is van die uiterste belang. Ontsmet alle apparaat na gebruik wanneer ‘n nadoodse ondersoek gedoen is. Karkasse moet verbrand of begrawe word.
     
  • Pasteurisering van melk (hittebehandeling van die melk teen 72ºC vir 15 sekondes) sal die virus daarin vernietig en so die melk vir menslike gebruik veilig maak.
     
  • Die toepassing van goeie insektebeheer (veral muskietbeheer) kan moontlik bydra tot die voorkoming en bestryding van Slenkdalkoors, maar dit is dikwels duur en onprakties.
     
  • Verskuif diere van laagliggende na hoërliggende gebiede en voorkom dat diere by vleie, damme, langs riviere en panne wei waar muskiete baie aktief is.

     

  • Geskryf deur drs. Jan du Preez, Intervet-MPO Suiwelinstituut, en Faffa Malan van Intervet.
    Bron: Infectious Diseases of Livestock Edited by J A W Coetzer & R C Tustin.

    31 Julie 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Vrae oor Slenkdalkoors

  1. CJj Nortje
    CJj Nortje

    Geagte leser ek het verlede jaar lammers help groot maak, van hul is dood as gevolg van dat hul siek was. Ek het perongeluk een se melk bottel in my mond gedruk terwyl hy besig was om tedrink. Op daai oomblik het hy gevrek. Wat my pla so n maand daarna het ek n permanente hoes. Daar is spoeg getoets om te kyk of daar fout is met my longe maar niks is gewys nie behalwe dat ek n pneumonie van ander etiologiese oorsprong het. Ek was by n homopaat toe. Daar het hy gese my bloed wys ek het n mycoplasma. Hy het we’ll ook gese my lewer produseer ook nie yster nie en hy het vir my lewer detox asook mycoplasma pille gegee. We’ll dit het verbeter maar nou sit ek weer met n gehoes en ek kry nou n alergie vir sy medikasie. Ek het ook simtome van koors spierpyn party keer styfheid in ledemate. Ek was seker al 5keer op antibiotika dit help terwyl ek medikasie drink. Die oomblik wat die medikasies klaar is begin alles weer van voor af. Is daar n moontlikheid dat ek n siekte opgetel het asgevolg van die lam. Ek sal bly wees as u my kan terug antwoord. Groete mev nortje


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.