Daar was ‘n vraag na Jan Bez en die vraag is soos bo in die opskrif gestel;

Beste Jan

Biologiese dip

“Biologiese dip of dan natuurlike dip”, beteken in wese net dit, (tensy ek verkeerd verstaan) om die omstandighede waarin die njalas wei so te skep dat die njalas self die bosluise kan hanteer. Dit is die enigste “biologiese dip” wat daar kan wees.

Dit beteken om die Natuur haar natuurlike gang te laat gaan, die swakkere diere natuurlik te laat uithaal met predatore (jag), genetika natuurlik instand sal hou deur die natuurlike seleksie van parasiete toe te laat. 

Dit beteken ook die beskerming van spesiespesifieke parasiete wat in die habitat voorkom. Hierdie parasiete, deur hul parasitering op die njala, immuniseer die njala teen die siektes wat hul kan doodmaak. 

Byte deur verskeie bosluise bring mee dat die njalas natuurlike weerstandigheid teen die parasiete wat op hul voed opbou en sal dus die parasietlas met gemak en natuurlik kan hanteer.

Die rol van bosluisvoëls in Biologiese dip moet nie onderskat en of vergeet word nie.

Biologiese “dip” beteken egter ook dat die beskerming van swak genetika en die inteling daarvan in die trop verhoed sal word, sodat swak gene nie die natuurlike weerstandigheid van die trop sal verdun (dilute) nie. 

Laastens sal “natuurlike en biologiese dip” ook beteken dat die njalas se omgewing, (habitat) nie hul voedingsbehoeftes en of kompetisie tussen die bulle die stresvlakke sal uitdaag nie. Sou dit gebeur, gaan bosluise net hul werk doen en die swakkeres met mening uit die sisteem uithaal.

Diereliefhebbers

Sou die skrywer die mening huldig en glo dat die diere gehelp moet word, moet mens uitvind hoekom daar so gedink word?  Dit kan dalk ‘n werklike diereliefhebber wees wat van mening is dat die diere parasietvry moet wees.

Dit is ‘n fout. Baie groot fout met respek.

Mens sal dan liewers op ‘n eenvoudige manier wetenskaplik moet verduidelik waarom dit juis nie in enige wild of in hierdie geval die njalas se beste belang is nie.

Parasiete se rol in weerstandigheid

Sou van hierdie parasiete wat op njalas voorkom, nie beskerm word teen die onoordeelkundige en of aanhoudende toediening van dipstowwe in die bosluisbeheerproses nie, sal die njala nie natuurlik ingeënt word teen die verskillende siektes wat endemies in die gebied/omgewing/habitat/klimaatstreek voorkom nie.

Die parasiete/ bloedparasiete hou die natuurlike weerstandigheid van die njala instand. ‘n Skoon njala sal sommer vrek vir niks omdat hy geen weerstand het en of immuniteit teen natuurlike siekte-aanslagte vanuit die Natuur nie.

Parasiete wat op njalas voorkom, lewe ook in simbiose met die njalas en hulle doen mekaar nie regtig skade nie, tensy die njala oud is, onder stres, verhonger, gewond en of swak genetiese materiaal is.

Njalas het gewoonlik erge parasietuitdagings as hul in klein kampies of oorbevolkte areas gehou word, en of die jonger bulle deur ouer bulle verwoes en uitgedruk word.

Kom ons vra enkele vrae

I.G. Horak, J. Boomker, en J.R.B. Flamand in hul artikel “Parasites of domestic and wild animals in S.A. XXXIV, Arthropod parasites in North Eastern Kwa-Zulu Natal het 10 Ixodid spesies bosluise op njalas geïdentifiseer.  Daar is luise en luisvlieë wat almal parasiete van ekonomiese belang op njalas is?

Die artikel beskrywe bloubosluise (1-gasheerbosluise), rooipootbosluise, (2-gasheer) bruinoorbosluise, (3-gasheer), bontbosluise of hartwaterbosluise, (3-gasheerbosluise) ook, wat ons geredelik ook klomp ander wildsoorte kry.

Die eerste vraag is dus;

“Watter bosluis wil die vraagsteller Biologies beheer?”, want hierdie bosluise gebruik ook baie ander gashere om te oorleef.

Die multigasheerbosluise (2 en 3-gasheerbosluise) kom ook naas njalas op koedoes en rooibokke, buffels, blouwildebeeste en ander wildsoorte voor soos grondlewende voëls, ander voëls, asook hase, rotte, muishonde, meerkatte, skilpaaie en ander reptiele.

Van die spesies kan tussen 8 maande en 18 maande in ‘n rustende fase verkeer voordat hul uitbroei deurdat hulle in “diapause” gaan, hulself teen die elemente van die Natuur beskerm. Hoe vind beheer nou plaas as ons nie weet watter bosluis die probleem is nie?

