Vra vir Faffa

Gebruik van nie-geregistreerde medisyne, asook die gebruik van hondemedisyne in katte

Vraag

Ek het medisyne wat ek vir beeste gekoop het in my medisynekas. Kan ek dit vir my hond gee? Nog ‘n vraag: Kan ek hondemedisyne vir katte gee?

Antwoord

Gedurende die registrasieproses van medisyne in diere, word die volgende bepaal:

·   Veiligheid van die produk in die spesifieke dierespesie
·   Die effektiwiteit van die produk in die spesifieke dierespesie
·   Die dosis en die roete van toediening in die spesifieke dierespesie
 
Medisyne of ander produkte wat dus nie vir honde en/of katte geregistreer is nie, moet dus nie in of op hulle gebruik word nie, aangesien daar nie data beskikbaar is oor die veiligheid van die medisyne of produkte in die dierespesies nie. As u hond of kat dus sou siek word en selfs vrek weens die gebruik van hierdie middels, sal geen maatskappy daarvoor verantwoordelikheid neem nie.
 
Dit is ook uiters belangrik om nie medisyne of produkte wat slegs vir honde geregistreer is, in of op katte te gebruik nie. Katte se metabolisme verskil van die van honde en produkte wat veilig is vir honde kan katte doodmaak.
 
Onthou ook dat mensmedisyne nie in honde of katte gebruik moet word nie, tensy dit deur u veearts voorgeskryf is.
 
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom, BVSc (drsunelle@vodamail.co.za)
 
11 Januarie 2011

Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.