Vra vir Faffa

Die beheer van bloutong in skape deur enting

Vraag

Daar is soveel onduidelikheid oor hoe bloutongentstof toegedien moet word. Daarom is die ontwikkelaar van die entstof gevra om hierop lig te werp.

Antwoord

DIE  BEHEER VAN BLOUTONG IN SKAPE DEUR ENTING

 

 

Baltus Erasmus

Deltamune (Edms) Bpk. Lyttelton, Pretoria

(Voormalige Hoof : Onderstepoort Biologiese Produkte)

 

Meeste boere in Suider Afrika is redelik bekend met bloutong by skape. Dit is egter nie algemeen bekend dat beeste en feitlik alle inheemse wildsbokke vatbaar is vir bloutongvirus nie alhoewel hierdie diersoorte baie selde of nooit enige kliniese tekens van infeksie toon nie. Daarenteen is verskeie uitheemse boksoorte soos takbokke, herte, bergskape asook enkele ander diersoorte soos alpakkas baie vatbaar vir bloutongvirus met hoë mortaliteit in sekere gevalle.

 

Alhoewel beeste en inheemse wildsbokke nie kliniese tekens van besmetting toon nie, speel hulle nogtans ’n baie belangrike rol in die vermeerdering en instandhouding van bloutongvirusse.

Bloutong by skape is reeds bekend sedert Merinoskape in 1789 na Suid-Afrika gebring is. Dr. Duncan Hutcheon het in 1880 die siekte die eerste keer beskryf maar die eerste redelik volledige beskrywing van die kliniese siekte en die nadoodse letsels is eers in 1902 deur dr. Spreull hier in Suid-Afrika beskryf. Dit is egter hoogs waarskynlik dat bloutongvirus reeds vir baie eeue ongesiens in die wildbevolking gesirkuleer het en dat die inbring van die Merinoskape bloot as ‘n indikator van die siekte gedien het.

 

Verskillende skaaprasse wissel in kliniese vatbaarheid vir bloutong. Inheemse skaaprasse kan wel besmet raak met bloutongvirus maar toon, soos die inheemse wildsbokke, geen kliniese tekens van die siekte nie. Daarenteen is uitheemse skaaprasse, in besonder Britse vleisrasse, buitengewoon gevoelig vir bloutong.  Kruisings tussen inheemse en uitheemse rasse (bv. die Dorper) beskik oor ‘n redelike mate van weerstand teen die siekte en vrektes kom nie so algemeen voor nie.

 

Bloutong word veroorsaak deur virusse wat tot die genus Orbivirus behoort. Daar bestaan minstens 24 verskillende bloutongvirus serotipes waarvan 21 in Suid-Afrika voorkom.  Al die virusse in ‘n bepaalde serotipe verleen volledige kruisbeskerming teen mekaar maar teenliggame teen een serotipe sal nie virusse van ander serotipes volledig neutraliseer nie. Daarom is ‘n skaap wat herstel het van bloutong slegs immuun teen die serotype wat hy opgedoen het en nie teen die ander 23 serotipes nie.

 

Bloutong versprei nie deur kontak  nie en die virus word biologies oorgedra deur bloedsuiende muggies van die genus Culicoides. Biologiese oordragingbeteken dat die virus na opname uit die bloed van ‘n besmette dier in die dermkanaal van die muggie vermeerder en daarna versprei na die speekselkliere van die muggie waar verdere vermenigvuldiging geskied. Wanneer so ‘n muggie 7-10 dae later weer ‘n bloedmaaltyd neem, word die virus saam met die speeksel in die dier ingespuit.

 

Die belangrikste vektor (oordraer) van bloutongvirus in Afrika is Culicoides imicola, maar ander spesies kan ook as vektore optree soos  C. variipennis in die VSA en  C. obsoletus  asook  C. pulicaris in Europa.

