Vra vir Faffa

Teef op hitte

Vraag

'n Leser wil weet van watter ouderdom haar Jack Russell-teef op hitte gaan en of daar 'n middel beskikbaar is om reuns weg te hou. Een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet van watter ouderdom af ‘n Jack Russell op hitte gaan. Ek het gehoor van ‘n middel wat jy by troeteldierwinkels te koop kry wat aangespuit kan word om ‘n reun weg te hou, maar werk dit rêrig? – Ciska Myburgh (ciska@ipa.co.za)

Antwoord:
Puberteit

Honde bereik gewoonlik geslagsrypheid op ‘n gemiddelde ouderdom van 6 tot 7 maande, maar dit kan enige iets van 4 tot 22 maande wees, afhangende van die individuele hond, asook die honderas. Kleinras honde kom gewoonlik die eerste keer op hitte tussen 6 en 10 maande ouderdom.

Sproeimiddel

‘n Paar vrae om te oorweeg aangaande die middel waarna u verwys:
 

  • Hoe gaan u bepaal wanneer om die sproei te begin gebruik? Die term op hitte is ‘n samevatting van twee stadia van die teef se siklus – proëstrus en estrus. Proëstrus word gekenmerk deur ‘n bloederige vaginale afskeiding en swelling van die vulva. Proëstrus word gevolg deur estrus. Gedurende estrus kan die bloederige afskeiding asook die swelling van die vulva afneem. Die teef laat gewoonlink dekking slegs toe gedurende estrus. Proëstrus kan egter enige iets van 2 tot 25 dae duur.
  • Kan u die middel akkuraat elke 4 tot 6 ure aanspuit?
  • Hoe gaan u bepaal hoe lank u die sproei moet gebruik? Estrus kan tussen 2 en 21 dae duur.
  • Watter waarborg het u indien die middel nie werk nie en die teef dragtig word?

    Ek kan dus glad nie so ‘n middel aanbeveel nie.

    Ander opsies

     

  • As u nie met die teef wil teel nie, laat haar steriliseer. Dit sal ook die teef se kanse om kanker van die melkkliere te ontwikkel, verminder.
  • As u met die teef wil teel, nader u veearts oor inspuitbare voorbehoedmiddels. Die middels is geskeduleerde medisyne omdat dit gedurende ‘n spesifieke stadium van die teef se siklus toegedien moet word om effektief te werk.

    Verwysing:
    Compendium of Animal Reproduction 9th Edition. 2006. Intervet International.

     

  • Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc).

    19 Mei 2009


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.