Afrika se bevolkingsgroei ’n probleem

Deur Alani Janeke
18 Junie 2013
Daar is kommer oor ekonomiese groei, groen ekonomiese beleid en die groei van Afrika se bevolking.

Daar moet ’n fyn balans tussen groen ekonomiese beleidsrigtings en ekonomiese groei in die wêreld gehandhaaf word. ’n Paneel van Duitse professore en ekonome het die uitdagings en moontlike oplossings daarvan tydens die sesde Global Media Forum in Bonn, Duitsland, bespreek.

Een van die uitdagenste kwessies oor die tema is die feit dat baie lande dit anders benader. Mnr. Wilfried Kraus, ’n adjunk- direkteur-generaal van die Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing in Duitsland, sê voor die kwessie enigsins aandag in ontwikkelende lande geniet, moet die kwessie van korrupsie en demokrasie in daardie lande eers aangepak word.

“Voor ons van dié lande kan verwag om ‘groener’ te leef, moet grootskaalse politieke en sosiaal-ekonomiese kwessies dalk eers aandag geniet,” aldus Kraus.

Ekonomiese welstand en populasie
’n Kwessie wat algemeen aanvaar moet word, is die feit dat almal in die samelewing groter inkomstes wil hê en vorentoe wil beweeg, sê prof. Rudi Kruz, ’n professor in ekonomie aan die Universiteit van Pforzheim. “En om dit te bereik is groei nodig; dit moet wel net verantwoordelike groei wees.”

Op ’n vraag of bevolkingsgroei in ontwikkelende lande moontlik beheer moet word in ’n poging om menslike bestaan op die aarde te steun, sê Kraus gebrekkige geboortebeperking in Afrika is ’n probleem.

“Met swak infrastruktuur, swak landboubedrywe en beperkte hulpbronne in Afrika is swak geboortebeperking een van die grootste probleme in Afrika,” aldus Kraus.

Volgens Kruz het die debat oor groen ekonomie reeds 300 jaar gelede in die Duitse bosboubedryf begin. Hy en Kraus meen dit is moeilik om te takel, aangesien elke verbruiker ’n ander keuse oor kragverbruik maak. Duitsland se verbruik van fossielbrandstof moet teen 2050 met 50% daal as deel van die land se poging om ’n algemene klimaatstyging van 2 °C teen te werk.

* Alani Janeke woon die Global Media Forum in Bonn, Duitsland, by as gas van Deutsche Welle.

Byskrif: Sowat 1500 afgevaardigdes neem aan die GMF 2013 deel. Foto: Alani Janeke


Lewer Kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.