Die wildbedryf het die afgelope dekade ‘n bestendige groei getoon, maar
nou begin ‘n paar gevaarligte flikker, soos oorproduksie van algemene spesies en
beperkte moontlikhede op die uitvoermark. Landbouweekblad het met ‘n paar
wildkenners gesels.

"Om met wild te boer, is ‘n lewenswyse. Neem die prestige daaruit weg en bitter min bly oor." Hierdie opmerking van ‘n bekende wildboer weerspieël die dilemma waarin die wildbedryf hom tans bevind.

Die aantal professionele beroepslui wat die afgelope tien jaar tot wildboerdery toegetree het en die stroom buitelandse geld wat toenemend in die bedryf belê word, wys duidelik daar word steeds aansien aan die bedryf gekoppel en dat goeie wins gemaak word.

Landbougrond wat aan die land se nasionale parke grens, behaal uitstekende pryse. Klagtes word dikwels van boere gehoor dat sakelui grond waarop wild aangehou word, só opjaag dat hulleself nie meer ekonomies kan uitbrei nie.

Miljoene rand word jaarliks deur plaaslike en buitelandse entrepreneurs in luukse gastehuise en skaars wildspesies belê om aan die toeriste met dollars en euro’s ‘n ware Afrika-ervaring te bied. Die gebeure in Zimbabwe en die verswakking van die rand het die bedryf ook ‘n inspuiting gegee. Die eksklusiewe wegkruipplekke met eksotiese wildsoorte se tariewe van R1 500 en meer per nag per gas plaas dit buite die bereik van die gewone Suid-Afrikaner. Dit kwel die eienaars min, omdat wêreldberese toeriste bereid is om die tariewe te betaal. "Hulle soek privaatheid, die allerbeste diens en die Groot Vyf. Dit is presies wat hulle op dié plekke kry."

Selfs die pryse wat hierdie seisoen vir biltong-jagtogte in Suid-Afrika gevra word, laat ‘n mens wonder of die berekeninge nie dalk in dollarwaarde gedoen word nie.

Alles dra natuurlik daartoe by om ‘n illusie van ‘n welvarende en onaantasbare bedryf te skep, maar die aantal wildplase wat deesdae geadverteer word en die groot getalle wild wat op die veilings aangebied word, vertel die ander kant van die verhaal.

Prof. Theuns Eloff, hoof van die sentrum vir wildlewe-ekonomie aan die Potchefstroomse Universiteit, sê die wildbedryf het die afgelope dekade jaarliks met gemiddeld 5,8 % gegroei. Hoewel daar nog blink geleenthede wag, is daar ook tekens dat die meer algemene wildspesies se pryse begin stagneer en in sekere gevalle begin daal.

"Pryse het van 1997 nie in dieselfde mate as die vorige agt jaar toegeneem nie. Veral rooibok-, koedoe-, springbok-, blesbok- en blouwildebeespryse het in reële terme begin daal.

Mnr. Jokl le Roux, hoof uitvoerende beampte van die Oos-Kaap-Wildbestuursvereniging, stem saam en sê hoewel die buitelandse mark vir trofeediere nog nie naasteby tot sy volle potensiaal ontwikkel is nie, dui ál die tekens dat ‘n oorskotsituasie ontwikkel. "As ‘n mark vir wildsvleis nie vinnig ontwikkel word nie, sal pryse eenvoudig verder daal."

Prof. Eloff glo daar sal ernstig gekyk moet word na pogings om meer wildvleis uit te voer. Die swak rand skep aansienlike moontlikhede. "’n Voorvereiste is egter goeie gehalte en ‘n handelsmerk wat onteenseglik daarop dui dat die vleis uit Suid-Afrika kom."

Daar kan veral munt geslaan word uit die bewese gesondheidseienskappe van wildvleis en die feit dat die diere nie in voerkrale aangehou word nie.