 

Die feit dat bloutong ‘n insek-oorgedraagde siekte is, verklaar waarom die voorkoms van die siekte baie hoër is in gebiede en onder omstandighede wat gunstig is vir die uitbroei van groot getalle insekte. Bloutong is ‘n seisoenale siekte wat in die somer- en veral herfsmaande baie volop is, veral na goeie somerreëns. In baie koue areas verdwyn die siekte gewoonlik ongeveer twee weke na die eerste ryp, maar in gebiede met baie matige winters kan gevalle dwarsdeur die jaar voorkom, hoewel steeds met ‘n hoogtepunt in die somer en herfs.

 

 

Kliniese tekens en letsels van bloutong by skape

Die primêre letsel by bloutonginfeksie is beskadiging van endoteelselle van veral klein bloedvate. Dit lei tot die uitlek van serum in weefsels en liggaamsholtes asook ‘n neiging tot puntbloedings op slymvliese en in weefsels.

 

Klinies word hierdie selskade waargeneem as koors asook swelling van die lippe en ander dele van die gesig (soms selfs die ore).  Ander kenmerkende letsels sluit in bloedings in die papille van die lippe, die neusspieël en die oogslymvliese. Erosies van die oppervlakkige epiteel word gesien op die neusspieël, die rande van die neusgate en die bekslymvliese (veral regoor die snytande en kiestande).  Die tong kan ook baie vergroot a.g.v. swelling en mag selfs by die bek uitsteek. Vanweë die swak bloedsirkulasie vertoon die tong blou-pers, vandaar die naam bloutong. 

(Dit is egter slegs ‘n klein persentasie van skape wat ‘n duidelike blou tong vertoon!) Waar die geswolle tong teen die skerp kiestande raak, kan diep en baie pynlike sere ontwikkel. Die weefsels van die onderkaak en keelarea mag ook dik geswel wees.

Die bekletsels is baie pynlik en so ‘n skaap sal nie normaal kan wei nie met ernstige massaverlies as gevolg.

 

‘n Ander baie belangrike teken by bloutong is hoefkroonontsteking (koronitis).

Dit word waargeneem as ‘n pers-rooi band waar die hoef by die vel van die been aansluit. Dikwels is net die hiele aangetas, maar soms strek die band reg rondom die hoef. Dit word veroorsaak deur bloeding in die horingkanaaltjies van die hoef wat uiters pynlik is.  Aangetaste skape mag kreupel loop of net bly lê. Hierdie pynlike toestand mag van 3-7 dae duur waartydens ‘n aangetaste skaap nie by voer of water kan kom nie met ernstige vermaering as gevolg. Daar ontstaan ook ‘n “breek” in die hoef waar die beskadigde kloutjies na 3-4 maande heeltemal afgestoot word deur die nuwe hoefweefsel.

 

Die skeletspiere kan ook ernstig aangetas word met letterlike wegsmelting van groter spiere. Hierdie spierdegenerasie dra grootliks by tot die dramatise massaverlies wat by sommige skape waargeneem word. Sulke skape neem gewoonlik soveel as ses maande om verlore massa te herwin, ten spyte van goeie voeding. ‘n Klein persentasie van skape mag ook tydens herstel kromnek (torticollis) ontwikkel wat daartoe lei dat so ‘n skaap nie sy balans kan hou nie en uiteindelik geslag moet word of die prooi word van roofdiere.

 

Tydens die akute stadium van bloutong mag die vel baie rooi wees (dermatitis). As gevolg van ontsteking van die wolfollikels is die wolvesel wat gevorm word tydens die siekte baie dunner en swakker as die normale wolvesel. Wanneer hierdie swakker deel van die vesel ongeveer 3-4 weke later uitgroei uit die follikels mag dele of die hele vag verloor word a.g.v. die breek in die wol. Selfs in gevalle waar die breek nie ernstig genoeg is om die vag te verloor nie, is so ‘n vag minderwaardig en moet nie met die res van die skeersel gemeng word nie.

 

Die vrektesyfer by bloutong mag baie varieer  (0-20%)  en hang af van die skaapras, die virusstam, maar veral ook van omgewingstoestande. Sonlig (ultraviolet strale) vererger die siekte. Wanneer siek skape aan koue en veral nat toestande blootgestel word, kan ‘n hoë persentasie vrek a.g.v. longontsteking.

