Twee unieke hekke wat deur ‘n voertuig platgedruk kan word en daarna self opswaai, doen weg met die leemtes van ander soortgelyke hekke. Dit is goedkoop en eenvoudig om te vervaardig, word nie elektronies beheer nie en kan deur feitlik enige voertuig "oopgemaak" word.

Hek oopmaak was nog nooit so maklik soos met die twee soorte "ry-my-plat-hekke" van mnr. Sarel Cilliers, ‘n Merinoboer van die plaas Welgedacht, Burgersdorp, nie. Die hekke kan met feitlik enige voertuig oop- en toegemaak word sonder dat enigiemand hoef uit te klim.

Die hekke is geskik vir ligte tot swaar voertuie (groot vragmotors met sleepwaens en trekkers met waens). Voertuie met ‘n hoë en lae grondvryhoogte kan daaroor beweeg sonder dat enige verstelling aan die hek gemaak hoef te word.

Die hek kan met die hand oopgemaak word, soos wanneer vee daardeur gejaag moet word.

Cilliers het as kind geleer ‘n mens "koop niks as jy dit self kan vervaardig nie". Sy praktiese planne het nie net vir homself al baie geld gespaar nie. Hy is in die distrik bekend as iemand wat "verstommende goed uit so te sê niks vervaardig" en sy planne word al lank deur medeboere met dieselfde welslae as hyself, geïmplementeer.

Onder sy jongste planne is die twee soorte hekke wat met ‘n voertuig oopgemaak word. Wat die hekke besonders maak, is dat dit goedkoop is om te vervaardig en nie elektronies beheer word nie. Dit word hoofsaaklik uit goedkoop materiaal en afvalyster vervaardig.

Hy het die hekke ontwerp nadat hy en ‘n buurman, mnr. Pierre la Grange van Krompoort, teenoor mekaar gekla het oor die klomp hekke wat hulle daagliks moet oop- en toemaak. "Ek maak daagliks ses tot agt keer hekke oop en dit is ‘n beslommernis en tyd mors. Boonop los die werkers gedurig my hekke oop en raak my skape deurmekaar."

‘n Hek met ‘n afstandbeheerder sou nie werk nie en die hek moes vir alle plaasvoertuie geskik wees. Dit moes ook nie so pieperig wees dat ‘n voertuig daaroor moet "kruip" nie.

Die twee hekke wat hy ontwerp het, voldoen aan al hierdie vereistes. Om vee van een kamp na ‘n ander te jaag is nie ‘n probleem nie. "Ek sit net ‘n groot klip in die middel van die hek om dit plat te hou totdat die vee deurgejaag is."

Hoewel die twee soorte hekke se plattrap- en toemaakaksies identies is en die hekke feitlik dieselfde lyk, verskil die beheermeganismes. Die een hek word toegemaak deur ‘n stuk treinspoorstaaf aan ‘n tou oor ‘n katrol.
Die ander soort word toegemaak deur ‘n treinspoorstaaf wat in ‘n gat langs die hek heen en weer swaai byna soos die swaaibeweging van ‘n horlosie se pendulum.

Cilliers verkies die katrolhek bo die pendulumhek. "Dit is praktieser en betroubaarder, maar smaak verskil. Boere moet maar vir hulleself besluit."
Die katrolhek is ‘n gewone swaaihek (1,2 meter hoog en 3 meter wyd) met verlengstukke van 100 mm aan weerskante aan die onderste pyp van die hek. Met die verlengstukke skarnier die pyp in bussies onderaan die ysterpale waaraan die beheermeganisme vasgemaak word.

Cilliers maak die hek self van ronde buispyp. In die middel, aan weerskante van die hek, word ‘n gladde PVC-pyp van 40 mm deursnee vasgemaak. Hy sê afleipype soos dié wat vir wasbakke gebruik word, is voldoende. Hierdie PVC-pype is sowat 2,5 m lank. Die pype keer dat die voertuig beskadig word wanneer dit die hek plat druk. "Die voertuig se buffer of nommerplaat raak aan die plastiekpype en nie aan die hek nie. Omdat die pyp glad is, word die voertuig nie beskadig nie en word die hek maklik platgedruk."

