Grond Guru

Aangeplante weiding vir skape

Vraag

Geagte Dr. Hoffman,Laat my eers toe om die inligting the veskaf soos per u voorskrif. Die grond is gelee 10.2km (soos die kraai vlieg)oos van Cullinan (Ged 14 van Zonkolol 473JR.Die grond le 1502m bo seespieel teen 'n 25% helling en front Suid-Suid-Wes. Die grond is by 21ha groot met 18 ha sandleem Westleigh tipe wissel van 300-600mm diep tot die horison.Ongeveer 1.2ha is kleileem donker grys met hoe humis inhoud en 600mm plus diep. Behalwe vir laasgenoemde deel het die grond baie goeie water penetrasie, ek wil glo omdat ek slegs tand bewerking (beitelploeg en veertand skoffel)toepas Ek beoog om die kleileem met lusern te plant met oorhoofse permanente klapspuite. Die boorgat is direk aangrensend van die kleileem grong en lewer 13,800l/uur. Dit was getoets deur 'n waterwese geakrediteerde kontrakteur oor 24uur aanhoudend gepomp.Ek beoog om die 18 ha in sewe kampe te verdeel met 2kampe elk beplant met armanslusern, smutsvinger en Kikuyu en 'n sewende vir winter hooi met Eragrostis. Die plan is om 200 dorper ooie aan te hou deur druk beweiding toe pas oor die ses kampe.Ek is bewus van die risiko met Kikuyu en parasiete vir skape en sou graag wou weet wat die beste aangeplante weiding sou wees vir plan. Ek beoog om ooie vanaf Mei maand te laat lam, ek verneem graag. Byvoorbaat dankie, Diek Engelbrecht Neem ab kennis dat ek tans in die buiteland is en verkieslik nie telefonies sou wou kommunikeer nie.

Antwoord

My reaksie:
Ek dink nie daar is genoeg water om aangeplante weidings of voergewasse ekonomies te verbou nie. Die meeste grasse benodig 5 to 6 mm water per dag, dit is 5 m3 tot 6 m3  per ha per dag. Indien die grond diep is kan daar tot 120 mm gestoor word, wat voldoende vir natuurlike weidings kan wees. Die lusern sal beslis aanvullend besproei moet word. Die lewering van die boorgat maak voorsiening vir 13 m3 water per uur wat sowat 104 m3 per dag kan oplewer. Dit behoort effektief so 15 ha eenmalig met drupbesproeiing te kan besproei. Klapspuite se effektiwiteit is maar op die beste 70% en dan kom die oppervlakte af na 10 ha op ’n keer. Die standhoudendheid van die waterbron sal bepaal of dit die moeite werd sal wees om die kapitale investering aan te gaan. Ek twyfel of die waterlewering dwarsdeur die somer sal hou.

Reaksie van dr. Johan Labuschagne, navorser van die Departement Landbou, Wes-Kaap:Met 13 800 liter/h gaan dit bars om 18 ha onder volle besproeiing te hou. As Et net 4mm per dag is sal hy minstens 40 000 liter/ha/dag benodig as sy stelsel 100% effektief is. So sy water gaan ver tekort skiet aan die behoefte om 18 ha te besproei, hy gaan nie baie verder as 2-3 ha kom nie. Hy kan nie te veel op die bydrae van die boorgat steun nie en sal dus hoofsaaklik addisioneel tot reën moet besproei. Of baie selektief moet besproei.

Wat die veefaktor aanbetref, hier is die raad van dr. Philip Botha, spesialis-wetenskaplike, weidingswetenskappe, direktoraat platwetenskappe, Elsenburg.

Die eerste en belangrikste probleem is insetkoste. 200 skape kan nie vir die insetkoste betaal nodig om die voorgestelde weidingstelsel aan die gang te hou nie. Ek het op ‘n luserngrasstelsel op Outeniqua, waar ek onder intensiewe bestuur tot 35 skape per hektaar kon dra, bevind dat dit nie ekonomies regverdigbaar is nie. Elke skaap is tot 36 keer per jaar hanteer, wat gewissel het van inentings teen bloutong, bloednier, ensoötiese aborsie tot pasturella, behandeling teen brommeraanvalle, parrasietbeheer, skeer van diere, lamseisoene, ens. wat arbeidsintensief was en nie die koste regverdig het nie. Dan is daar nog weidingsberstuurpraktyke soos bemesting, besproeiing, wisselweidingkampe, ens. wat ‘n koste-uitleg en voortdurende bestuur benodig.

Die voorgestelde voervloeiprogram gaan groot seisoenale produksieverskille teweeg bring wat of voer-oorvoorsiening of voertekorte laat onstaan. Dit beteken dat voer of opgeberg of aangekoop moet word. Alles faktore wat so stelsel met skape nie winsgewend maak nie.

Indien die stelsel op ‘n bewese stelsel in die gebied gebaseer is en produksiedata beskikbaar is, kan ons insette lewer. Op ons kikoejoestelsels benodig ons 1400 mm water per jaar indien ons die grondwaterspanning onder 25 Kpa wil hou, wat beteken dat as die reënval 700 mm is moet ‘n adisionele 700 mm besproei word.

Die Dorpers is ook ‘n probleem. Die beste skaapras om op aangeplante-weidingstelsels aan te hou is die SA Vleismerino. Dorpers is ‘n veldskaap en sukkel op besproeide aangeplante weidings.

Parasiete gaan ‘n probleem wees en tot verliese lei.

Die produksiepotensiaal kan verhoog word deur van oorsaaipraktyke gebruik te maak, maar weer eens regverdig die insetkoste op so klein oppervlakte nie nie die insette nie.

*Saamgestel deur dr. Eduard Hoffman, voorsitter: grondkunde, Universiteit Stellenbosch.


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.