 

Die nadoodse letsels by bloutong sluit in dit wat reeds in die lewende skaap gesien is sowel as inwendige letsels. Laasgenoemde is gewoonlik vloeistof in die borsholte en hartsak, moontlike longedeem (met skuim in die lugweë) of selfs tekens van longontsteking (donker ingesonke areas wat soos lewerweefsel lyk).  ‘n Baie kenmerkende letsel van bloutong is bloeding in die wand van die slagaar wat na die longe gaan (pulmonêre arterie).  Skeletspiere is gewoonlik bleek en waterig en mag grys-wit areas van nekrose toon, soms met verkalking.

 

 

Behandeling

Die beste behandeling vir skape met bloutong is goeie versorging met kos, water en skaduwee. Siek skape moet so gou as moontlik uit die trop gehaal word en in ‘n klein kampie met sonskuiling en vars water geplaas word. Sagte groenvoer moet gegee word, maar soms is die skape se bekke so pynlik dat selfs sagte voer nie gekou kan word nie. Die beste oplossing is om hoë kwaliteit voerkorrels beskikbaar te stel.

Die siek skaap sal dikwels ‘n korrel in die bek neem en nadat dit deur speeksel saggemaak is, insluk, sonder om dit  te kou. Op die wyse kan die dier genoeg voeding inneem om te oorleef.

 

Waar ‘n groot risiko van longontsteking bestaan, mag ‘n breëspektrum antibiotikum oorweeg word.

 

 

 

Beheer

Die enigste praktiese en doeltreffende maatreël vir die voorkoming van bloutong in skape is voorbehoedende inenting wat korrek en betyds voor die aanbreek van die bloutongseisoen toegedien moet word.

 

Vanweë die groot ekonomiese belang van bloutong in suksesvolle skaapboerdery is daar reeds teen die begin van die negentiende eeu besef dat inenting die enigste werklike oplossing teen bloutong behoort te bied.

 

Sir Arnold Theiler het heelwat pogings aangewend om ‘n entstof te ontwikkel, maar dit was eers teen 1946 nadat geslaag is om bloutongvirus in bebroeide eiers te kweek en te verswak,  wat die eerste redelike suksesvolle bloutongentstof ontwikkel is.

 

Teen 1948 is die bestaan van veelvuldige bloutongvirus serotipes bewys, wat verklaar het waarom die bestaande entstof soms goed gewerk het en soms gefaal het.

 

In die vyftigerjare is daarin geslaag om bloutongvirus suksesvol te kweek in selkulture. Dit het dit moontlik gemaak om d.m.v. neutralisasietoetse bloutongvirusse te serotipeer. Teen 1960 is reeds 12 verskillende serotipes beskryf. Soos wat nuwe serotipes ontdek is, is die virusse verswak (geattenueer) deur oorspuiting in bebroeide eiers en ingesluit in die meerstammige (polivalente) bloutongentstof. Teen 1963 het die entstof reeds 14 verskillende lewende verswakte virusstamme bevat. Dit het egter gou geblyk dat skape nie teen soveel verskillende serotipes in ‘n entstof kan reageer nie.  ‘n Lewende verswakte virusstam moet kan vermenigvuldig ten einde doeltreffende immuniteit te verwek. Met 14 stamme in een entstof is daar kompetisie en die skaap vorm net teenliggame teen die twee of drie mees dominante stamme.

 

Om die situasie verder te kompliseer, was daar in 1976 baie wydverspreide uitbreke van bloutong, ook in skape wat gereeld geënt is. Die vermoede dat ‘n nuwe serotipe betrokke was, is bevestig toe twee nuwe serotipes (BT18 en BT19) geïsoleer is. Veral die Tipe 19 het wyd voorgekom en was baie min verwant aan enige van die bloutongvirusstamme in die entstof – vandaar die baie gevalle in geënte skape.

