Finansies

Finansiering vir ‘n eenmansaak

Vraag

Hoekom is finansiering vir 'n eenmansaak-onderneming so moeilik in Suid-Afrika?

Antwoord

Vraag:
Wat is ‘n eenmansaak onderneming en hoekom is finansiering vir hierdie onderneming moeilik in Suid Afrika? – Philippus Swartz (philippus_swartz@yahoo.com)

Antwoord:

Hier is ‘n uiteensetting van die verskillende besigheidsvorme:

Eenmansaak

Die eenmansaak bestaan waar die boer alleen in die besigheid is. Dit bied absolute onafhanklikheid ten opsigte van besluitneming en kan veral geskik wees waar die wins nie so hoog is nie. In sulke gevalle is daar ook heelwat belastingvoordele hoewel die marginale inkomstebelastingskaal van 40% tog nadelig kan wees as die belasbare inkomste meer as R300 000 per jaar beloop.

Vennootskap

‘n Vennootskap tussen twee of meer persone is die eenvoudigste manier om kapitaal, risiko, wins en bestuursverantwoordelikhede te deel. Dit is maklik en vinnig om op te rig en word gewoonlik baie tussen pa en seun gebruik. Die belastingvoordele is soortgelyk aan dié van eenmansake omdat die vennote in hulle persoonlike hoedanigheid en nie die vennootskap nie, inkomstebelasting betaal. Hoewel ‘n vennootskap gewoonlik met ‘n vennootskapsooreenkoms tot stand kom, kan dit in die oë van die wet ook daarsonder bestaan.

Beslote korporasie/maatskappy

‘n Beslote korporasie of ‘n maatskappy is ‘n regsentiteit op sy eie. Die vernaamste verskil tussen die twee is dat ‘n beslote korporasie slegs natuurlike persone (tot ‘n maksimum van tien) as eienaars (lede) mag hê terwyl ‘n maatskappy ook nie natuurlike persone (dus ook ander maatskappye of trusts) as eienaars kan hê. Die lede en aandeelhouers staan los van die besigheid en is beperk aanspreeklik ten opsigte van laste sowel as bates, van die beslote korporasie of maatskappy tensy hulle deur middel van borgstelling daartoe verbind word. Die belastingvoordele van beslote korporasies of maatskappye, veral dié wat as klein- en medium sake-ondernemings kwalifiseer, is tans die voordeligste van die vier besigheidsvorme.

Trust

Baie handboeke maak geen melding van trusts as besigheidsvorm nie en tog word verskeie boerderye ten volle of gedeeltelik in trusts bedryf. ‘n Trust gaan in wese oor die beheer van bates namens begunstigdes en is veral gewild in die geval van minderjarige erfgename. Hoewel dit verskeie voordele by erfopvolging inhou, is dit uit ‘n inkomstebelastingoogpunt die mees benadeelde besigheidsvorm.

Dit is inteendeel moeiliker om vir die ander vorme finansiering te kry omdat hulle regspersone en nie natuurlike persone is nie. Gevolglik word die eienaars gedwing om borg vir die besigheid te staan. Finansiering gaan baie meer oor die beskikbare sekuriteit as oor die besigheidsvorm self.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen, www.computus.info

    2 Maart 2007


  • Lewer Kommentaar

    Slegs in Afrikaans

    Los 'n antwoord

    Alle velde moet ingevul word.