Vooruitskattings raam die
mensdom sal teen 2050 twee aardes nodig hê om in al sy hulpbronbehoeftes te kan
vooorsien.

Die lewe soos wat ons dit ken, sal in die jaar 2030 heeltemal verskil van dit waaraan ons gewoond is. Lewenstandaarde en menslike ontwikkeling sal dan begin tuimel as die mensdom nie ophou om meer natuurlike hulpbronne te gebruik as wat die aarde kan vervang nie.

Dié donker prentjie word deur die Wêreldnatuurfonds (WWF) se nuutste Living Planet-verslag geskets. Dié verslag toon dat die mens tans die planeet se herwinbare natuurlike hulpbronne met 20 % oorbenut. Hierdie syfer styg elke jaar.

Volgens vooruitskattings wat op waarskynlike scenario’s van bevolkingsgroei, ekonomiese ontwikkeling en tegnologiese verandering gegrond is, kan hierdie oorbenutting teen 2050 tot 120 % beloop.

Volgens die verslag het die aarde sowat 11,4 miljard hektaar produktiewe grond- en seeruimte, ná woestyne, die diep-see en yskappe buite rekening gelaat is. Dit verteenwoordig 1,9 hektaar grond vir elk van die wêreld se sowat 6 miljard mense, terwyl die globale "ekologiese voetspoor" in 1999 op 2,3 hektaar per persoon gestaan het.

Dié voetspoor is ‘n maatstaf wat die WWF ontwikkel het om die verbruik van herwinbare natuurlike hulpbronne deur die mensdom, ‘n streek of ‘n land te meet. ‘n Land se ekologiese voetspoor is die totale produktiewe grond- en seeruimte wat nodig is om al die gewasse, vleis, seekos, hout en vesels wat hy gebruik, te produseer, sy energieverbruik vol te hou en ruimte vir sy infrastruktuur te skep. Dit sluit ook gewasse in wat verbou word om diere te voer waarvan die vleis, melk of eiers verbruik word. Die vleis van beeste wat in die veld loop, is nie hierby ingesluit nie.

Die totale ekologiese voetspoor vir ‘n gemiddelde Afrikaan was minder as 1,4 hektaar in 1999, terwyl dié van ‘n Suid-Afrikaner sowat vier hektaar beloop het. Dié van ‘n gemiddelde Noord-Amerikaner was sowat 9,6 hektaar.

Suid-Afrika se voetspoor van 0,66 hektaar per persoon oorskry die land se gewasgrond-biokapasiteit van 0,6 hektaar per persoon en is meer as die sowat 0,53 hektaar per persoon wat wêreldwyd beskikbaar is.

Suid-Afrika se weiveldvoetspoor beloop 0,27 hektaar per persoon, wat binne die land se biologiese vermoë van 0,93 hektaar per persoon is en gelyk is aan die geraamde globale vermoë. Hierdie voetspoor is die oppervlak wat nodig is om ‘n land se vleis, melkprodukte, huide en wol te voorsien wat afkomstig is van diere wat nie gevoer word nie, maar in die veld wei.

Hoewel die mensdom se weiveldvoetspoor 0,12 hektaar per persoon beloop, wat die helfte minder is as die aarde se geraamde vermoë, het dit kommerwekkend van 0,41 miljard hektaar in 1961 tot 0,73 miljard hektaar in 1999 gestyg. Dit het hoofsaaklik ten koste van woude plaasgevind.

Die energievoetspoor was die komponent van die globale ekonomiese voetspoor wat tussen 1961 en 1999 die vinnigste gegroei het – meer as 2,6 % per jaar. Dit is die oppervlak wat nodig is om ‘n land se energieverbruik vol te hou. Suid-Afrika se energievoetspoor van 2,45 hektaar per persoon is meer as dubbeld die globale energievoetspoot van 1,12 hektaar per persoon.

Wêreldwye waterverbruik het van 1960 tot 2000 verdubbel, in pas met die verdubbeling in die wêreldbevolking in dié tyd. Natuurlike ekostelsels wat water help bewaar en watergehalte verbeter, het weens ontwikkeling agteruitgegaan. Besoedeling weens landbou- en nywerheidsbedrywighede en munisipale riool en die verbrakking van water weens besproeiing het die beskikbaarheid van veilige varswater verder verminder.

Die gebiede wat nodig is vir die produksie van houtprodukte en visse en seekos het ook van 1961 tot 1999 skerp gestyg.

Die mens kan hierdie oorbenutting tydelik volhou deur van die aarde se `’kapitaalvoorrade", soos woude, vis en vrugbare grond, te gebruik en sy oorproduksie koolsuurgas in die atmosfeer te stort.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat die aarde vir nóg 50 jaar ekologiese oorbenutting sal kan deurstaan sonder erge ekologiese teenreaksies wat toekomstige bevolkings- en ekonomiese groei sal ondermyn.

Die enigste oplossing is om binne die biologies produktiewe vermoë van die aarde te lewe.

Die WWF se Living Planet-indeks, wat gegrond is op die getalle van honderde soorte soogdiere, visse, voëls, reptiele en amfibië, toon reeds duidelik dat die huidige menslike verbruiksdruk op die planeet onvolhoubaar is.

Die afgelope 30 jaar het die indeks met sowat 35 % gedaal. Die grootste daling het by varswaterdiersoorte voorgekom. Die getal van 195 soorte in riviere en vleiland-ekostelsels het met gemiddeld 54 % afgeneem. Seediersoorte is ook onder ernstige druk, met ‘n gemiddelde daling van 35 % in die getal van 217 soorte. Die bevolkings van 282 wouddiersoorte het met 15 % gedaal.

Volgens dr. Claude Martin, direkteur-generaal van die WWF, stel die feit dat die mens op ‘n oorvloedige, maar uitputbare planeet leef, ‘n groot uitdaging aan wêreldleiers wat die Wêreldberaad op Volhoubare Ontwikkeling in Johannesburg bywoon.

"Die versekering van toegang tot basiese hulpbronne en die verbetering van die gesondheid en lewensbestaan van die wêreld se armste mense, kan nie afsonderlik van die instandhouding van die integriteit van natuurlike ekostelsels opgelos word nie. Tensy ons die gesondheid van daardie ekostelsels verseker, sal ons nooit ‘n aanvaarbare lewenstandaard vir ‘n groot deel van die wêreld se bevolking kan verseker nie," sê dr. Martin.

Mnr. Jonathan Loh, skrywer van die verslag, sê die WWF weet nie presies wat die gevolge sal wees van die mens se grootskaalse oorbenutting van die aarde se hulpbronne nie. Wat volgens hom wel duidelik is, is dat dit vir die mens beter is om sy eie lot te bepaal as om dit aan die toeval oor te laat.

Die WWF glo regerings kan sommige van die slegte neigings omswaai, deur ‘n beter manier te kry om goedere en dienste te vervaardig.

Mense moet hulpbronne meer doeltreffend gebruik en die groot gaping in die verbruik tussen lande met hoë inkomste en dié met ‘n lae inkomste moet reggestel word. Bevolkingsgroei moet beheer word deur die bevordering van onderwys en gesondheidsorg wêreldwyd.

Laastens is dit noodsaaklik om natuurlike ekostelsels te beskerm, te bestuur en te herstel om die aarde se biologiese produktiwiteit tot voordeel van die huidige en toekomstige geslagte te bevorder.

16 Augustus 2002


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.