Vra vir Faffa

Ent elke bees teen sponssiekte

Vraag

Elke bees behoort jaarliks teen sponssiekte geënt te word, skryf 'n veearts.

Antwoord

Vraag:
Ek het my beeste geënt met Supavax (teen miltsiekte, lamsiekte en sponssiekte). Ek spuit al jare lank Supavax, wat ek in my kalwers opvolg met Duovax (lamsiekte en sponssiekte) met groot sukses. Drie weke gelede vrek 5 verse aan dikkopsponssiekte soos gediagnoseer deur my veearts. Beteken dit dus dat Supavax se tyd uitgedien is aangesien die diere nou vrek aan ‘n ander tipe sponssiekte? Ek sien deesdae advertensies van entstowwe wat ander tipes sponssiekte dek. Hoe nou gemaak, watter entstof behoort ek te spuit? – Louis Fourie (ljfourie@vodamail.co.za)

Antwoord:
Sponssiekte inenting U keuse van entstowwe vir inenting teen sponssiekte is puik. Sponssiekte in Suid-Afrika word hoofsaaklik deur Clostridium chauvoei veroorsaak en elke bees behoort jaarliks daarteen geënt te word. Dit geld ook vir lamsiekte en miltsiekte. Miltsiekte hoef net eenmaal jaarliks geënt te word, maar die ander twee word die eerste jaar tweemaal gedoen, soos in u program aangegee.

Sponssiekte word ook in ‘n mindere mate deur ‘n verskeidenheid van ander Clostridium-tipes veroorsaak, en dikkopsponssiekte (Clostridium novyi) is die algemeenste van hulle. Omdat die verskillende sponssiekte entstowwe (bevattende C. chauvoei) wat in Suid-Afrika beskikbaar is, so goed teen die gewone vorm van sponssiekte beskerm, word gewone sponssiekte selde gesien, behalwe waar ‘n boer nalatig was en nie geënt het nie. Dan kom gevalle dadelik voor, omdat die kiem van gewone sponssiekte orals in die omgewing aanwesig is. <p. Veeartsenykundige laboratoriums ontvang monsters van diere wat ten spyte van inenting, siek word, en diagnoseer daarom meestal een van die ander oorsake van sponssiekte. Daardeur kan ‘n wanindruk geskep word dat gewone sponssiekte nie meer voorkom nie. Die min positiewe gevalle van C. chauvoei wat laboratoriumtoetse aandui, is egter ‘n weerspieëling van die deeglikheid van die meeste boere se inentingsprogramme en nie ‘n aanduiding van die werklike voorkoms nie.

Aangesien dikkopsponssiekte nou ook op u plaas voorkom, moet u aanvullend jaarliks daarteen ent. Net soos vir gewone sponssiekte word alle beeste op u plaas die heel eerste keer twee keer geënt, 3 – 4 weke uitmekaar, en daarna jaarliks. Kalwers en aangekoopte diere moet natuurlik twee keer geënt word, voordat hulle ook by die jaarlikse program inval.

 

  • Beantwoord deur: Dr Marijke Henton, Golden Vetpath (maryke@goldenvetlab.co.za)

    (Soek verdere inligting oor "dikkopsponssiekte" in die soekkassie.)

    25 Augustus 2006


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.