Op ‘n ou familieplaas in die Vrystaat kry ‘n jong bedryf in
dié provinsie nou momentum. Daar word skape gemelk en regte skaapmelkkaas
gemaak, ‘n gesogte en bekende produk in baie oorsese lande wat nou ook in
Suid-Afrika beskikbaar raak.

Op haar eentjie wys ‘n Suidoos-Vrystaatse vroueboer die res van Suid-Afrika wat met skape gedoen kan word. Mej. Elmarie van Aswegen van die plaas Patria, Smithfield, is sover bekend die enigste skaapboer in die land wat haar skape met ‘n melkmasjien melk en kaas van dié melk maak.

Sy is die enigste Suid-Afrikaner wat lid is van die British Sheep Dairy Association (BSDA) en die enigste geregistreerde lid van die melkskaap-telersgenootskap. Haar kudde is ook die enigste geregistreerde melkskaapkudde in die land.

Haar belangstelling om skape te melk, het al in 1997 begin toe sy begin onderhandel het om saad van Oos-Friesramme van Nieu-Seeland af in te voer. Dié ras kom oorspronklik van Duitsland en die noorde van Holland en is die beste melkproduseerder van alle rasse. Dit het ‘n fekunditeit van digby 200 %. Omdat dit ‘n ras is wat nie in Suid-Afrika voorkom nie, moes mnr. Keith Ramsay, Registrateur van Veeverbetering, toestemming gee dat die skape die land ingebring mag word.

Sy het die permit aan die einde van 1998 gekry op voorwaarde dat die skape vir ‘n navorsingsprojek onder toesig van ‘n universiteit gebruik sou word. Dit vorm nou deel van ‘n meestersgraad in volhoubare landbou waarvoor sy aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Sy spesialiseer in melkskape sodat sy meer van die bedryf kan leer.

In 1999 het sy saad uit Nieu-Seeland ingevoer waarvan die eerste lammers in Oktober en November 1999 aangekom het. Sy het 150 ooie gebruik: 50 elk van Merino-landskaap, Afrino en vetstert-Afrikaners. In daardie stadium het sy nie die suiwer ooie gemelk nie.

Die Landskape het sy gekies omdat haar pa reeds met dié ras geboer het. Die ander twee rasse het sy op aanbeveling van proff. Frikkie Neser en Erhard du Toit van die UV gebruik. Omdat die Oos-Fries minder gehard is, is die ander rasse vir hul gehardheid en libido gekies.

‘n Belangrike eienskap vir Suid-Afrikaanse toestande is dat die skape hare in die gesig moet hê om hulle teen die son te beskerm. Oos-Friese het min hare in die gesig. Daarteenoor het die plaaslike rasse, soos die Afrikaner, heelwat meer hare. In die eerste 12 maande was die nageslag ook meer vatbaar vir bloutong en inwendige parasiete, maar die diere het intussen weerstand opgebou.

Onderhandeling met telers in oos-Australië is ook aan die gang om saad van Awassi-skape, ‘n besonder geharde Mediterreense ras, in te voer.

Die eerste ooie se F1-nageslag het sy begin melk. Omdat dit min diere was, het mej. Van Aswegen net een kudde gehad om te melk. Met dié ooie se F2-nageslag sal sy twee kuddes (sowat 120 ooie) hê om die hele jaar te kan melk.

By die 50/50-kruising-ooie word nou F1-ramme gebruik wat op grond van hul gemiddelde daaglikse groei van drie weke tot speenouderdom geselekteer is. Alle ander ramlammers word as hamels verkoop.

Die ooie wat gemelk word, word heeltyds op groenvoer aangehou. Daarby kry hulle ook mineraal-aanvullings. As groenvoer nie beskikbaar is nie, word ‘n volvoerprogram gevolg, want veral proteïen en koolhidrate is belangrik vir melkproduksie.

Die voermengsel bestaan uit 20 % soja-oliekoek, 3,75 % melassemeel, 75 % mielies en 1,25 % kalsiumfosfaat met droë lusern en rooigras by.

Wanneer die ooie gelam het, word die lammers dadelik weggevat, die bies uitgemelk en vir die lammers gegee. Die ooie word dadelik gemelk en die lammers kunsmatig grootgemaak. Dit is ‘n praktyk wat in Israel beproef is.

Voorheen is die lam die eerste vyf dae ná geboorte by die ooi gelos. Hulle is saans afgehok en die ooie soggens gemelk. Op twee weke het die lammers lammerkruip en die wei (van die kaasmaakproses) begin kry. Op 35 dae is die lammers gespeen en die ooie daarna twee keer per dag gemelk. Die ooie moes egter met dié praktyk met oksitosien ingespuit word om te verseker dat die melk vrygestel word.

