Bemark jou wyn met ‘n storie

Deur Glenneis Kriel
28 Januarie 2014
’n Vars benadering is nodig as die Suid-Afrikaanse wynbedryf nuwe geleenthede in die vinnig veranderende wêreldmark wil ontgin.

Hierdie boodskap is oor en oor herhaal by VinPro en Nedbank se inligtingsdag wat onlangs in Somerset-Wes gehou was. 

Mnr. Stephen Rannekleiv, senior analis: Voedsel en Agri-besighede by Rabobank, het gesê die Suid-Afrikaanse handelsmerk kom nie sterk genoeg oor in lande waar dit saakmaak, soos China en Amerika, nie. “Kry ’n storie om die uniekheid van julle wyn te bemark. Sonder ’n storie kan julle net sowel gefermenteerde druiwesap verkoop.”

En moenie die storie op terroir, kultivar of biodiversiteit bou nie, want daar is te veel ander lande wat dit reeds doen. Mnr. Mike Vesseth, Redakteur van The Wine Economist, het gesê amper elke produsent in elke land waai tans die groen vlag, hoekom sal Suid-Afrika nou meer spesiaal wees op hierdie terrein?

Hy het vertel dat daar nou so ’n groot aanbod van wyne van verskillende lande in Amerika is en dat Suid-Afrikaanse wyne so ’n klein deel van die mark uitmaak, dat dit dalk beter vir Suid-Afrikaners is om hul wyn in spesifieke wynkategorieë, soos ’n versnit of spesifieke kultivar, in Amerika te verkoop.

Blootstelling aan ons kultuur
Verder dink Veseth dit is ’n goeie idee om Amerikaners te leer braai, soos wat die generiese bemarkingsarm van die wynbedryf Wines of South Africa (Wosa) nou doen, om sodoende die Amerikaners aan die Suid-Afrikaanse kultuur en wyn bloot te stel.

Dieselfde boodskap geld vir Afrika. Mnr. Guy Lundy, ‘n markstrateeg van Odgers Berndston, het gesê dat Suid-Afrika nie baie geliefd in Afrika is nie omdat die land voorheen arrogant was en neergesien het op ander lande in Afrika: “Ons sal hard moet werk om hierdie persepsie te verander. Verder moet ons ook verseker dat daar ’n bemarkingstorie vertel word wat in Afrika aanvaar word – miskien een wat op die ontslape oudpresident Nelson Mandela fokus.”

Me. Siobhan Thompson, die nuwe uitvoerende hoof van Wosa, sê dat hierdie kritiek in die regte konteks gesien moet word. Al drie die sprekers het gepraat van markte waarin Wosa nou eers begin vordering maak. “Tot nou was die hooffokus op die Verenigde Koninkryk, Nederland, Duitsland en Skandinawië – lande wat reeds bewus was van ons as ’n wynproduserende nasie.”

“Ons betree egter nou ’n nuwe fase in die wynbedryf waar nuwe markte geteiken word wat minder pryssensitief as ons tradisionele markte is en waar daar meer ruimte vir handeldryf op grond van uniekheid is. Lande soos Amerika, China en Afrika. Dit beteken egter nie dat ons die tradisionele markte gaan afskeep nie.”

Sy het bygevoeg Wosa werk nou hard om leemtes in sy kommunikasieplan te teiken om by die nuwe veranderende markomstandighede aan te pas: “’n Kommunikasieplan moet maar voortdurend aangepas word om te verseker dat dit betekenisvol bly.”


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.