Die grond waarop die hek platgedruk word, moet gelyk wees, anders sal die hek buig as die voertuie daaroor beweeg. Dieselfde geld vir die pendulumhek.

Aan die een kant van die katrolhek is een ysterpaal (vir die lyndraad) en aan die ander kant drie ysterpale — een vir die lyndraad en die ander twee vir die katrolmeganisme. Die twee pale dien as ‘n skag vir die katrol en vir die gewig wat op beweeg wanneer ‘n voertuig oor die hek ry en weer af wanneer dit die hek regop trek. Cilliers sê die ysterpale hoef nie dieper as 300 mm ingeslaan te word nie.

Om die gewig van die spoorstaaf te bepaal, het hy met sakke sand geëksperimenteer totdat hy die regte gewig (in sy geval 23 kg) kon bepaal wat die hek sal laat opswaai. Die tou aan die spoorstaaf is aan ‘n swaaihakie op die hek vas. Die hakie is sowat 500 mm bokant die onderste pyp van die hek. Gewone nylontou met ‘n dikte van ongeveer 8 mm kan gebruik word. Enige katrol wat in die kleinhandel beskikbaar is, is geskik.

Aan weerskante van die hek moet twee sementspore met ‘n grondvoortjie tussenin gemaak word om die twee PVC-pype te beskerm. Wanneer die voertuig oor die hek beweeg, druk die draadgedeelte van die hek op die sementspore en die PVC-pype lê in die grondvoor tussenin waar die voertuig dit nie kan beskadig nie.

Die hek is geskik vir enige terrein en word nie deur wind beïnvloed nie. "Die hek sal hoogstens 10 grade na voor of agter swaai in die geval van ‘n sterk wind. Vee kan dus nie deurloop nie."

Die pendulumhek verskil nie veel van die katrolhek nie — net die verlengstuk en die dikte van die onderste hekpyp verskil. Die hek is 1,1 m hoog, 3 m wyd en het soortgelyke PVC-pype in die middel van die hek. Twee sementspore aan weerskante van die hek met ‘n grondvoortjie tussenin beskerm die PVC-pype. Die hek swaai op dieselfde wyse plat en toe nadat voertuie daaroor ry.

Die verlengstukke aan die onderste hekpyp is 100 mm lank aan die een kant en 400 mm aan die ander kant. Die onderste hekpyp moet minstens 50 mm dik wees en nie net 32 mm soos by die katrolhek nie. "Die gewig is te swaar vir die 32-mm-pyp. As iemand die hek te vinnig met sy voertuig stamp, buig die pyp waaraan die gewig hang."

Die 400-mm-verlengstuk is aan die gewig se kant. Die gewig bestaan uit twee stukke treinspoor wat aanmekaar gesweis is om die korrekte gewig van 33 kg te kry. Dit hang in ‘n gat langs die hek en beweeg soos ‘n horlosie se pendulum na weerskante wanneer ‘n voertuig oor die hek ry. Dit swaai altyd weer na die middel om die hek regop te lig. Die gat moet met stene uitgevoer word.

Hy beveel die pendulumhek nie aan in laagtes waar water afloop nie. Die gat waarin die gewig is, kan vol modder loop. Tensy afleivore gemaak word, sal die hek dan nie werk nie.

Danksy die afvalyster wat hy gebruik, kos dit Cilliers minder as R200 om ‘n hek te maak. Hy spaar heelwat deurdat hy self die hekke maak.

Die grootste uitgawes van ‘n hek is die 6 m PVC-pyp (40 mm) wat R60 kos en die R123 vir sowat 12 m buispyp (32 mm). Die draadkoste per hek is goedkoop omdat hy rolle draad koop.

  • Navrae: Mnr. Sarel Cilliers, tel. 051 653 1649.

    21 Mei 2004


  • Lewer Kommentaar

    Slegs in Afrikaans

    Los 'n antwoord

    Alle velde moet ingevul word.