Vra vir Faffa

Natuur versus dodelike plaagdoders

Vraag

Die misbruik van plaagdoders kan ’n dodelike uitwerking op die omgewing hê.

Antwoord

Volhoubare metodes om plae te beheer is van wesenlike belang en daarom word in hierdie artikel aandag gegee aan die benutting van die natuur om die druk van plaagdoders op die omgewing te verlaag.

Elke lewende organisme het ’n doel in die natuur en vervul een of ander belangrike funksie in die ekosisteem waarin die spesie hom bevind. Indien ’n bepaalde spesie om een of ander rede uitgeroei word, ontstaan ’n wanbalans in daardie ekosisteem en dit hou dikwels nadelige gevolge vir die boer of tuinier in.

Dit is belangrik om ’n gunstige omgewing vir nuttige organismes te skep ten einde ’n voordeel vir die betrokke organismes te bied. So byvoorbeeld bied gesonde grond ’n gesonde habitat vir mikro-organismes en dit lei weer tot gesonde plante wat beter weerstand teen insekbesmetting en siektes kan bied.

Die basiese beginsels wat nagestreef behoort te word, lyk min of meer soos volg:
Insekte: Lys alle moontlike skadelike insekte en hul vyande en kry inligting oor hulle lewensiklusse en beide se habitat. Bepaal of die pes sy oorsprong in die grond het en of dit jaarliks voorkom. Beplan eilande en gange waar ’n habitat vir die natuurlike vyande geskep word. Dit is belangrik om te bepaal of die insekte vlieg, spring, loop of meestal staties is. Hierdie inligting kan as maatstaf dien om te besluit wanneer chemiese beheerprodukte aangewend moet word om skade aan die gewas te voorkom. Beskikbare en toelaatbare beheerprodukte is nie net beperk nie, maar moet ook op die regte tyd ingespan word sodat die insekpes net tot so ’n mate uitgeskakel word dat die voordelige spesie kan oorleef.
Grond: ’n Volledige grondontleding en regstellings deur die toediening van geskikte bemestingstowwe behoort gedoen te word sodat ’n relatiewe eenvormige grond verkry word. Die grond se mikrobe-lewe kan bevorder word deur van kompos of organiese bemesting gebruik te maak.

Wanneer hierdie sake afgehandel is, kan die tuinier of boer begin om die volgende te oorweeg:
Paddas: Paddas behoort tot dié amfibiese familie wat beteken “dubbele lewe”. Die eerste deel van hul lewe word in water deurgebring, waarna hulle lewensiklus op land voltooi word. Die meeste mense is onder die wanindruk dat ’n padda ’n giftige, grillerige en glibberige gedoente is en natuurlik ook vratte gee. In werklikheid is dit ’n onskadelike diertjie en selfs ’n groot aanwins vir enige tuin. Paddas eet glad nie waardevolle plante nie, grawe nie bolle uit nie en verniel nie die tuinier se immergroen grasperk nie. Paddas dra ook geen siektes aan wat skadelik vir die mens is nie.

Die meeste insekte is snags aktief en dit is juis wanneer die padda ’n groot rol speel om die insekgetalle onder beheer te hou. Paddas beheer plae soos kewers, muskiete, motte, termiete, sprinkane en miere.

Aronskelke, gras en waterlelies in en om ’n dam is ’n ideale skuilplek vir paddas. Plaas altyd ’n groot klip in die water of maak ’n skuinste in waterpunte sodat die paddas in en uit die dam kan beweeg sonder om te verdrink.

Liewenheersbesie (ladybird): Dié besie speel ’n baie belangrike rol in tuine deurdat hulle sorg dat lastige plantluise nie die tuine oorneem en vernietig nie. Die liewenheersbesie vreet nie al die luise meteens op nie, maar los enkeles om vir die volgende seisoen voort te plant en maak so voorsiening vir nuwe kosvoorraad.

Die besies broei graag in brandnetels. Hulle oorwinter in houtkrake en paar in naaldbome. Ongelukkig is die liewenheersbesies nie meer so volop nie. Die hoeveelhede het kommerwekkend afgeneem namate onoordeelkundige bespuiting met breëspektrum-insekdoders toegeneem het.

