Vra vir Faffa

Afronding van speenkalwers

Vraag

Ek wil graag weet hoeveel en waarvan per bees gevoer moet word per dag. Ek wil die kalwers op plus minus 250 kg koop, in 'n voerkraal sit en dan voer en verkoop. Wat is 'n goeie vleisbees om in 'n voerkraal te sit en wat is 'n goeie massa om die beeste op te verkoop? Lourens Niewoudt

Antwoord

Die afronding van speenkalwers is eenvoudig en kan met slegs basiese fasiliteite gedoen word. Meng slegs 200 kg Voermol SB 100 met 800 kg gemaalde mielies of hominy chop. Begin met 3 kg van hierdie kragvoermengsel per kalf per dag op die eerste dag en verhoog dit elke derde dag met 1 kg per kalf totdat ad lib.-voedingspeil (ongeveer 2.5 tot 2.8 % van liggaamsmassa) bereik word. Voer vanaf die eerste dag eenkant ruvoer (bv. grashooi, strooi of mieliereste) ad lib. Daar moet altyd ruvoer beskikbaar wees anders gaan die diere hulle aan die kragvoer oorvreet wat tot laminitis, suurpens, opblaas en selfs vrektes aanleiding kan gee. ’n Kalf wat vanaf 250 kg tot 420 kg gevoer word, sal ongeveer 170 kg Voermol SB 100 en ongeveer 685 kg gemaalde mielies in die afrondingsperiode vreet.

 
Met die keuse van ‘n ras moet eers vasgestel word watter grootte karkasse die spesifieke mark, waar die afgeronde kalwers geslag gaan word, verkies. Met die lae mielieprys is dit betalend om medium tot grootraamvleisbeeskalwers te voer. Om maksimum wins te genereer, moet slegs goeie gehalte kalwers gevoer word. Mediumraamdiere word gewoonlik op ‘n lewende massa van 380 tot 420 kg bemark terwyl grootraamdiere vanaf 420 tot 480 kg bemark word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
30 Mei 2010
 
        
        Voer van Tollies
        

Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.