‘Dit sal my bybly’

Deur Johan Van Der Merwe
21 November 2012
Johan van der Merwe was vir die duur van die stakings op verskeie tonele in die Wes-Kaap. Hy vertel hoe hy dit ervaar het.

“Die gesig van brandende wingerd wat my op Maandag 5 November by De Doorns begroet het, sal ek nog lank onthou. Geen mens wat sy vingers al in die grond gehad het en ’n plant grootgemaak het, kan so iets doen nie. Dit was egter net die begin.

“ ’n Paar dae later bevind ek my in die informele nedersetting Nduli op Ceres. Sowat tien polisielede het die stakende groep wat die pad blokkeer, uiteen probeer jaag. Die polisie was nie tevrede met my teenwoordigheid
en het my redelik ferm van die toneel gejaag en gedreig om my toe te sluit – dit alles terwyl die rubberkoeëls om ons koppe vlieg.

“Tussen skares werklose mense wat pleit vir beter lewensomstandighede en meer geld, voel ’n mens die pyn en wanhopigheid van die ongelooflike armoede in ons land. Tussen boere wat vrees vir die lewe van hul gesinne en magteloos toekyk hoe dit waarvoor hulle hard werk, vernietig word, voel ’n mens die pyn van iemand wat iets wat met groot geloof en harde werk net-net staangemaak is, verloor.

“Daardie gevoel verdwyn egter gou as ’n mens se eie lewe in gevaar kom. Die buitebande lê en brand en deur die rook kom ’n betoger van 100 meter af op my aangestorm, die klippe vlieg uit sy hand na my toe terwyl hy my uitvloek. Toe sy klippe opraak, pluk hy ’n mes uit en kom vir my.

“Die ding wat my egter dwars in die krop steek, is die feit dat ek nog weinig plaaswerkers gesien het wat waarlik ontevrede is oor hul omstandighede of die wyse waarop hulle behandel word. Die meeste plaaswerkers soek ’n hoër loon, dit is vir seker waar, maar doen almal nie maar nie?

“Die ware motief vir hierdie staking en die ongelooflike skade, verwoesting en vernietiging, nie net van tasbare dinge nie, maar ook van menseverhoudinge wat met moeite oor jare heen gebou is, bly dus ’n groot vraag in my gemoed.

“As die woedende betoger nie ’n mes gehad het nie, kon ek hom dalk gevra het.”

*Van der Merwe het videomateriaal geneem tydens sy onderonsie met die polisie en ook met ‘n werker wat nie wou staak nie, gepraat. Kyk die video hier onder.

* Was jy een van die boere wat skade gely het in die stakings of bly jy in een van die dorpe betrokke? Deel jou ervaring deur hier onder kommentaar te lewer. Wat dink jy is die oplossing vir die dispuut?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.