Verkleurmannetjie: Hulle hou geen gevaar vir die mens in nie en is van die interessantste reptiele op aarde. Die verkleurmannetjie se prooi word aan die punt van ’n blitsige, taai tong gevang. Hierdie prooi sluit lastige insekte soos vlieë, brommers, motte en sprinkane in. Verkleurmannetjies word op hul beurt deur voëls, slange en katte bedreig, maar dit is veral die mens se onverantwoordelike gebruik van spuitstowwe wat die verkleurmannetjies doodmaak en hulle voedselbronne vernietig.

Wees altyd op die uitkyk vir verkleurmannetjies wanneer daar gesnoei word. Kap teen die takke of skud dit en plaas die verkleurmannetjie weer op ’n veilige plek.

Hottentotsgot: Hierdie insek rig geen skade aan nie, eet nie plante nie, versprei nie siektes nie en hou geen gevaar vir die mens in nie. Hulle raak wel ontslae van insekte soos vlieë, plantluise, vlooie, muskiete en selfs kakkerlakke.

Die hottentotsgot word grootliks deur die onkundige tuinier bedreig. Wanneer daar in die tuin gewerskaf word, behoort die tuinier altyd oplettend vir hul eiers te wees. Dit is in ’n kurkagtige struktuur gevorm en bevat 100 eiers aan weerskante van ’n sentrale rif.

Langbeen-spinnekop: Dit is ’n algemene spinnekop en kom volop in huise voor. Hulle hou van donker plekke, kruip in hoekies weg en raak van vlieë en muggies in en rondom ons huise ontslae.

Akkedisse en geitjies: Akkedisse kom orals voor en vestig hulself maklik in tuine wanneer daar stompe en klippe voorkom waaronder hulle kan skuil. Hulle vang slakke, naakslakke, kewers, ruspes, miere, motte en wurms. Op hulle beurt is hulle weer die prooi van laksmanne en loeries. Geitjies kom hoofsaaklik binne en buite huise voor en maak prooi van lastige insekte soos muskiete en motte.

Voëls: Die kwikstertjie trippel flink oor grasperke, spoor wurms op en vang vlieë en motte uit die lug. Hulle is nie skadelik vir plante nie en raak van baie lastige plae ontslae. Die kwikstertjie word ongelukkig erg deur spuitstowwe benadeel wanneer hulle die vergiftigde insekte vreet en dan daarvan doodgaan. Die voorkoms van kwikstertjies in ’n tuin dui dikwels op ’n gesonde omgewing wat redelik vry van skadelike gifstowwe is.

’n Mens kan jou voorstel hoe leweloos enige tuin sonder die gesing van voëls sou wees. Daarby verrig hulle ook nog belangrike take in die tuin. Die hadida sal met sy lang snawel slakke en wurms uit die grasperk snuffel. Loeries is dol oor slakke en die klein glasogies maak ’n roosknop silwerskoon en laat nie toe dat ’n plantluis ontsnap nie. Baie saad-etende voëls kom eet die onkruidsaad in die tuine en verhoed die verspreiding daarvan. Al vang laksmanne klein voëltjies en voordelige insekte, raak hulle ook van talle skadelike insekte ontslae.

Molslange: Glo dit of nie, maar daar is vriendelike slange wat hul deel doen om van uiters lastige tuinplae ontslae te raak. Molslange en slakvreters is twee nuttige tuinbewoners en hulle sal nie om elke hoek en draai gesien word nie. Hulle is glad nie giftig nie en bly by hul oorspronklike skuilplekke.

Molslange is van groot waarde vir die mens en daarom behoort die spesie beskerm te word. Hulle vreet slakke, molle en rotte en sodoende word die knaagdierbevolking in balans gehou. Hierdie slangspesie is lig- tot donkerbruin van kleur wanneer dit volwasse is en kan taamlik groot en dik word.

Hoewel ’n groot hoeveelheid slangspesies nie giftig is nie, kan hulle steeds lastige bytwonde veroorsaak. Alle slange behoort dus met ontsag behandel te word. Lede van die plaaslike herpetologiese vereniging kan behulpsaam wees met die verwydering en identifikasie van spesies. Geen slang behoort summier doodgemaak te word nie en veral plaaswerkers behoort hieroor ingelig te word.

