Vra vir Faffa

Vermeerbos (Geigeria spesies)

Vraag

Op ons plaas is daar baie vermeerbos. Daar kom gereeld vrektes voor. Is daar raad om die probleem te bestry?

Antwoord

Ongelukkig is daar tans min praktiese wenke rondom die werklike dinamika van vermeerbos en die beheer daarvan bekend. Die verskillende spesies bekend in Suid-Afrika varieer van een- tot meerjarige gifplante wat inheems is en wel van tyd tot tyd probleme oplewer. Sekere spesies het ‘n hoër groeivorm as die meer plat-groeiers, maar is almal redelik na verwant aan mekaar. Die enkele bekendste publikasies wat wel reeds die lig gesien het, sluit in:

  • Our present knowledge of “vermeersiekte” deur J F W Grosskopf – 1964
  • Giftige plante deur Eugene en Glen Mol – 1989
  • Giftigeplante van Suidelike Afrika deur J Vahrmeijer – 1981.
  • Plant poisonings and mycotoxicoses of livestock in southern Africa deur Kellerman TS, Coetzer JAW, Naude TW en Botha CJ – 2007
Laasgenoemde boek som alles wat reeds bekend is oor vermeerbos in detail op.
 
Daar bestaan wel opgetekende inligting wat prakties deur boere ervaar is en wat ook van hulp kan wees vir toekomstige beheer en bestuur van hierdie probleemplant. Aangesien daar nie werlike klinkklare oplossings vir die probleem is nie, sal gevolglik sleg riglyne oor die beheer en bestuur daarvan verskaf word.
 
Algemeen oor vermeerbos
 
Die houterige struikie (100 tot 300 mm hoog) het lintvormige smal blare wat lintvormig dig saam op die takke gerangskik is. Die blomblare, met ‘n kenmerkende geel kleur, wat ongeveer agt maande aan die plant bly sit todat hulle genoeg verweer het om die smal langwerpige sade vry te stel. Dit beskik oor ‘n houtagtige wortelstok. Vermeerbos produseer gemiddeld 1 855 sade met ‘n ontkiemingspersentasie van tussen 80 en 90%. Die sade het ‘n narypingsperiode van ongeveer 18 maande en kan so lank as 13 jaar steeds kiemkragtig bly. Sade vereis net soveel water vir ontkieming as meeste grasse, maar die plant is minder droogtebestand as byvoorbeeld rooigras (Themeda triandra). Hulle ontkiem ook nie in ‘n digte plantegroeistand nie en kan ook nie oorleef in sulke digte grasstande nie. Waar grasse en bossies dus herhaaldelik straf bewei word, sal dit tot voordeel van vermeerbos-indringing wees. ‘
 
Vermeersiekte is nie eintlik ‘n siekte nie, maar ‘n vorm van vergiftiging veroorsaak deur diere se inname van die vermeerbosplant. Die eerste aanmelding van die siekte was reeds in 1878, waar beweer is dat skape naby Victoria-Wes gedurende 1864 ge?nfekteer is deur vermeerbos wat hulle gevreet het. Vermeerbos is hoofsaaklik beperk tot die sentrale Karoo en dus die droër suidelike, suidwestelike en westelike dele van Suid-Afrika, waar dit op ‘n groot verskeidenheid grondvorme aangetref word, maar veral kalkagtige gronde. Die bewering is dat dit algemeen op swak besuurde veld voorkom waar die plantbedekking yl is. ‘n Goeie veldbestuurstelsel wat digte plantgroei verseker, is dus die teenvoetter vir vermeerbos vermeerdering. In klein hoeveelhede gevreet, is dit nie giftig nie, maar genoeg moet ingeneem word om vermeersiekte te veroorsaak. Die eerste tekens van vermeersiekte is styfheid en ‘n traagheid om te beweeg, wat in die meeste gevalle deur verlamming gevolg word. Aangetaste diere word maer, teer uit en bring hulle groen rumeninhoud op. Die slukderm word half verlam en daarom loop die rumeninhoud deur die neus en mond uit waaraan die dier kan verstik. In baie gevalle vrek die diere aan longontsteking.
 
Die voorkoms van vermeerbos volg ‘n variërende tendens van jaar tot jaar afhangende van die hoeveelheid en verspreiding van die reënval oor ‘n seisoen.  So byvoorbeeld was die bo gemiddelde reënval wat groot dele van onder andere die Noord-Kaap die afgelope groeiseisoen asook ‘n paar seisoene gelede, ontvang het, ten gunste van vermeerbos vestiging. Boere beweer dat met hierdie bo gemiddelde reënval die voorkoms van vermeerbos juis totaal ontplof het. Alle omgewingstoestande was moontlik net ideaal vir hierdie ontploffing van vermeerbos. Die verskynsel was so erg dat grootskaalse vermeerbosvergiftiging selfs onder beeste kop uitgesteek het. 
 
