Vra vir Faffa

Hoe gemaak met vrotpootjie by skape?

Vraag

Moet ooie en lammers uitgeskot word indien hulle vrotpootjie het?

Antwoord

Vraag:
Moet ooie en lammers uitgeskot word indien hulle vrotpootjie het? Is die toestand oorerflik? Daar is entstof in die buiteland beskikbaar (verw. bl. 72 Siektes en Parasiete van beeste ens . Verskeie skrywers). Is invoere van dié entstof moontlik op versoek van ‘n boerevereniging? – Smith de Vries (smithestel@telkomsa.net)

Antwoord:
Sorg eerstens dat die diagnose deur ‘n kundige vasgestel en bevestig word. Baie mense maak die aanname dat dit vanselfsprekend is dat ‘n skaap wat kruppel loop aan vrotpootjie moet ly. Dis beslis nie noodwendig die geval nie. Oor die algemeen is daar in Suid-Afrika baie meer skape wat as gevolg van sweerklou mank loop. Indien dit wel vrotpootjie is, moet onthou word dat die siekte onder klam omstandighede hoogs aansteeklik is. Dus behoort aangetaste diere in elk geval van die gesondes geskei te word.

Ja, die neiging of vatbaarheid vir vrotpootjie by skape is deels oorerflik en dus sal die prul van alle aangetasde diere op die lang termyn die voorkoms daarvan verlaag, maar nie geheel uitwis nie. Geselekteerde vrotpootjie bestande diere wat nogtans vrotpootjie kry, sal ook geneig wees om dit slegs in ‘n milde vorm te ervaar. Maar dit is nie die hoofrede waarom aangetaste diere verwyder moet word nie. Die groot en onmiddelikke voordeel van uitskot is die drastiese afname in draerdiere wat die siekte deur die droë seisoen laat oorleef. Indien elke skaap in die winter (ons praat hier van somerreëngebiede ) sorgvuldig vir enige klou (hoef) afwyking deurgekyk word en alle positiewe of verdagte gevalle uitgeskot word, kan die voorkoms drasties verlaag of selfs uitgewis word.

Laastens kan daar wel deur die plaaslike veearts aansoek gedoen word vir die invoer van die entstof. Onthou egter dat die entstof nie ‘n wonderwerk is nie en jaarliks voor die verwagte vrotpootjieseisoen toegedien moet word. Dit verlaag die voorkoms van die siekte en stel die boer in staat om minder diere uit te skot. Dit sal betreklik duur wees om die entstof in te voer. Kloue sny en voetbaddens kan ook tot beheer bydra.

Begin verkieslik by die plaaslike veearts, sodat die probleem op ‘n ordelike wyse aangepak kan word.

 

  • Geskryf deur prof. Gareth Bath, Fakulteit vir Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    2 Junie 2006


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.