Die min abattoirs wat deur die EU goedgekeur is en die vermoë het om die vleis binne ‘n paar uur na dit geskiet is, te verwerk en te verpak, is egter ‘n probleem. Só ook die feit dat wildvleis net vir ‘n paar maande in die jaar beskikbaar is. "Dit behoort, soos bees- en skaapvleis, deurlopend beskikbaar te wees."’

Ofskoon baie wildboere reeds hul visier op die uitvoermark stel en groot belangstelling getoon het in ‘n simposium wat onlangs op Graaff-Reinet in die verband gehou is, is dit ‘n mark wat nou beperkte moontlikhede bied, sê mnr. Zorb Caryer, besturende direkteur van Camdeboo. Die maatskappy het verlede jaar meer as 75 % van alle wildvleisuitvoere hanteer.

"Dit is hoofsaaklik springbok en koedoe waarvoor daar ‘n redelike vraag in Europa is. Die Europese verbruikers het nog nie ‘n werklik ‘n smaak vir ander boksoorte ontwikkel nie."

Hy sê die vraag na wildsvleis, ook volstruisvleis, het sedert verlede jaar ‘n dramatiese afname in Europa getoon. "Dit gaan bars om groter markpenetrasie te kry."

Boonop is daar streng vereistes wat geld vir die uitvoer van wild. Die plase waarop die wild geoes word, moet behoorlik omhein en geregistreer wees. Daar is ook ‘n streng kode wat geld vir die vervoer en verwerking van die karkasse. Dié kodes word gereeld hersien.

Slagplase wat wild wat vir uitvoer bestem is, verwerk, moet aan EU-standaarde voldoen. Die vleis moet ook eers plaaslik ontbeen word, wat die minder aantreklik maak en die koste opjaag.

Meer kan gedoen word om die plaaslike mark vir die afset van wildvleis te ontgin, maar dit sal ‘n aansienlike bemarkingspoging verg om Suid-Afrikaanse huisvroue te oortuig om wildsvleis in hul maandelikse inkopielys in te sluit, sê mnr. Piet Neethling, bemarkingsdirekteur van Camdeboo.

Wildsvleis is net in die betrokke seisoen beskikbaar en daar is ook talle negatiewe sienings van die gaarmaak en smaak daarvan. "Baie mense dink nog aan wildvleis in die vorm van biltong. Sodra ‘n springbokboud meer as ‘n lamsboud kos, kyk ‘n huisvrou nie weer daarna nie."

Dié siening strook met ‘n ondersoek wat prof. Laetitia Radder, navorsingsprojekleier van die Departement Landbou en Bemarking aan die Port Elizabethse Technikon, by restaurante in Port Elizabeth en Oos-Londen gedoen het.

Sy het bevind dat die meeste restaurante nie wildsvleis wil aanbied nie. As hulle dit wel doen, verteenwoordig wildvleis minder as 5 % van die totale geregte op die spyskaart. Sowat 60 % van die restauranteienaars het aangedui dat hulle vanweë swak vraag nie wildsvleis op die spyskaart bied nie.

Prof. Radder sê daar is ook ‘n beskouing dat wildsgeregte duurder as ander rooivleis is en hoofsaaklik met die wit kultuur assosieer word. Diegene wat eksotiese disse bestel, verkies ook volstruisvleis bó wildsvleis. Hoewel wildsvleis bewese gesondheidsvoordele inhou, soos hoë proteïen, lae vet en geen groeistimulante bevat nie, meen huisvroue dat die voorbereiding daarvan ‘n tydsame proses is.

Volgens mnr. Neethling is dit hoofsaaklik in die Wes-Kaapse restaurante waar die gewildheid van wildsvleis danksy die toeloop van buitelandse toeriste die afgelope jaar ‘n skerp groei toon.

Prof. Eloff meen die oorproduksie van die meer algemene spesies behoort egter tot die voordeel van plaaslike biltongjagters te wees. Jagters betaal ook vir die geriewe op wildplase, maar daar is steeds winskopies beskikbaar vir die wat nie in vyfstergeriewe wil oornag nie. "Nêrens werk die vrye mark beter as in die wildbedryf nie."

