Eers mens, dan wins?

Deur Prof. Dr. Erik Van Der Straeten
19 Februarie 2013
"As ’n boer voor sy Skepper staan, is die eerste wat Hy sal doen, om na te gaan of die boer se werkers op ’n menswaardige manier kon leef."

Ek het die meeste artikels gelees wat in Landbouweekblad verskyn het oor probleme met werkers in die Wes-Kaap. Die meeste artikels het dieselfde inhoud, nogal ’n klaerige toon en min deeglike inligting. Dit is meer publisiteit vir die boere se standpunt.

Dit kom daarop neer dat die boere die werkers nie meer kan betaal nie. (Die boere in die Wes-Kaap het nie geld nie, maar genoeg om byna R2?miljard te verloor in die bedrogspul van Herman Pretorius. Al die werkers van Suid-Afrika saam het nie eens ’n tiende van dié bedrag aan spaargeld nie.)

Daar is ook sprake van meganisasie. (Die meeste wingerde sal vervang moet word, want hulle is nie geskik vir meganiese bewerking nie.) Wat ek beslis in Landbouweekblad mis, is ’n antwoord op dié vraag: “Hoeveel moet ’n werkende huisgesin verdien om menswaardig te lewe?” Dit sluit in behoorlike voedsel, behuising en klere; kans om te ontspan, ens.

Dit sou tog ’n mens se vertrekpunt by die loononderhandelinge wees – en dit is sekerlik veel meer as R70 per dag. In ons Christelike wêreld is een aspek belangrik: “Eers die mense en dan die wins”. Dit was ook Christus se uitgangspunt en is oral in die Nuwe Testament na te speur. Een ding weet ek beslis: As ’n gestorwe boer voor sy Skepper staan, dan is die eerste wat Hy sal doen, is om na te gaan of die boer se werkers op ’n menswaardige manier kon leef.

As dit nie so is nie, dan is dit die hel, selfs al betaal die boer reëlmatig en korrek sy tiende aan die dominee. Maar die boere dink nie so nie, dink nie Christelik nie. In die nuusberig “Staking gaan meganisasie versnel” (LBW, 30 November 2012), sê dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye: “Kommersiële landbouers is nie welsynswerkers nie, maar in die eerste plek sakemanne wat ’n wins moet maak. Eers daarna kan ’n landbouer aandag gee aan maatskaplike kwessies…”

Dit is dus totaal omgekeerd: “Eers die wins en dan die mense” en is in teenspraak met die boodskap van Christus en die dik Bybel wat tog by elke boer in die voorkamer lê.

Ek wil ’n jaar lange eksperiment voorstel. Soek 100 boere uit die Wes-Kaap as vrywilligers. Hulle kan boer soos voorheen, maar hulle kry dieselfde loon as hul werkers. Hulle leef ook in dieselfde toestande in ’n werkershuis op die plaas. Hulle het geen motor nie (behalwe op die ou end ’n wrak voor die deur). Dit het hulle ook nie nodig nie, want die boerdery sorg vir die vervoer.

Hulle kan dus een maal per week dorp toe gaan, almal saam op die boerdery se vragmotor. Daar kan hulle hul skamele loon bestee aan lewensmiddele vir die week wat voorlê. Dié vrywilligers sal, met dieselfde werk, meer vrye tyd hê, want hulle het geen vakansie en geen aktiwiteite oor die naweek nie.

Oor naweke kan hulle op die grond voor die werkershuise sit en met die medebewoners gesels. Die voordeel is dat hulle hul werkers goed leer ken. Êrens is daar wél ’n TV waar hulle as ’n groep na Sewende Laan kan gaan kyk.
Oor naweke kan hulle af en toe ’n paar stukkies hoender braai. Daar is op die plaas wel hier en daar ’n stukkie hout wat hulle kan gebruik. Daar is geen lugreëling nie, dus is dit warm in die somer en koud in die winter.

Saans kan hulle ’n stukkie uit die Nuwe Testament lees. Ná ’n jaar kan hulle Landbouweekblad van hul ervaringe vertel as hulle dan nog nie van ellende aan dwelms of drank verslaaf is nie (weliswaar goedkoop dwelms en drank en geen goeie wyn nie). Die vrywilligers wat daarmee volhou, moet dan gekies word om met die Regering oor die lone te gaan onderhandel.

Prof. Dr. ERIK VAN DER STRAETEN
Wellington
(Brief uit Nederlands vertaal. – Red.)

* Stem jy saam met dié brief? Lewer hier onder kommentaar of stuur ‘n repliek na cornelia.vdmerwe@landbou.com.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.