Regskenner

Vervoer van kinders

Vraag

Ek is 'n boervrou wat ook onderwys gee. Tans vervoer ek drie leerders in my privaat motor op versoek van hul ouers na die plaaslike skool. Wat is die regsimplikasies ingeval van 'n motorongeluk. Hoe beskerm ek myself?

Antwoord

Die Wysigingswet op die Padongelukkefonds 19 van 2005 het op 1 Augustus 2008 in werking getree en die beperking van R25 000 vir mediese koste deur ‘n eiser teen die Fonds geskrap. Vanaf 1 Augustus 2008 het ‘n eiser/passasier dus ‘n onbeperkte eis vir mediese uitgawes teen die Fonds, en is daar geen eis teen uself daarvoor, indien u nalatig bestuur het, bestaan nie.

Eise teen die Fonds vir verlies aan inkomste (algemene skade) word beperk tot R180 000. Geen verdere eise bestaan teen uself vir algemene skade (pyn en lyding en verlies aan inkomste) nie. Indien die eiser/passasier ernstige/traumatiese beserings opdoen soos deur die wet bepaal, (brein,
parapleeg,kwadrupleeg) kan hy wel teen die Fonds daarvoor eis, maar soos hierbo genoem, geen eis teen uself nie.

Teen uself sou slegs geëis kan word, indien die Fonds nie in staat is om te betaal nie, soos wanneer die Fonds insolvent sou wees; asook vir eise wat verband hou met emosionele skok, byvoorbeeld deur iemand wat die ongeluk sien gebeur het, of ouers wat oor die beserings of dood van hul kind ingelig word. Vir hierdie twee gevalle waar eise wel teen u ingestel kan word; behoort u motorversekeringspolis aangepas te word om hierdie aanspreeklikheid deur u te dek. Laasgenoemde is baie belangrik.

*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur, Bill Tolken Hendrikse Ingelyf van Bellville, Kaapstad. butch@billtolken.co.za

26 Maart 2012
 


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.