Jou beste vriend op die plaas

Deur Isabel Stoltz
22 Januarie 2013
Honde is nie net die mens se beste vriend nie, maar op plase moet hulle ook as werkers hul skoene volstaan – en nie net as afskrikmiddel nie.

Wat is jou gunsteling plaashond? Na watter eienskappe kyk jy as jy ‘n hond vir jou erf of plaas kies? Skryf vir ons na cornelia.vdmerwe@landbou.com of lewer onder aan die storie kommentaar. Ons gee ‘n paar idees van goeie honde vir ‘n plaas.

Anatoliese Herdershond
Kenners beskou die Anatoliese herdershond as die beste “bokhond”, oftewel honde wat
as kleintjies aan ’n ooi grootgemaak word en dan saam met die trop leef. Die bokhonde verdedig die trop teen roofdiere. Die Anatoliese herdershond is die beste omdat hulle groot, sterk en vreesloos is. Die honde sal uit die trop storm en roofdiere aanval.


Foto: LOUW PRETORIUS

Skaaphond
Werkende skaaphonde kan maklik die werk van drie of vier werkers doen. Skape en sybokke reageer baie goed wanneer hulle deur skaaphonde bymekaargemaak word. Die vee is rustiger as wanneer hulle deur mense aangejaag word – wat ook kan lei tot beter lampersentasies.


Foto: JOHAN COETSEE

Kelpie
Die Kelpie is ideaal vir plase waar met groot veetroppe gewerk word. Hulle is uitstekende werkshonde, gehard en kom met verskillende hanteerders oor die weg. Kelpies is veral in Australië gewild, want een hond kan met gemak 500 skape hanteer. Hierdie hond is nuttig wanneer vee in beperkte ruimtes, soos by drukgange, ingejaag moet word.

Foto: THEUNS BOTHA

Australiese  beeshond
Dié intelligente honde het ’n tikkie Dingo-bloed in hul are. Hulle is redelik hardhandig, maar staatmakers wanneer dit by die hantering van grootvee kom. Die hond is bekend daarvoor dat hy eintlik net bevele van een persoon aanvaar.

Foto: THEUNS BOTHA

“Trufflerhond”
In Europa word die Lagotto-honderas gebruik om truffels uit te snuffel, maar ’n plaaslike produsent, mnr. Volker Miros, wou ’n eie, aangepaste hond vir dié doel te teel. Hy en mnr. Trevor Norris het op ’n kombinasie van die Jack Russell en die Beagle besluit. Die Jack Russell se energie, langer bene en beweeglikheid word gekombineer met die Beagle se puik reuksintuig en goeie jagvernuf. Honde word geleer om net truffels uit te snuffel, maar grawe dit nie uit nie.

Foto: JOHN coetsee

Boerwindhond
Boerwindhonde is oorspronklik uit verskillende rasse vir die jag van skadelike diere in die harde, warm Suid-Afrikaanse terrein en klimaat geteel. Die honde is oor die jare geselekteer vir spoed, uithouvermoë, intelligensie en vegvermoë teen probleemdiere. Hul spoed maak hulle uiters geskik om roofdiere, soos jakkalse, in te hardloop.

Foto: LEANA ERASMUS

Cardigan Corgi
Die honde het ’n byna instinktiewe aanvoeling om met diere te werk. Hulle is meer geskik vir werk met beeste as met skape, aangesien hulle geneig is om diere aan die hakskene te byt en sukkel om skape oor groot gebiede in te hardloop. Hul kort bene help hulle om uit die pad te bly as ’n bees na hulle skop.

Foto: JOHANN THERON


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.