Vermeersiekte is ‘n siekte wat meer algemeen by skape (alle rasse, ouderdomme en geslagte) aangetref word, met die meer selektiewe vreterrasse die gevoelligste. Voorbeelde van die siekte kom wel tot ‘n mindere mate ook by bokke en beeste voor.
 
 
Beheer
 
Dit blyk dat vermeersiekte een van die min soorte plantvergifrigings is wat vermy kan word deur die toepassing van die regte beweidingsmetodes. Die algemene benadering tot beheer is ‘n verhoging in weidruk en verlaging in weidingstyd. Die idee hier rondom is om inname van vermeerbos per dier te beperk, maar tog alle vermeerbosplante te benut en sodoende vermeersiekte te beheer.
 
Een resep is om besmette vermeerboskampe vir byvoorbeeld drie weke afwisselend te bewei met byvoorbeeld drie verskillende troppe skape totdat al die vermeerbosse benut is. Na beweiding van ‘n trop in ‘n besmette kamp beweeg die diere weer na ‘n kamp sonder vermeerbos. Die beweiding moet gepaardgaan met redelik hoë veebeladings (ongeveer 4-5 keer die algemene veebelading) sodat diere gedwing word om die gifplant te vreet. Die kort (ongeveer ‘n week) beweiding vir ‘n trop is net kort genoeg dat die diere nie sal siek word of vrek nie en dan word hulle weer met ‘n vars groep vervang, wat uit ‘n besmette kamp kom. Die idee is om die skape te dwing om vermeerbos te vreet sonder dat individue toksiese hoeveelhede inkry. Die verdunningseffek van die toksiese stowwe van vermeerbos in die diere, is dus die primêre benadering met die beheer van die plant. Sou diere wel tekens van vergiftiging toon, word hulle dadelik na ‘n onbesmette kamp verskuif vir herstel. Sukses verhale is wel bekend waar hierdie stelsel vermeerbos totaal in ‘n kamp uitgewei het. Die plante moet bewei word in die vroeë stadium van ontwikkeling voordat dit begin blom of reeds saad gemaak het.
 
Nog ‘n voorbeeld is waar ongeveer twee weke in ‘n besmette kamp te wei en twee weke uit, kan ook gevolg word totdat alle vermeerbos benut is. Die idée is om die diere te skuif voordat enige tekens van vermeersiekte voorkom. Dit sal die diere ook kans gee om in die onbesmette kampe weer te herstel voordat hulle weer die gifplant moet benut.
 
Beesboere moet dalk eerder ‘n skaapkomponent gebruik om die vermeerbos effektief te benut voordat oorweeg word om dit te doen met hoë voedingbehoefte koeie op ‘n melkplaas. Skape is meer selektiewe beweiers as beeste en sal  vermeerbos intensief  benut en gevolglik verdere indringing  beheer.
 
Meganiese beheer is slegs moontlik indien enkele plante sou voorkom, aangesien dit koste- en arbeidsintensief is. Soos reeds genoem lê die sade dormant in die grond en wag net vir toestande om gunstig te raak vir ontkieming. Die beheer is dus nie slegs ‘n eenmalige proses nie, maar vereis ‘n opvolgaksie. Chemiese onkruiddoders is ook nie ‘n oplossing nie weens die koste daaraan verbonde en praktiese uitvoerbaarheid. Wat biologiese beheer aanbetref, is daar wel insekte wat daarop voorkom, maar insekte sal dit ongelukkig nie totaal vernietig nie.
 
In die hoër reënvaldele is dit makliker om vermeerbos te bekamp omdat grasse vinniger op reënval en goeie veldbestuur reageer as in droër dele en dus die plantbedekking vinniger kan verdig. Hoe vinniger plantegroei kan verdig, hoe slegter is die vermeerbos se habitat. 
 
Boererate soos die byvoeging van sekere chemiese elemente/stowwe tot die diere se lekke en water het ook nog nie die toets van die tyd deurstaan vir vermeersiekte beheer nie.
 
Geskryf deur: Prof Hennie Snyman, Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde, Universiteit van die Vrystaat
 
20 Mei 2012
 
Lees ook:
 
 

Kommentaar

Een kommentaar op “Vermeerbos (Geigeria spesies)

  1. Amanda
    Amanda

    ons het baie gifbos, vermeerbos en talle ander gifplante op die plaas. ek was eers baie onkundig en toe daar ‘n skaap huis toe kom met skuim om die mond (vermeer) skrik ek en gee die skaap comfreytee in, die volgende dag is sy weer veld toe. daarna het nog een voorval voorgekom, maar ek het vir haar ook van die tee ingegee waarna sy ook weer reggekom het.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.