Vra vir Faffa

Hoendertampans

Vraag

Vertel my meer van die hoendertampans.

Antwoord

Tampans

Harde dopbosluise en tampans verskil van mekaar in etlike opsigte. By bosluise is daar ‘n harde dop, genoem die skild, wat by die mannetjies die hele rug bedek,  maar by die larwes, nimfe en wyfies net ‘n klein deel vóór. Tampans het ‘n growwe, taai vel sonder skild en daar is min verskil tussen mannetjies en wyfies. By harde dopbosluise sit die monddele waarmee hulle byt vóór aan die liggaam; by volwasse tampans sit die monddele aan die onderkant. Met iedere ontwikkelingstadium van ‘n harde dopbosluis suig hy net een maal bloed en vervel dan, of die wyfie lê haar eiers en sterf; die nimfe en volwasse tampans suig herhaaldelik bloed en die wyfies lê na elke maaltyd ‘n aantal eiers, maar daar is ‘n paar uitsonderings.
 
Tampans van belang is die hoendertampan, die stekelrige oorbosluis en die ooglose tampan.
Die  sagte dopbosluise val onder die genus Argas. Daar is meer as 12 bosluissoorte in hierdie genus wat in Suid-Afrika voorkom, feitlik almal parasiete van vo?ls of vlermuise. Twee hiervan parasiteer pluimvee nl. Argas persicus en A. walkerae. Hierdie twee is met die blote oog ononderskeibaar.
Die volgende kombinasie van kenmerke onderskei die genus Argas:
·         Die volwasse tampan word omtrent 6 mm lank en is grysblou van kleur.
·         Kantlyn van die lyf is afgeplat met ‘n definitiewe lyn wat die bo- en onderkant skei.
·         Volwassenes en nimfe het afgeplatte lywe en lyk dieselfde.
·         Volwassenes en nimfe het ‘n verrimpelde leeragtige huid met ‘n patroon deur skywe gevorm wat min of meer straalvormig op beide die rug- en onderkante vertoon.
·         O? is afwesig.
 
Argas persicus
Algemene naam: Die hoendertampan
Gashere: Pluimvee, veral hoenders
Voorkeuraanhegtingsplekke
Die volwassenes en nimfe voed snags, onder die vlerke of op die bene van die hoenders terwyl hulle slaap. Die larwes heg gewoonlik aan die vlerkbasis vas.
Lewensiklus
Die hoendertampan is gedurende die somermaande op sy aktiefste. Tydens die nie-parasitiese (vrylewende) fases van die lewensiklus bly die tampan bv. in skrefies en nimfe kom snags te voorskyn om vir kort periodes wat van 5 minute tot 2 uur duur, te voed.
Die volwassenes voed 5-6 keer gedurende hulle lewensloop met tussenposes van ongeveer 1 maand in warm weer en met langer tussenposes in koue weer. Paring vind na voeding plaas en die wyfie lê dan ‘n klein groepie eiers wat van ‘n dosyn tot etlike honderde in getal mag wissel. Die eiers word gelê in krake en skrefies van houtwerk van mure of onder boombas. Die lêproses word na elke voeding herhaal. Die eiers begin na omtrent 3 weke in warm weer uitbroei en die klein kleurlose larfies, wat net meer as 0,5 mm lank is, kom te voorskyn. Die larwes soek na ‘n paar dae ‘n gasheer, heg vas en voed vir etlike dae (3 tot 5) in teenstelling met die volwassenes en nimfe. Gewoonlik sit hulle onder die vlerke en is donkerblou, so groot soos ‘n speldekop. Kort voordat voeding voltooi is, verleng die larf se liggaam en word afgeplat. Dan verlaat dit die gasheer en verdere ontwikkeling vind in ‘n skeur of krakie plaas waar die larf na ‘n paar dae tot ‘n eerste-stadium nimf vervel. Laasgenoemde voed op sy beurt, vervel en gaan deur ‘n tweede-nimfstadium voordat dit ‘n volwasse tampan word. Die nimfe en volwassenes suig net snags vir ‘n half- of anderhalfuur lank bloed en kruip weer weg in die hok. Ná elke maaltyd lê die wyfie ‘n aantal eiers. Die hoendertampan kan onder optimale toestande sy lewensiklus binne ongeveer 4 maande voltooi.
Al die stadia van hierdie bosluissoort kan ‘n wye temperatuur- en lugvogspeling weerstaan. Larwes kan uithongering vir 2 maande of langer en volwassenes vir ten minste ‘n jaar en soms nog langer (5 jaar) onder gunstige toestande oorleef.
Dit is dus onprakties om hulle deur uithongering te probeer uitroei.
Verspreiding
Ten tyde van die skrywe van hierdie inligtingstuk is die enigste bevestigde rekord van hierdie bosluissoort in suidelike Afrika vanaf Windhoek verkry.
Siektes oorgedra
Die hoendertampan dra beide Borrelia anserina wat hoenderspirochaetose veroorsaak en Aegyptianella pullorum, die oorsaak van hoenderaegyptianellose, oor. Groot bevolkings van hierdie bosluis kan in hoenderhokke opbou en vo?ls kan deur die herhaalde aanvalle maklik aan bloedverlies vrek. Soms skei die bosluise ‘n gifstof af wat verlamming van besmette pluimvee veroorsaak.
Argas walkerae
Algemene naam
Walker se hoendertampan
Beskrywing
Hierdie tampan lyk met die blote oog net soos A. persicus.
Gashere
Hoenders
Voorkeuraanhegtingsplekke en lewensiklus
Nie presies bepaal nie; is waarskynlik baie soos dié van A. persicus.
Verspreiding
A. walkerae is tot onlangs foutief as A. persicus beskou en gevolglik is die verspreiding van hierdie twee bosluissoorte in Suid-Afrika heeltemaal met mekaar verwar. Huidige rekords dui egter daarop dat A. walkerae die algemeenste en wydverspreidste spesie is. Dit word teenswoordig in die omgewing van Pretoria, Christiana, Fort-Beaufort en Queenstown-streke, by Omaruru in Namibi? en by Maseru in Lesotho aangetref.
 
Siektes oorgedra
Onbekend
Bestryding
Om die tampan te bestry, moet die hoenderhok goed skoongemaak en los voorwerpe verwyder word. Verwyder alle beddegoed, neshooi en afval en verbrand dit.
Laasgenoemde moet ook behandel word as hulle teruggeplaas moet word in die hok. Alle los bas moet van slaapstokke en ander houtwerk afgetrek word. Dan word die hele hok en veral krake, skrefies en voe? van houtwerk deeglik bespuit met Karbadip (G1291) en die behandeling moet ná 10-14 dae herhaal word. Die tampan self  kan ook bestry word met Karbadip.
 Meng 3 kg Karbadip in 3 000 liter water en spuit maandeliks.
Bron: Howell, C.J., Walker, Jane B en Nevill, E.M. 1983. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Wetenskaplike pamflet, Departement van Landbou-Tegniese Dienste, Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0 621 03849 0
Vir foto’s van Argas spp. gaan na:
Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
25 Februarie 2012

Kommentaar

Een kommentaar op “Hoendertampans

  1. Jannie van Pletzen (Winterhoek)
    Jannie van Pletzen (Winterhoek)

    Baie dankie vir hierdie uitstekende webwerf. Ek soek al baie lank na sulke inligting!


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.