Wingerdboerdery in Suid-Afrika

Deur Kobus Smit
26 Julie 2011

Druiweboerdery is een van die oudste soorte boerderye bekend in die wêreld. Kobus Smith skryf oor die stand van dié bedryf in Suid-Afrika.

Daar is onsekerheid oor presies watter soort vrug Eva gepluk het, maar een ding staan vas:  “Noag was ’n boer, die eerste wat ’n wingerd geplant het.”  (Gen. 9:20). Druiweboerdery is dus sekerlik een van die oudste soorte boerderye bekend in die wêreld.

Baie eeue later is Jan van Riebeeck na die Kaap gestuur om groente te plant. Dit was egter ook nie lank daarna nie of die eerste wingerde word in Suid Afrika gevestig – dus ook hier te lande een van die oudste tipe boerderye.

Wes-Kaap
Die Wes-Kaap is steeds verreweg die grootste druiweproduserende gebied in die land, maar heelwat druiwe word ook langs die Oranjerivier en selfs tot in Limpopo geproduseer. Nou wonder ’n mens, ná al die jare, hoe lyk wingerdboerdery vandag in Suid-Afrika.

Noag het reeds van sy druiwe wyn gemaak en dit is seker steeds die mees bekende produk van druiweboerdery. Tog word groot hoeveelhede ook as vars produkte (tafeldruiwe) en droëvrugte bemark. Kleiner hoeveelhede word gebruik vir konfyt, inlê en ander doeleindes.

Die verhouding in die gebruik van druiwe soos in die 2010-oesjaar gerealiseer, word in figuur 1 hieronder uitgebeeld. Die totale druiwe-oes vir 2010 was sowat 1,7 miljoen ton ter waarde van meer as R7 miljard. Daarvan is sowat 72% gepars vir die maak van wyn en sappe, 15% is as vars vrugte bemark (dit sluit die uitvoer van tafeldruiwe in) en sowat 12% is gedroog. Slegs 1% is vir ander doeleindes gebruik.

Figuur 1

Tafeldruiwe
Van die tafeldruiwe is net meer as 23 000 ton verlede seisoen op die plaaslike varsproduktemarkte verhandel. Dit is aansienlik minder as ander vrugte, soos appels (162 000 ton) en  lemoene (135 000 ton). Die uitvoer van tafeldruiwe het 239 000 ton beloop. Ook dít is aansienlik minder as ander vrugte, soos appels (333 000 ton) en lemoene (880 000 ton).

Hoewel die hoeveelheid wat op die varsmarkte bemark is, die afgelope 10 jaar (blou stafies in figuur 2) min gewissel het, het die uitvoer oor die tydperk (rooi stafies) aansienlik toegeneem. Dit lyk dus asof daar tog heelwat ruimte vir die verdere produksie en veral die plaaslike bemarking van tafeldruiwe is. Pryse het rondom R11 700 per ton vir uitvoer gewissel en net meer as R7 000 per ton op plaaslike markte.

Die bruto waarde verdien uit die bemarking van tafeldruiwe was net oor die R3 miljard. Die groen lyn in figuuur 2 dui aan hoedat dit veral sedert 2006 die hoogte ingeskiet het. (Lees op regter as).



Figuur 2


Gedroogde druiwe

Gedroogde druiwe het egter verlede jaar ’n goeie seisoen beleef toe meer as 202 000 ton gedroog is. Dit is die eerste keer dat die 200 000 ton-kerf oorskry word. Die vorige hoogste was in 2007 toe net meer as 176 000 ton gedroog is. Hoewel die volume druiwe wat gedroog is, die afgelope 10 jaar met 45% toegeneem het, het dit van jaar tot jaar aansienlik gewissel met laagtepunte in 2005 en 2009 (figuur 3).

Die bruto waarde van die druiwe wat gedroog is, was R509 miljoen. Dit is ’n toename van 245% van die bruto waarde van gedroogde druiwe in 2001. Die skerp styging het veral sedert 2005 plaasgevind (rooi lyn in figuur). Hoewel dit ’n groot toename is, bly dit verreweg die kleinste inkomste uit druiweverbouing.