Laastens, multigashere voed slegs tussen 4-6 dae op n gasheer waarna hul afval en kan hul kan die verskillende stadia van hul lewensiklusse tussen 3 maande to 3 jaar voltooi, afhangende van die spesie.

Dit is dus net bloubosluise wat langer parasiteer (21-24 dae) waarop mens dalk vatkans kan kry, omdat daar geen waarborg is dat die diere in ‘n hek of deurgang sal deurgaan om te dip nie.

Die bloubosluis selekteer hulself weer weerstandig met die voortdurende blootstelling aan dipstowwe en dan het mens regtig ‘n groot uitdaging om te oorkom. Dit is ongelukkig wat nou gebeur op vele wildsplase en parke omdat parasietbeheer chemies in plaas van natuurlik geword het.

Mens kan ongelukkig nie ‘n bosluisoplossing in ‘n bottel of in ‘n plant ekstrak koop nie. Wat die mens ook al na die bosluis en alle ander parasiete toe bring sal hulle kan oorkom. Wat hul nie kan oorkom nie is wanneer hul lewenssiklusse in die kuns van Natuurlike bosluisbeheer teen hulle aangewend word. 

Dis belangrik om te onthou dat die Natuur nie bosluise gaan uitroei nie.

Kan mens die bosluise op njalas beheer?

Sal die vraagsteller my vriendelik verskoon as ek die harde waarheid so sagkens as moontlik probeer stel, en dit vriendelik nie persoonlik opneem nie omdat dit nie so bedoel word nie? Ek wil regtig graag help deur die regte raad te gee.

Natuurlik kan mens die njalas strategies dip met my diptoestel maar hoekom? Wat is die langtermyn oplossing?

1.    Njalas kan, sou die omgewing dit toelaat, byna alle parasietuitdagings natuurlik en met groot gemak oorkom, gegewe hul habitat word goed bestuur?

2.    Klein wildparke word chemiese eilande en emosionele onkundige dieretuine wat niks anders as bosluismartelkampe is onder die naam van “Diereliefhebbers” wat dit kan bekostig om hierdie diere aan te koop nie.

3.    Die plekke moet met ywer verbied word indien en wanneer daar nie kundige Entomologiese bestuur die volle beheer daarvan en die toepassing van kundige beheer op die parasiete kan verduidelik en verdedig nie.

4.    Onkundige mense bestuur dit teen die grein van die natuurlike parasietbeheer in, omdat hulle nie die parasiete van die omgewing se siektes, invloede, nodigheid en lewensiklusse van die parasiete ken nie (wat baie nodig is vir wilde diere se natuurlike immuniteit) Boonop is baie parasiete spesiespesifiek en pla niks en niemand en geen mens of ander dier nie. Hierdie parasiete is nodig vir daardie spesifieke dier en nou word hy sommer net deur onkunde vrek gemaak, wat enorme biologiese implikasies het vir daardie dier.

5.    Die plekke word oorbewei met die integrering van te veel spesies wild wat om dieselfde kos meeding. Kruisparasitering tussen wild vind plaas en interne parasiete, (wat ek nie hier eens na verwys het nie) word oorgeplaas op een of ander manier op ander en meer vatbare diere op die of naburige plase. 

6.    Laastens, indien chemiese ingryping gebeur, moet dit met werklike kundigheid gebeur en nie op hoorsê kwasi adviseurs se ekonomiese belange nie. Met ‘n ander man se geld en hierdie mense se breins/inligting gaan net die wildboer die risiko dra.

Chemiese beheer

As dit moet, is biologiese en chemiese beheer ‘n wetenskaplike definieerbare strategie gegrond op verskeie parasiete van ekonomiese belang se lewensiklus, waar die ingryping in die lewensiklusse bepland en strategies is, met inagneming watter impak het dit het op ander nuttige diere/insekte gaan hê sodat parasietbeheer die minimum impak op die omgewing en ander diere nalaat.

Sou so ingryping plaasvind, en dit kan, moet dit ‘n permanente oplossing oor ‘n jaar of 3 ten doel hê, ‘n tipe voedingshabitat te skep waarin die diere met die verandering van seisoene voldoende voedsel hê en, ‘n habitat wat hul nie onder onnodige voeding en ander soorte van stres sal plaas nie.

Indien dit gebeur, gaan bosluise hierdie diere weens hul verswakte toestand net uit die biosisteem uithaal en ook die blaam vir die onkunde dra.

Pierre van Niekerk

0126674755

0822208386

pierrevn@telkomsa.net


Kommentaar

Een kommentaar op ““Hoe kan ek my njalas effektief biologies teen bosluise dip?”

  1. P R Bekker
    P R Bekker

    Baie interessant , leersaam en verbreed my persoonlike kennis


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.