Vra vir Faffa

Haarwurmbesmetting in lammers

Vraag

Wat is die vroegste wat skaap lammers op weidings in die somer haarwurms kan kry wat bestry moet word? - Hannes Weilbach (weilbach.hannes@gmail.com)

Antwoord

Haarwurms (Haemonchus contortus) kom in die melkpens (abomasum) van veral skape en bokke voor. Die haarwurm van beeste is Haemonchus placei. ‘n Wyfie haarwurm kan elke dag tussen 5 000 en 10 000 eiertjies lê. Die eiertjies word in die mis uitgeskei.

Onder ideale omstandighede: warm weer (+ 17°C), genoeg vog (meer as 15 mm reën per maand), broei die eiertjies uit en die eerste stadium vrylewende larfies kom te voorskyn. Die larfies vervel na die tweede stadium en weer ‘n keer tot die derde besmetlike stadium. Hierdie vrylewende besmetlike stadium het 2 skedes en kan vir maande op die weiding lewe mits daar genoeg vogtigheid teenwoordig is en die omgewingstemperatuur nie te warm is nie (40°C laat die larwes vrek). As daar genoeg vog (dou) op die gras teenwoordig is, beweeg die larfies op en af saam met die vogtigheid.

Sodra ‘n lammetjie grassies kan peusel, kan van die larfies saam met die gras ingeneem word.

Hierdie larfies ontskede sodra hulle in die grootpens kom. Hierdie derde stadium larwes kan binne 2 dae in die melkpens vervel tot die vierde larfstadia. Hierdie larwes vervel weer en ontwikkel tot die vyfde stadium wat na 17 tot 21 dae na besmetting begin eiers lê. Vanaf die vierde stadium begin die wurms bloed suig.

Op die Ho?veld mag larwes vanaf Maart tot Oktober vertraag word (hipobiose) in hulle ontwikkeling. Afhangende van die hoeveelheid besmette larwes wat op die weiding voorkom, mag lammertjies wie se immuunsisteem nog nie goed ontwikkel is nie, hiperakuut vrek. In hierdie gevalle is daar 10 000 tot 35 000 besmetlike larfies ingeneem. Die vierde stadium larfies veroorsaak klein bloedings in die melkpens en die vyfde en volwasse wurms suig bloed. Bloedings en erosies kom voor waar hulle aan die slymvlies van die melkpens vassuig. Lammers  en skape kan tot 200 tot 600 ml bloed per dag verloor.

Akute gevalle kom voor waar daar besmettings van 1 000 tot 10 000 wurms teenwoordig is. Daar is ‘n bloedverlies van 50 tot 200 ml bloed per dag. Hierdie diere ontwikkel bloedarmoede, kwakkeel en kan vrek. In kroniese gevalle is daar 100 tot 1 000 volwasse wurms in die dier. Bloedverlies is 5 tot 50 ml bloed per dag, maar dit kan vir maande aanhou. Diere vermaer, word swak en kan vrek.

Bestudeer die Famacha-sisteem wat vir u ‘n indikasie sal gee of u moet doseer aldan nie.

Gereelde miseiertellings sal u ook inligting kan gee van die graad van wurmbesmetting in die kudde.

Lees ook die volgende antwoorde:
2375830    Wurms in diere
2497172    Wurmmiddels vir skape
2301512     Interne parasiete
2066940     Inwendige parasiete by skape
1744517     Sakkie onder skape se keel
2066499     Ooie kry kwakkeel ná dosering
1992441     Só werk FAMACHA-sisteem

  • Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, Veeartsenykundige konsultant.

29 Julie 2009


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.