Perdebye: Die gevreesde perdeby is nog een van die mees onderskatte tuinvriende. Hulle is vreedsaam en reageer net as hul gesteur word. By hierdie spesie is dit slegs die wyfie wat steek.

Die perdeby is selektief oor hul prooi en vreet ook net een soort insek. Die perdeby selekteer tussen die volgende insekspesies: plantluise, ruspes, snywurms, rooispinnekopmyt of dopluis. Hulle lê eiers op of in die gasheer en wanneer die eiers uitbroei gaan die gasheer dood omdat die gasheer as voedsel vir die perdebylarwe dien. Ander perdebye sal weer hul prooi met gif verlam en daarna preserveer tot die perdebylarwe weer voedsel nodig het. Verwelkom dié hardwerkende insekte in die tuin, aangesien hulle onophoudelik werk om plae in tuine te beheer.

Glimwurms (gloeiwurms): Dit is ’n insek wat aan baie min mense bekend is en hulle is groot helde in die uitwissing van slakke en naakslakke. Dit is ’n eienaardige bruin kreatuurtjie van sowat 25 mm lank wat in die klam gebiede voorkom waar slakke aktief is. Die slakke word met ’n chemikalie ingespuit wat hulle immobiliseer en laat vervloei, waarna die glimwurm die vloeistof deur hul kake opsuig.

Die wyfie is moeilik sigbaar en lok die mannetjie deur ’n liggie onder die laaste twee segmente van die abdomen “aan te skakel”. Die mannetjie, wat ook glim, word deur die ligte geel ligimpulse aangetrek. Die wyfie lyk soos ’n larwe en die mannetjie soos ’n kewer met vlerke. Glimwurms word veral aangetref in tuine waar die natuur toegelaat word om sy gang te gaan.

Naaldekoker: ‘n Naaldekoker is die vinnigste insek ter wêreld, kan tot 60 km/h vlieg en afstande van tot 137 km per dag aflê. Hulle voorkeurhabitat is rondom water en die wyfie lê ook haar eiers in die water. Met naaldekokers in die tuin sal daar aansienlik minder vlieë en muskiete wees. Sorg vir ’n waterpunt in die tuin om hierdie kleurvolle en fassinerende insek in die tuin welkom te laat voel.

Samevatting
Die onbeheerde gebruik van insek- en plaagdoders kan gemaklik verminder word indien die natuur self ingespan word om die balans te help herstel. In hierdie artikel is veral op die tuinier gefokus, terwyl in die aanvullende artikel in hierdie uitgawe van Noordwes Nuus meer aandag gegee is aan wat die boer op sy plaas kan doen om die druk van insek- en plaagdoders te verminder.

As daar erns gemaak word met die herstelling van balanse en die daarstelling van harmonie tussen die mens se aktiwiteite en die voorkoms van diverse lewende organismes in die mens se omgewing, sal daar deurentyd nog metodes gevind word wat gebruik kan word om die druk op die natuur te verminder.

Lees ook: Plaagdoders kan omgewing knou

Bronnelys:
Ferreira S & Klink H E, 2009. Organies in perspektief, http://www.goorganic.co.za

Geskryf deur Edward Dwyer, NWK Landboubestuursdienste.

8 Desember 2010


Kommentaar

Kommentaar (2) “Natuur versus dodelike plaagdoders

  1. Henry Botha
    Henry Botha

    Ek is baie lief vir insekte en hulle doel op die aarde. Ek glo sonder hulle sal die mensdom ook nie bestaan nie.
    Baie dankie vir die interesante inligting oor die insekte.
    Ek sal graag meer wil weet van die koringkriek (Parktown prawn). Wat is sy voordele?
    Dankie

  2. Christie Mocke
    Christie Mocke

    Ek soek asseblief raad oor hoe om geitjies uit my werkershuise te kry. Die plafonne is van spaansriet en hulle bly daar. Ek wil nie graag die riet uithaal nie want dit hou die huise lekker koel. Die bewoners is ongelukkig vrek bang vir die geitjies en maak hulle dood. Ek is raadop. Help asseblief. Dankie


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.