Terwyl die debat oor generiese
versus etiese medisyne die bloeddruk steeds opjaag en al wat ‘n medisyneprys is
soos alle ander dinge die hoogte inskiet, blaai ons vandag saam met DR. JAN VAN
ELFEN deur ou kookboeke opsoek na boererate vir diere! Arme diere!

Ou kookboeke het nie net resepte
vir voedselgeregte bevat nie, maar ook huismedisyne vir mens en dier. Mejufvr.
E.J. Dijkman se bekende Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek

(1891) se talle kostelike "Reseppe vir Veesiektes", is ‘n goeie voorbeeld. Volgens die skrywer word blindheid by skape veroorsaak deur ‘n klein wurmpi wat deur die voorste gedeelte van die oog dring. Gemeet aan huidige norme, was sommige van haar rate só wreed dat die diere liefs aan hul lot oorgelaat kon wees.

"Goed was met ‘n oplossing van sout en tabak, of ‘n treksel van stink (wilde oli) blare. Stamp dit fijn, gooi ‘n bitji water op, en druk dit dan deur ‘n lap. Aluin en sout goed fyn gemaal, is oek goed.

" . . . neem ligte blousel en maak dit fijn en gooi daarvan in di oge; dit help wonderlik.

"Neem vo’elstruiseier dop en maal dit fijn en gooi in die skape hulle oge.

"Onder di oog van ‘n skaap is ‘n groot aar; laat di aar bloei en neem van ‘n pijp di as, na jy klaar gerook het; doet dit in di oog van de blinde skaap en jy sal oertuig worde dat dit spoedig sal herstel wees."

Van die rate het ‘n mens se aptyt vir die heerlike kosresepte elders in die boek behoorlik weggeneem. Die ergste? Om ‘n bottelstuk of ander glas fyn te maak en in die arme skaap se oog te gooi!

Beksiekte kon behandel word met aanwendings van suurlemoen, terpentyn of "parafine oli". Vir ‘n lam met bloedpens sou sout op sy tong gewis deug.

Te oordeel na die lang beskrywing van brandsiikte het dit skaapboere baie verliese besorg. Maar sy was oortuig dat alle "behoorlik geprepareerde dip" brandsiekskape en -bokke sou help. Byvoorbeeld: 25 lbs goeie tabak op 100 gellens water of ‘n dip berei van swawel en ongebluste kalk. En "ver enkele bokke, neem twee dele Walvistraan, Reusel of gebrande vet en een deel parafine oli, doet so veul swawel by dat dit ‘n dik smeersel uitmaak . . . "

Me.
Dijkman haal oor gannadip aan uit ‘n brief van ene mnr. Findlay aan die
Wynberg Times
: "Mnr. Editeur, ek wil voor die aandag van jou lesers bring ‘n goedkope en uitstekende dip, wat in die bereik is van alle Karooboere. Die ganna asbos groei op byna elke plaas in Fraserburg, Sutherland, Williston, Carnarvon, Victoria West, Beaufort West, Hope Town, Graaff-Reinet en ander distrikte. Dit is dieselfde plant wat boere brand om as van te kry wanneer hulle boerseep maak en wat hulle loog noem. Ek het dit al di laaste 10 jaar gebruik om skape mee te dip en vind dit net goed."

Sommige boererate vir diere het van radeloosheid gespreek. Vir dikkop by skape kon jy ‘n snytjie onder die keel maak waaruit die water kon syfer. En gekookte dagga, van die soort wat Boesmans en Makatese rook, was "onveilbaar".

Soos vir siek mense was brandewyn dikwels ‘n bestanddeel van boererate. ‘n Mens sou dink dit sal die kwaal vererger, maar dronksiekte by skape is behandel met "1 of 2 ons kamfer, met 1 of 2 wynglase brandewyn".

Geilsiekte was hardnekkig om te behandel. Glorimated kalk, tabakwater, mostertwater, vyf swart pille, een teelepel parafine-oli, Engelse sout en twee teelepels brandewyn kon om die beurt probeer word.

‘n Boer van Petrusville het brandewyn – twee lepels per skaap – "perbeer en goed gevonde" – ook vir "verkleumde" skape.

Vir galsiikte by beeste is aanbeveel ‘n groot koppie sterk koffie wat ‘n lepel buskruid bevat. Vir skape was die dosis kleiner.

Vir hartwater het ‘n "voldoende middel" ontbreek, maar die volgende kon "perbeer" word: "Terpentyn, 1 Gell; Lyn oli, 1 lbs. Meng di deurmakaar. Gee elke skaap ‘n eetlepelvol."

Hondesiekte was nie ‘n probleem nie. ‘n Eetlepel terpentyn met sterk lou melk het dit binne 24 uur genees. En " ‘n bitjie skoon teer agter op die tong hou die hondesiikte te’e."

‘n Half koppie teer, ‘n half koppie lampolie en ‘n half koppie balsemkopiva sou ‘n bees van longsiekte genees. ‘n Mens moes seker net nie ‘n vuurhoutjie naby sy bek trek nie!

Pisgoed ("ver ‘n os wat dit het") was me Dijkman se smaaklike raad: " ‘n Handvol wit wortels saad, met ‘n bitji pimpernel en roosmaryn, met ‘n fles wyn, sterk gekook, ingé." Gelukkige dier!

Vir droes en snotsiekte by perde het goeie raad ontbreek. Die dier moes liefs gou vrek gemaak word.

Maar vir papies by ou Vos kon ‘n bottel menswater en ‘n paar fyngestampte knoffelhuisies vir ‘n paar dae gebruik word.

Die welsyn van volstruise het me. Dijkman nie ontgaan nie. As die voëls sieklik en maer word en harde klonte afgaan, kon klein rooi wurmpies die oorsaak wees. Dit kon behandel word met Carbolsuur – een en ‘n half  ons, Terpentyn 1 do, ongekookte Lynoli 8 do, die mengsel goed geskud "voor ingé".

Voor die koms van moderne veeartsenymiddels het dieresiektes boere seker na strooihalms laat gryp. Dit sal interessant wees om te verneem hoeveel van me. Dijkman se beproefde rate die toets van die tyd deurstaan het en vandag nog gebruik word.

24 Mei 2002


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.