Vra vir Faffa

Vermering (opbring, braking) in herkouers

Vraag

Ek het ’n fries/kruisrasbulletjie wat ek grootmaak, so ses weke oud, kry Denkavit 2lt soggens en 2lt saans. Die algemene voorkoms van die kalfie is dat hy maer is, alhoewel hy reeds kalfgroeikorrels vreet en dan ook water kry tussen 10:00 en 14:00 bedags. Hy vreet ook goed aan die gras en marog wat in die kampie is (was ’n swak groep kalwers wat ek ontvang het). Die probleem is nou dat pensinhoud by sy bek uitloop. Sy mis lyk normaal, nie baie styf nie, maar ook nie lopering nie en groenerig van kleur. Kan u my asb van hulp wees. Baie dankie, Petro.

Antwoord

 

Herkouers bring hulle pensinhoud op as deel van die herkouerproses, maar die voedsel wat hulle gevreet het moenie by die bek en neus uitloop nie.
Soms gebeur dit wel dat rumeninhoud (grootpensinhoud) wel by die bek uitloop en dit is abnormaal. Die toestand word in die meeste gevalle verbind met die verlies van tonus (spiersametrekking) of inflammasie van die kardia (area waar die slukderm aan die rumen verbind is). Ons kan die toestand ook vermering noem.
“Opgooi” in herkouers is eintlik die uitbraking van groot hoeveelhede rumeninhoud deur die bek.
Redes van vermering in herkouers kan die volgende wees:
·         In melkkoorsgevalle mag daar verlies aan spiersametrekking (tonus) van die kardia wees.
·         Vergiftiging met bytmiddels (arseenvergiftiging of bytsoda) wat die kardia brand.
·         Vergiftiging met sekere plante soos bv. Vermeerbos (Geigeria spp.), Hymenoxis spp., Oleander spp. (Ceylonsroos) laat herkouers voedsel opbring.
·         Veeartsenyprosedures waar groot hoeveelhede vloeistof per maagbuis toegedien word. Dier bring op terwyl maagbuis nog in plek is.
·         Besering van die slukderm bv. die gebruik van ‘n maagbuis met te groot deursnee.
·         By beeste met ‘n ontsteking van die buikvlies net om die ruitjiepens (bv. draad wat deursteek) vind vermering soms plaas.
·         ”Herkoutjieverlies” vind plaas met aangebore afwykings van die kardia en slukderm (heelwaarskynlik die probleem met die vraesteller se kalf).
·         Vermering kan ook plaasvind waar verkeerde kos ingeneem is (of waar verlamming van die slukderm plaasgevind het) bv. asidose.
·         Selfs oorvolheid van die pens kan vermering veroorsaak a.g.v. ‘n refleksprikkeling van die brein.
Waar aangebore afwykings teenwoordig is, kan niks gedoen word nie. Teen besering van die slukderm kan nie veel gedoen word nie.
In die geval van waardevolle diere, laat u veearts die dier ondersoek om ‘n moontlike oorsaak vas te stel en behandeling voor te skryf.
Bronne:
Mönnig, H.O. en Veldman, F,J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg Uitgewers. ISBN 0 624 00359 0
Radostits, O.M., Gay, C.C., Hinchcliff, K.W. and Constable, P.D. 2007. Veterinary Medicine. Elsevier.             ISBN 978-0-7020-2777-2
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
24 Desember 2011
Lees ook:
         Koei se neus bloei
        Pensmis in skaap se mond

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.