Die telers van ‘n nuwe skaapras wat pas deur die Registrateur van Veeverbetering goedgekeur is, wil nie met bestaande rasse meeding nie, hulle wil iets nuuts na die vleisskaap-tafel bring. Dís waar die Meatmaster as die enigste haarras sonder vetstert in Suid-Afrika inpas, meen dié telers wat "nuut en anders" dink.

Ekonomiese eienskappe sonder fieterjasies en produksie is die belangrikste eienskappe waarvoor telers van Meatmasters selekteer. Prestasie is dus belangriker as voorkoms, met die beginsel om soveel as moontlik wins te maak met so min as moontlik uitgawes, sê mnr. Clynton Collett van La Rochelle, Bethulie, voorsitter van die Meatmaster-telersgenootskap.

Hy sê Meatmasters vul ‘n leemte in Suid-Afrika as die enigste haarskaapras sonder vetstert.

"Dit is belangrik dat rasstandaarde en seleksiemetodes streng toegepas moet word. Hier dink ons ook nuut en anders. Alles rakende rasstandaarde en seleksiedoelwitte konsentreer net op ekonomiese eienskappe en ons wil dit nie net sê nie, maar ook toepas. "

Die rasstandaarde is eenvoudig. Dit bepaal bloot die ras moet ‘n funksioneel doeltreffende bouvorm hê, dit moet nie nodig wees om die skape te skeer nie, hulle moet veral op die o&euml en ore velpigment hê, moet ‘n nie-vetstert hê wat nie afgesny hoef te word nie, moet neig na poenskop en moet ‘n sterk tropinstink hê.

Dit is nie bladsye vol eienskappe nie, maar alles van ekonomiese belang. Al hierdie eienskappe spaar geld, want dit bespaar arbeid en maak bestuur makliker. Daar is geen ander eienskappe as funksionele doeltreffendheid nie. Die oorspronklike bloedsamestelling is nie so belangrik nie en die kuddeboek sal ook nog lank oop bly.

Collett sê die seleksie van die skape is deel van die rasstandaarde en ‘n belangrike eienskap. Telers gaan dus met kursusse opgelei word hoe om te selekteer vir die eienskappe waaraan die ras moet voldoen. Die rasstandaard sê min oor hoe die skape moet lyk, maar baie oor hoe hulle moet presteer.

Omdat produksie so belangrik is, moet die ooie verkieslik op 12 maande lam, maar beslis voor 18 maande, anders word hulle geprul. Die beginsel geld van 12 maande in die lente, maar ‘n speling tot 18 maande in die herfs. Elke ooi moet elke jaar ‘n lam speen, anders word sy geprul – selfs al was haar lam die prooi van roofdiere.

Ooie moet lammers speen wat op ‘n slaggewig van tussen 12 kg en 25 kg van die ma af geslag kan word. Die speengewig hang af van die gebied waarin geboer word. Drie tipes gebiede word onderskei. In die verre westelike gebiede moet lammers tussen 12 kg en 16 kg uitslag; in die Sentraal-Karoo, Vrystaat en ander gemiddelde skaapgebiede tussen 17 kg en 21 kg, en in die meer intensiewe gebiede 21 kg tot 25 kg. Die ras moet aan die minimum standaarde van die beste grade voldoen en dus teen dié gewigte A2- en A3-graad kan uitslag van die ma af.

Daar word dus toegelaat vir kleiner, vetter Meatmasters vir die dro&eumlr gebiede en groter, meer bespierde Meatmasters vir die natter gebiede. Die doelwit is dus nie om die ras vas te pen nie. Die diere moet net aan die enkele eienskappe voldoen, terwyl produksie ‘n veel groter rol speel as fisieke eienskappe.

Collett sê die minimum produksiestandaarde moet met geen byvoeding en die minimum lekke soos klipsout en fosfaat in sekere gebiede bereik word. Dosering moet beperk wees. Daarom word telers geleer om hul skape grootliks te speen van dosering. Dit hang egter ook van die gebied af. Telers word ook aanbeveel om bosluistellings te doen, aangesien die ras nie daarvoor behandel moet word nie – nog ‘n seleksienorm.

Die genootskap het besluit om twee tipes telers toe te laat. Tipe A-telers hou geen rekords nie en doen nie prestasietoetsing nie, maar word toegelaat om op veilings van die genootskap kommersi&eumlle ramme en ooie te verkoop.

Tipe B-telers is die bopunt van die piramide. Dit is die telers wat die rigting vir die ras neerlê. Hulle moet volledig rekord hou, moet by die Landbounavorsingsraad aansluit en prestasietoetsing doen en mag ook by SA Stamboek aansluit, hoewel dit nie ‘n vereiste is nie. Dié telers lewer stoetramme en -ooie en net hul diere kom in ag vir uitvoer.

Ook wat die skou van skape betref, is met die ras ‘n heel nuwe rigting ingeslaan. Die waarde van skoue én die probleme rakende die skou van skape is in aanmerking geneem sodat teeldoelwitte nie deur skoue benadeel word nie.

Met dit in gedagte is ‘n unieke skoumetode ontwikkel. Daar word net in vier klasse meegeding – junior en senior ooie en ramme. In elke klas sal alle deelnemers se skape afsonderlik in die ring inkom. Die teler kom saam met sy diere in die ring en die beoordelaar bespreek dan die skape met hom en alle belangstellendes. Die diere word dan geplaas en die twee bestes gemerk. Elke teler wat diere in daardie betrokke klas het, sal die geleentheid kry om met sy skape in die ring te verskyn.

Aan die einde van die skou sal elke teler met sy twee beste skape in die ring verskyn saam met die borg vir die kampioenskap.

Die telers besluit dan saam met die beoordelaar watter skaap of skape die beste voorbeeld van ‘n Meatmaster is. Hierdie diere word dan bekroon as die telers se keuse van kampioene en word beskryf as die ideale Meatmaster vir die skou. Daar kan dus meer as een kampioen wees as die skape ewe goed is.

Collett sê die beginsel van die skou is die opvoeding van telers en toeskouers. Dit is dus bevordering van die ras, nie die individu nie. "Op hierdie skou is die skaap die wenner (kampioen), nie die teler nie. "

Met unieke rasstandaarde met ekonomie as grondslag en nuwe standpunte oor skoue meen die Meatmastertelers hulle vul ‘n gaping in die Suid-Afrikaanse kleinveebedryf.

Landbouweekblad, 14 September


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.