Die voordeel van die Israelse stelsel is dat geen oksitosien ingespuit hoef te word nie – én die melkproduksie is hoër.

‘n Ooi word sowat 180 dae (ses maande) lank gemelk teenoor die 90 dae (drie maande) wat ander rasse in Suid-Afrika gemelk kan word. Die melkproduksie van die verskillende kruisings verskil baie min. Die ooie word twee keer per dag gemelk. Hul gemiddelde produksie is 1,2 kg/dag met ‘n topproduseerder wat 2,5 kg/dag lewer.

Mej. Van Aswegen sê die inkomste uit die skape se melkproduksie is minstens vier keer meer as dié uit wol of vleis. Die bedryf is egter gespesialiseer en aansienlik intensiewer as ander.

Die grootste verskil tussen skaapmelk en bees- en bokmelk is dat skaapmelk feitlik dubbeld soveel vaste stowwe as die ander bevat. Dit maak skaapmelk ‘n besonder winsgewende bron van kaas: Net 4 tot 5 skaapmelk teenoor 10 beesmelk is vir 1 kg kaas nodig.

Dit is die voedsaamste melk beskikbaar. Die enigste ander melk wat daarmee vergelyk kan word, is dié van kamele of waterbuffels.

Die vetinhoud van die skaapmelk, wat byna dubbeld dié van bees- en bokmelk is, is die hoofrede vir die hoë energiewaarde. Die lammers se hoë geboortegewig in vergelyking met die moeder se liggaamsgewig is die rede waarom skaapmelk so ‘n uitsonderlik hoë energiewaarde het.

Melk met ‘n hoë energie- en vitamieninhoud is nodig om vinnig groeiende lammers in die eerste paar weke te onderhou. Ander diere, soos kalwers met ‘n relatief kleiner nageslag met ‘n langer groeitydperk, kan op ‘n dieet met ‘n laer energie-inhoud floreer.

Melkontledings word deur die LNR gedoen en die rekenaarprogram moes spesiaal vir melkskape aangepas word. Die gemiddelde syfers vergelyk goed met internasionale statistieke. Wat die proteïen- en laktose-inhoud betref, is dit selfs hoër as die wêreldwye syfers, wat onderskeidelik 5,6 % en 4,7 % is. Op Patria is al 12,7 % bottervet, 8,28 % proteïen en 5,83 % laktose aangeteken.

Mej. Van Aswegen sê skaapmelk se bottervetinhoud wissel heelwat in die laktasietydperk. Daarom is tipiese ontledings nie noodwendig besonder betroubaar nie. In die eerste maand van laktasie is die samestelling armer, maar die vetinhoud en totale vaste stowwe vermeerder soos wat die laktasietydperk verloop. Teen die einde van die laktasietydperk kan die vetinhoud tot meer as 10 % styg, wat probleme in die kaasmaakproses kan meebring.

Die proteïen bevat, net soos beesmelk, ál die nodige aminosure. Die hoër laktose is ‘n goeie bron van energie wat veral onder sportlui gewild is weens maklike verteerbaarheid en die hoë energie-inhoud .

Wanneer kaas gemaak word, is die grootte van die vet-globules (deeltjies) in die melk belangrik. As die vet in die wrongel moet agterbly, moet die globules verkieslik klein en eenvormig wees. Die tipiese smaak en aroma van skaapmelkkaas is die gevolg van die hoë vetinhoud. Die hoë persentasie baie klein vetglobules bly nie net goed gehomogeniseer in die melk, wat dit beter verteerbaar maak nie, dit bly in die wrongel behoue wat ‘n hoë kaasopbrengs verseker. Danksy hierdie eienskap kan mense wat nie koei- en soms ook bokmelk kan gebruik nie, wel skaapmelkprodukte sonder enige nadelige gevolge gebruik.

In vergelyking met ander melk het skaapmelk ‘n besonder hoë mineraalinhoud, veral kalsium, fosfor en sink. Faktore soos ras, die stadium van laktasie, dieet, tyd van die jaar en weer kan die samestelling van die melk beïnvloed.

Mej. Van Aswegen, wat een van die Vrystaat se Vroueboer van die Jaar-finaliste vir 2002 was, het pas ‘n kontrak met Woolworths gesluit vir die verskaffing van skaapkaas.

Die kaas wat sy maak, is Labneh, ‘n Mediterreense produk. Dit is ‘n baie veelsydige kaas en kan onder meer as ‘n smeer en in slaai en ander geregte gebruik word. Sy maak net eksotiese kaas. Van die bekendste kase wat van skaapmelk gemaak word is Roquefort en Pecorino.

Lesers wat meer inligting
wil hê, kan mej. Van Aswegen bel by 082 412 3787. Haar e-posadres is patria@telkomsa.net

8 November 2002


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.