Waar daar te veel wild is, moet boere nie te veel uitdun nie, omdat dit tot ‘n oorskot kan lei wat die binnelandse pryse verder gaan afdwing.

Mnr. Audrey Vermaak, ‘n bekende wildboer van Glenconnor, sê hy jaag nie dollars na nie en verkies om self sy wild met donkermaan met skietlampe uit te dun en die vleis aan ‘n plaaslike slagter te voorsien. "Dit is die menslikste manier van uitdun."

Hy sê biltongjagters wat die hele dag in die veld loop en skiet, stel die wild aan onnodige stres bloot. Daar is ongelukkig ook sommige jagters wat meer in ‘n partytjie in die veld belangstel, as om ‘n natuurervaring te kom geniet.

Dit lyk nietemin of dié wildboere wat knap bemarkers is, steeds baie goeie geld maak. ‘n Geval is bekend waar ‘n Karooboer, wat top-hotels en restaurante in Gauteng van voorafverwerkte springbokke voorsien, dit teen R70/kg verkoop.

Boere wat biltongjagte organiseer, sê die geleenthede is almal meestal al n jaar vooraf bespreek. Die jongste syfers bevestig ook dat die gewildheid van jag jaar na jaar aan die toeneem is.

Net in die Oos-Kaap het
buitelandse jagters verlede jaar R118,6 miljoen bestee, ‘n toename van 23 %
teenoor die vorige jaar. Die bedryf is dus nog op volle stoom, maar die
gevaartekens moet nie geïgnoreer word nie.


Vra kenners se
hulp


Voornemende wildboere moet kenners se hulp vra voordat hulle wildboerdery aanpak om te verhoed dat hulle verkeerde, duur besluite neem. Sulke kenners kan onder meer leiding gee oor die beste spesies vir ‘n spesifieke gebied, sê prof. Theuns Eloff, hoof van die sentrum vir wildlewe-ekonomie aan die Potchefstroomse Universiteit.


Alle plase is nie vir wildboerdery geskik nie. Boere wat dit wil aanpak, moet besef dat mooi natuurskoon, soos berge, rivierstrome en bome, net so belangrik is. "Die ligging van die plaas, die hoeveelheid en verskeidenheid wild, voëllewe en opgeleide personeel is alles aspekte wat in gedagte gehou behoort te word."

Mnr Cerneels Pietersen, ondervoorsitter van Agri Oos-Kaap, sê hoewel daar die afgelope 10 jaar ‘n fenomenale groei in die Oos-Kaapse wildbedryf was, wat aangevuur is deur veediefstal en lae produsentepryse by tradisionele boerdery, hy bekommerd is oor druk wat dit reeds op die natuurlike hulpbronne plaas.

"Daar kan nie toegelaat word dat die wild onbeheersd aanteel nie. Uitdunning is ‘n noodsaaklike voorvereiste."

Daar is talle voorbeelde van sakelui wat hul vingers met wildboerdery verbrand het. "Dit kos baie om ‘n plaas vir gewone boerdery aan te pas nadat binneheinings verwyder is om dit vir wildboerdery aan te pas."

Hiermee stem dr. Michael Knight, koördineerder van die Groter Addo Nasionale Park, saam. Hy sê daar is ‘n onrusbarende toename in spesies wat nie tradisioneel in die Oos-Kaap voorgekom het nie, soos rooibokke en kameelperde. Dié diere benadeel die ekologie van die gebied. Die moontlikheid word tans ondersoek om dit deur wetgewing te verbied."

Wildeienaars met wie Landbouweekblad gepraat het, meen egter dat toeriste wat die gebied besoek na ‘n "geheel-ervaring" soek. Wanneer hulle baie betaal om na Suid-Afrika te kom, wil hulle ‘n groot verskeidenheid wild besigtig, insluitende dié spesies wat gewoonlik nie inheems aan die betrokke provinsie is nie.

5 Julie
2002


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.