Figuur 3

Die volume van vars druiwe gepars, was in die 2010-oesjaar 1,2 miljoen ton. Dit verteenwoordig ’n stewige styging van meer as 26% sedert die 977 000 ton wat tien jaar gelede gepars is. Die hoogtepunt was egter die meer as 1,4 miljoen ton wat in 2008 gepars is.

Daar is die afgelope twee jaar ’n skerp dalende neiging, soos wat figuur 4 aantoon. Die bruto waarde van die druiwe gepars, het oor die dekade meer as verdubbel, van R1,6 miljard in 2001 tot meer as R3,5 miljard verlede jaar. Dit is ’n effense afname van die byna R3,7 miljard die vorige jaar.

Figuur 4

Wyn
’n Mens kan moeilik oor druiwe gesels en die belangste produk daarvan heeltemal ignoreer. Daarom kyk ons vlugtig na enkele belangrike feite oor wynproduksie in Suid-Afrika. Die wynproduksie het in die 2010-kalenderjaar met 4,6% afgeneem van 1,033 miljard liter in 2009 tot 985 miljoen liter verlede jaar. Dit is in der waarheid die kleinste wynoes sedert die 905 miljoen liter in 2005.

Die huidige wynoes is saamgestel uit 781 miljoen liter goeie wyn, 40 miljoen liter rabatwyn, 113 miljoen liter distilleerwyn en 51 miljoen liter sap/konsentraat. Die produksie van goeie en distilleerwyn het vanaf die vorige jaar net effens afgeneem. In 2009 is 805 miljoen liter goeie wyn geproduseer en 122 miljoen liter distilleerwyn.

Die produksie van rabatwyn het egter met byna die helfte afgeneem van 71 miljoen tot 40 miljoen liter, terwyl die produksie van sap/konsentraat van 35 miljoen liter die vorige jaar tot 51 miljoen liter in 2010 toegeneem het. Die inkomste uit wynverkope verlede jaar was R3,6 miljard, wat dieselfde is as die inkomste wat die vorige jaar verdien is.

Die plaaslike verkope van wyn verlede jaar was 363 miljoen liter en uitvoer 379 miljoen liter. Plaaslike verkope verskil nie veel van die vorige jaar nie, terwyl uitvoer met sowat 5% gedaal het.

Die belangrikste uitvoerbestemmings was Brittanje met 105 miljoen liter, Duitsland met 72 miljoen liter, Swede met 38 miljoen liter en Nederland met 27 miljoen liter.

Verlede jaar was die plaaslike wynverbruik 346 miljoen liter, wat sowat 2% meer is as die vorige jaar. Dit werk uit op sowat 7 liter per kop van die bevolking. As dit klink of Suid-Afrikaners dorstig is, ons is 62ste op die internasionale lys met Luxembourgh (63,2 liter per kop), Portugal (46,5 liter per kop), Italië (42,3 liter per kop) en Frankryk (39,1 liter per kop) wat die eerste vier plekke inneem.

Opsomming
Wyn se suksesverhaal duur voort met goeie bemarking plaaslik en in die buiteland.

Die produksie en bemarking van tafeldruiwe, veral plaaslik, kan egter heelwat verbeter gemeet aan ander produkte, soos appels en lemoene. Dit is ook opmerklik dat buitelandse tafeldruiwe geleidelik ál meer op die winkelrakke van sommige kettingwinkels te sien is.

Dit dui op ’n besliste groter vraag na tafeldruiwe, ’n gaping wat sekerlik deur plaaslike produsente gevul kan word.

Notas
Sap/Konsentraat verwys na ongegiste, onverdunde konsentraat-druiwesap bedoel vir gebruik in nie-alkoholiese produkte soos druiwesap.

Tonne druiwe gepars en liters wyn geproduseer, word oor verskillende tydperke gemeet en is dus nie met mekaar vergelykbaar nie.

Bronne:
Kortbegrip vir Landboustatistiek – 2011
South African Wine Industry Statistics – June 2011

* Kobus Smit is ‘n voormalige voorsitter van die Nasionale Oesskattingskomitee. Sy e-pos-adres is: diesmitte@gmail.com.

26 Julie 2011

 


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.