 

Dit was dus duidelik dat Tipe 19 ook ingesluit moes word in die entstof wat alreeds 14 stamme bevat het. Navorsingswerk het intussen getoon dat, ongeag die aantal stamme in die entstof,  geënte skape gemiddeld slegs teenliggame vorm teen drie van die stamme. Dit kan vergelyk word met ‘n wedren waaraan baie atlete deelneem maar slegs die eerste drie pryse ontvang. Omdat dit totaal onsinnig sou wees om 15 stamme in een entstof in te sluit, is besluit om drie pentavalente entstowwe (wat elk vyf stamme bevat) saam te stel. Die logika hieragter kan weer met die beeld van atlete wat kompeteer, verduidelik word. As die 15 atlete in groepe van vyf afsonderlik aan drie verskillende wedlope deelneem, sal daar uiteindelik nege pryse toegeken word instede van drie wanneer almal saam in een wedloop kompeteer het.

 

Die drie pentavalente entstowwe (gemerk A, B en C) bevat die volgende bloutongvirusstamme : Bottel A : Tipes 1, 4, 6, 12 en 14;  bottel B : Tipes 3, 8, 9, 10 en 11 en bottel C : Tipes 2, 5, 7, 13 en 19.  Die drie entstowwe moes met ‘n minimum tussenpose van drie weke toegedien word hoewel ‘n tussenpose van vier weke of langer beter resultate getoon het.

 

Dit word toegegee dat vyf lewende bloutongvirusstamme in een entstof steeds te veel is. Die ideaal sou wees om vyf entstowwe met net drie stamme in te berei, maar dit sou vir skaapboere heeltemaal onaanvaarbaar wees ofskoon dit beter resultate sou gee.

 

Dit was uiters teleurstellend dat boere, wat in 1976 toe hulle baie skade gely het met bloutong in geënte skape en ‘n beter entstof geëis het, onmiddellik nadat die meer doeltreffende drieledige entstof in 1979 vrygestel is, groot weerstand daarteen getoon het. Die groot klagte was dat dit te veel moeite is om skape drie maal te ent.

 

Die gevolg was dat skaapboere die entstof nie volgens voorskrif gebruik het nie. Sommige het eenvoudig al drie entsowwe gemeng wel wetende dat die enkel entstof met 14 stamme, wat voor 1979 beskikbaar was, nie doeltreffend was nie. ‘n Ander baie algemene gebruik wat posgevat het, was om bottels A en B te meng en C weg te gooi. Die storie is versprei dat die stamme in C nie in Suid-Afrika voorkom nie – dit terwyl Tipe 2, wat oor baie jare die mees algemene bloutongserotipe in Suid-Afrika was, wel in bottel C is.

 

Die kerngedagte is dat die drie enstowwe ‘n eenheid vorm en daarom ook saam uitgereik word. Breë beskermende immuniteit is afhanklik van die korrekte toediening van al drie kombinasies. Dit is veral krities dat jong skape korrek ingeënt word sodra hulle ses maande oud is. Enting op hierdie ouderdom word nog nie gekompliseer deur teelprogramme nie en jong skape word in elk geval meer gereeld hanteer vir wurmdosering of vir ander inentings. Om arbeid te bespaar, kan bloutongentings dus met hierdie ander aktiwiteite gekombineer word. Bloutongentstof kan saam met enige dooie entstof toegedien word, maar nie met ‘n lewende virusentstof nie.

 

Enting van dragtige ooie is ook net ‘n probleem met die eerste bloutongenting.

Indien jong ooitjies reeds voor dekking die drie afsonderlike entstowwe gekry het, kan hulle die volgende jare met veiligheid selfs tydens dragtigheid geënt word. Indien boere egter, vir watter rede ookal, ouer skape nie drie keer wil ent nie, kan A, B en C wel vermeng word as ‘n enkel kombinasie mits die ooie wel vroeër ten minste eenkeer die drie entstowwe afsonderlik ontvang het. Die ideaal bly egter steeds die afsonderlike toediening van elke bottel.

 

Gelukkig is daar wel boere wat die drieledige bloutongentstof streng volgens voorskrif gebruik het en wat letterlik nie meer bloutongprobleme in hul kuddes ervaar nie. Dit dien as bewys dat die siekte suksesvol beheer kan word deur die korrekte gebruik van die huidige entstof.

Geskryf deur: dr. Baltus Erasmus (mortdor@gmail.com)

 

9 Februarie 2014


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.